Suid-Afrikaners min gepla oor Nkandla

Deel op

Minder as die helfte Suid-Afrikaanse volwassenes meen Nkandla is ‘n las op belastingbetalers, ten spyte van ‘n ongekende media-aanslag om hulle van die teendeel te oortuig.

In Oktober verlede jaar het Ipsos dié peiling gehou waarin 3617 mense geraadpleeg is of “President Jacob Zuma die reg het op ‘n privaatwoning, ongeag die koste vir die belastingbetaler”.

In April verlede jaar het net ‘n derde van die respondente gedink dis verkeerd dat Nkandla uit die belastingbetaler se sak befonds word. Tweederdes kon geen fout daarmee vind nie.

Uitspraak is intussen in die Grondwethof voorbehou oor die Nkandla-kwessie waar ‘n saak oor die magte van die Openbare Beskermer aangehoor is.

President Jacob Zuma se regsverteenwoordiger, Jeremy Gauntlett het vroeër in ‘n verrassende wending in die Grondwethof aangevoer dat die Openbare Beskermer se verslag oor Nkandla, bindend is.

Die president het voorheen volgehou dat die verslag oor veiligheidsopgraderings aan sy woning bloot aanbevelings bevat.

Gauntlett sê die president het van sienswyse verander, nadat die Appèlhof verlede jaar die openbare beskermer se magte in die saak van die SAUK se bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng bevestig het.

Gauntlett het ook gesê die minister van polisie, Nathi Nhleko het verkeerd opgetree deur ‘n verslag wat die president vryspreek, saam te stel.

Die regsverteenwoordiger vir die Speaker van die Nasionale Vergadering het in die hof erken dat die openbare beskermer, Thuli Madonsela se verslag oor Nkandla nie geïgnoreer moes word nie.

Adjunk regter-president Dikgang Moseneke sê Lindi Nkosi-Thomas het verskeie voorleggings gemaak wat mekaar weerspreek.

Nkosi-Thomas het ook aan die hof gesê die parlement het al die verslae oor Nkandla asook die huidige wetgewing oorweeg.

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het gesê sy laat dit aan die tesourie oor om die bedrag vas te stel wat President Jacob Zuma vir opgraderings aan sy woning op Nkandla sal moet terugbetaal.

Madonsela sê alle nie-noodsaaklike kenmerke moet in ag geneem word. Sy het vyf items in haar verslag genoem.

Sy sê dit sal billik wees om daarmee te begin, maar dat die verslae van die Spesiale Ondersoekeenheid en die ministeriële taakspan ook betrek moet word.

Die DA het Dinsdag bewerings deur President Zuma se regspan ontken dat hulle die Grondwethof genader het om die weg vir ‘n staat van beskuldiging teen die president te baan.

Die EFF en die DA wil hê dat die hof moet beslis dat die president en die parlement teen die grondwet opgetree het deur nie die aanbevelings in die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag toe te pas nie.

Die hof het egter reeds gehoor dat President Zuma nou aanvaar dat haar aanbevelings oor terugbetalings bindend is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.