Establishment-nagmerrie: Trump & Sanders wen ver in New Hampshire

Deel op

Die Amerikaanse politieke establishment is vanoggend vroeg in Suid-Afrikaanse tyd tot in sy fondamente toe geskud toe die twee aweregse, onafhanklike kandidate van beide die Republikeinse en die Demokratiese Partye hul kandidaatsverkiesings in die staat New Hampshire gewen het. Donald Trump het die res van die Republikeinse span ver in die stof agtergelaat, met 34 persent van die stemme teenoor die naaswenner John Kasich se 16 persent.

Mev. Hillary Clinton het reeds toegegee dat sy deur die verlinkse Demokratiese kandidaat, Bernie Sanders, geklop is. Sanders het ‘n beraamde 60 persent van die stemme ontvang, teenoor mev. Clinton se 40 persent.

Die geldmag in die VSA steun óf mev. Clinton óf senator Marco Rubio in die Republikeinse kamp. Rubio het egter Saterdag baie swak in ‘n TV-debat gevaar toe hy skerp deur mnr. Chris Christie aangeval is. Christie, die goewerneur van die deelstaat New Jersey, is insgelyks ‘n aanspraakmaker op die Republikeinse kandidatuur.

Republikeinse kandidate wat groot geld aan reklameveldtogte in die media bestee het, het swak gevaar. ‘n Joernalis van die Weekly Standard, Stephen Hayes, het die volgende bedrae op Twitter bekendgestel.

Die links-liberale webblad, The Huffington Post, het namens die linkse Amerikaanse media die toon aangegee toe hy Donald Trump in sy opskrif as ‘n “rassistiese, seksistiese, xenofobiese demagoog” beskryf het.

In die Afrikaanse hoofstroommedia wat deur die links-liberale Naspersgroep oorheers word, is Trump insgelyks tot dusver as ‘n nar voorgestel wat nie ernstig opgeneem behoort te word nie. Misleide lesers van dié groep se Netwerk24-webblaaie en koerante gaan waarskynlik vanoggend in hul ontbytkoffie stik as hulle agterkom dat die “buitestaander” wat die joernaliste afkraak, die New Hampshire-kandidaatsverkiesing gewen het.

Lees ook die berig op ons Engelse webblad vir meer inligting:
Establishment stunned: Big wins for Trump and Sanders in New Hampshire

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.