Namibiër middelpunt van pers rasherrie

Deel op

‘n Bekende Namibiese stoetboer en ortodontis, dr. Joggie Briedenhann, se dogter is vasgevang in die absurde en kwaadwillige pers rasherrie op Stellenbosch.

Briedenhann het uit Stellenbosch gesê dit is betreurenswaardig dat Poekie, en ‘n koshuismaat op die Matie-kampus, Jo-Anne Cloete, hulself in die situasie bevind.

“Dit is jammer dat dit moes gebeur. Ons hier in Namibië leef in ander tye en beleef rasseverhoudinge anders as in Suid-Afrika.

Die twee vrouestudente is deur die Universiteit van Stellenbosch (US) uit die Heemstede dameskoshuis geskors ná hulle hul gesigte vir ’n sterreruim-koshuispartytjie pers geverf het.

Die getalarm drukgroep, Open Stellenbosch (OSB), wat hom vir die transformasie van die US beywer, het die onmiddellike en onvoorwaardelike skorsing van Briedenhann en Cloete sowel as die huiskomitee en huismoeder van die koshuis geëis. Hulle is van “blackface” beskuldig toe foto’s van Briedenhann en Cloete op sosiale media platforms gedeel is.

Briedenhann, het kort ná die voorval op Facebook geskryf dat sy en ’n vriendin hulle bloot vir die partytjie donkerpers geverf en met blinkers bedek het en nie met swart mense die gek probeer skeer het nie.

Die groep het egter Maandag in ‘n verklaring vir die twee studente om verskoning gevra en gesê die situasie is misverstaan, maar hul verskoning weer kort daarna teruggetrek.

“Ons besef dat die voorval nie meer algemeen deur die media as ’n geval van ‘blackface’ aanvaar word nie. Ons hou egter vol die feit dat die student ’n filter op die foto geplaas het sodat dit swart lyk, en dit willens en wetens op sosiale media geplaas het, dit wel ’n geval van ‘blackface’ maak,” het die groep in ’n verklaring gesê.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor, het in ’n brief aan personeel en studente gesê die universiteit het ’n verantwoordelikheid om die saak te ondersoek.

“Die ondersoek moet plaasvind sodat al die feite voorgelê en deeglik oorweeg kan word. Die proses is in werking gestel met die skorsing van die twee studente uit hul koshuis terwyl die ondersoek aan die gang is.”

De Villiers sê dat die skorsing van die studente hangende ‘n ondersoek standaard praktyk is en dat dit nie gelykstaande aan ‘n skuldbevinding is nie.

Dit is duidelik dat De Villiers geswig het voor die opsetlik kwaadwillige vertolking van die twee se optrede.

Hy het in ‘n verklaring die flou verskoning voorgehou dat die universiteit nie ‘n afgesonderde “enklawe” is wat van die res van Suid-Afrika geïsoleer is nie.

“Ons maak deel uit van die res van die samelewing. In die lig van ‘blackface’- voorvalle aan die US en by ander universiteite in 2014, en die negatiewe impak wat dit gehad het, neem ons sulke bewerings ernstig op,” lui sy verklaring.

Dr. Briedenhann het minute voordat hy saam met ander betrokkenes om 13:30 ‘n vergadering met De Villiers sou hê, in ‘n kort telefoniese onderhoud die voorval betreur en onderneem om die gesprek na afloop daarvan voort te sit. Teen druktyd het hy laat weet die vergadering duur steeds voort.

Bron: Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.