Johannes (Johan) Martinus Mostert van die plaas Swartmodder in die Otjiwarongo-distrik is die eerste mens in die geskiedenis van Namibië wat ingevolge die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Terroriste- en Proliferasie-aktiwiteite (Wet No.4 van 2014) aangekla is.
Mostert het Donderdag in die landdroshof op Otjiwarongo verskyn en is ingevolge artikel 17 (1a en 1b) van dié wet aangekla.
“Hy is die eerste mense ooit in die geskiedenis wat op dié klag teregstaan,” het staatsaanklaer, Lewis Chigunwe gesê.
Artikel 17 verwys na ’n oortreding wat verband hou met wapens en ’n oortreder wat hieraan skuldig bevind word, kan lewenslange gevangenisstraf in die oë staar.
Kortom verwys artikel 17 (1) na enige persoon, in of buite Namibië, met die bedoeling om enige omgewingskade, ekonomiese of sosiale terreur teweeg te bring, of enige regering, liggaam of instelling te intimideer of te dwing om politieke, godsdienstige of ideologiese standpunte te aanvaar of te verwerp deur ’n wapen te gebruik, of dreig om te gebruik, met die opset om mense dood te maak, te beseer of te infekteer, insluitende ’n stelsel wat ontwerp, aangepas of van voorneme is om so ’n wapen te lewer.
Dit is teen die wet om so ’n wapen teen ’n Namibiese burger of ’n regmatige inwoner van Namibië te gebruik, ongeag of die persoon in of buite Namibië bly.
Mostert verskyn op hierdie klag asook vyf ander: Die besit van ammunisie sonder ’n permit, die besit van vuurwapens sonder ’n permit, die besit van handgranate sonder ’n permit, die oortreding van die Wet op Plofstof en die besit van plofstof vir private gebruik sonder ’n permit.
Volgens die polisie het Mostert semi-outomatiese aanvalsgewere, jaggewere, handgranate en sowat 10 000 patrone in sy besit gehad asook verskeie uniforms van PLAN, Unita, die MPLA, Koevoet, SWATF, die Namibiese polisie en weermag.
Die beskuldigde bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 29 Maart.
Bron: Republikein