SAR hoop op vrede

Deel op

Verkiesingsbeamptes het begin om die stemme te tel nadat kiesers in die Sentraal-Afrikaanse Republiek in verkiesings wat eers uitgestel is, vir die wetgewende liggaam en die president gestem het.

Die hoop is uitgespreek dat ’n einde aan die ergste sektariese geweld sedert die land se onafhanklikwording in 1960 nou gemaak sal word, het AFP berig.

Die stemmery het onder streng veiligheidsmaatreëls plaasgevind met duisende vredesbewaarders van die Verenigde Nasies wat landwyd ­ontplooi is. Sover vasgestel kon word, het die verkiesings vreed­saam verloop.

Die eerste amptelike uitslae word nie vir etlike dae verwag nie.

Anicet Georges Dologuele, ’n 58-jarige voormalige bankier van die sentrale bank, wat as “Mnr. Skoon” bekend staan vir sy pogings om deursigtigheid in die deurmekaar openbare finansies teweeg te bring, het in die eerste ronde van die presidentsverkiesing op 30 Desember 23,78 persent van die stemme op hom verenig.

Sy naaste teenstaander, Faustin Archange Touadera, ’n voormalige wiskunde professor, ook 58 jaar oud, wat as ’n onafhanklike kandidaat gestaan het, het vir ’n verrassing gesorg en 19,4 persent van die stemme ingepalm.

Kiesers het ook in ’n herverkiesing vir die wetgewende vergadering gestem nadat die aanvanklike verkiesing, wat ook op 30 Desember gehou is, ongeldig verklaar is ná talle onreël­matighede aan die lig gekom het.

Altesaam 1 800 kandidate ding mee om 105 setels in die Nasionale Vergadering.

Die Sentraal-Afrikaanse Republiek se mees onlangse bloedvergieting is begin nadat die bewind van die ­veteraanpresident, Francois Bozize, ’n Christen, in Maart 2013 deur hoofsaaklik Moslem Seleka-­rebelle omvergewerp is.

Die staatsgreep het ’n reeks vergeldingsaanvalle deur Christen “anti-balaka” (anti-kapmes) milisies en Moslem-rebelle meegebring. Duisende mense is dood en ongeveer ’n tiende van die land se 4,8 miljoen inwoners, het op die vlug geslaan.

Sowel Dologuele as Touadera is Christene.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.