Zuid-Afrikahuis heropen in Amsterdam

Deel op

Die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam heropen vanaand, ná verbouings wat meer as ’n jaar geduur het.

Die bekende baken huisves die grootste Suid-Afrikaanse biblioteek in Europa en ’n skat aan argiefmateriaal wat veral verband hou met die Nederlands-Suid-Afrikaanse betrekkinge en wat teruggaan tot die Eerste Vryheidsoorlog en selfs vroeër.

Die eerste Nederlands-Suid-Afrikaanse organisasie het sy intrek in 1917 in dié huis geneem.

Die Zuid-Afrikahuis is gevestig in ’n tipiese gragtehuis aan die Amsterdamse Keizersgracht. Die voorste deel van dié huis is gebou in 1620, tydens die Hollandse “Goue Eeu”; die agterhuis het ongeveer 1800 bygekom.

Daar was sprake van dat die huis aan die Keizersgracht verkoop sou word en dat die boeke en argiewe oor verskillende universiteitsbiblioteke versprei sou word.

Maar dié planne om Zuid-Afrikahuis te verkoop het tot groot ongelukkigheid gelei, sowel in Nederland as in Suid-Afrika.

Koos Bekker van Naspers het ingegryp om die huis te red.

Afrikaanse taalklasse en leeskringbyeenkomste word in die gragtehuis gehou.

Benewens lesings, boekbekendstellings, filmvertonings, debatte en kleinskalige musiek- en dramavertonings sal poësievoorlesings ook gehou word. Daar is ’n bestuurder aangestel – Isabelle Vermeij – om hierdie byeenkomste te organiseer.

In April sal enkele onderdele van die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam ook by die Zuid-Afrikahuis plaasvind, soos ’n poësiewerkswinkel met Antjie Krog, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en die Nederlandse kletsrymers van Poetry Circle Nowhere, ’n dramawerkswinkel met Nicola Hanekom en ’n gesprek oor “Kaaps-Maleise” kos met Cass Abrahams.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.