TV-‘dokument?r’ oor grensoorlog is suiwer kommunistiese propaganda

Image"Dokumentêre" TV-programme oor die grensoorlog wat soos varkmasels uitslaan, het deel van die tekens van ons tye geword.

Die jongste, 'n program oor die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se aanslag op Cuito Canavale in Angola in 1988, is op 2 Desember vanjaar op SABC1 uitgesaai. Die program bevat elke slegte eienskap van deeglike kommunistiese propaganda ten gunste van die ANC-regime, die politieke meesters van die SAUK.

Dit is tragies dat die enigste verdediger van die ou SAW die besadigde genl. Jannie Geldenhuys was, wat met sy militêre gegewens en syfers vergeefs probeer bewys het dat die SAW wel die beste daaraan toe was.

'n Paar weke gelede het dit rugbaar geraak dat MNet ook 'n program oor die grensoorlog gaan uitsaai. Die programmakers in daardie geval is 'n TV-joernalis met oorbekende linkse simpatie, Ruda Landman, en ene Linda de Jager. Met die rugbaar raak van die feit dat dié program gemaak is en dat die ou SAW daarin met die teerkwas bygekom word, het genl. Geldenhuys ook wal gegooi oor die eensydigheid en wel ten gunste van wat breedweg vandag as die kommunistiese regeerders van Suider-Afrika bestempel kan word, wat in die programme openbaar word.

Dat 2 Desember se program op Special Assignment eensydig is, sal elke objektiewe waarnemer beaam. Genl. Geldenhuys, die stem roepende in die woestyn, se aandrang dat die beweringe ten gunste van die kommuniste aangedik is, het die ding eintlik net nog skewer laat lyk.

In die program was 'n sekere David van Wyk, 'n beweerde bevelvoerder van 'n SAW-peloton wat in die Slag van Cuito Canavale ontplooi was, telkens aan die woord. Dat Van Wyk 'n grief teen die SAW het, was duidelik. Die destydse Inligtingsdiens van die SAW het volgens hom sy broer, 'n digter, aangehou en gemartel, in so 'n mate dat hy twee weke bewusteloos was.

Van Wyk het nie 'n hoë dunk van sy voormalige kamerade se gevegsvermoëns nie. Hulle was glo meestal pas uit die skool, so 18 jaar oud. Hul Boesman-spoorsnyers sou, so lei 'n mens af, geskikter kandidate gewees het om die stryd te lei weens hulle langduriger blootstelling aan oorlog. Hierdie seuns het uit gemaklike omstandighede gekom, uit middelklashuise waar hulle grootgemaak is deur swart huisbediendes en waar dit hul tydverdryf was om na die radio en plate te luister.

'n Tweede woordvoerder van die MPLA-magte was 'n bruinman wat in die ANC se Umkhonto we Sizwe was. As Van Wyk nie sy haat jeens die SAW kon wegsteek nie, kon hierdie man dit nog minder regkry.

In die beeldmateriaal is 'n landmynbesaaide pad naby Cuito getoon, ook 'n opgeblaaste padbrug (oor die Lombo-rivier?) en 'n paar nou skielik baie beroemde bevelvoerders aan die kant van die gekombineerde Kubaanse en MPLA-magte (nie 'n woord oor Russiese betrokkenheid word gerep nie).

Dat die "bevryde" Angola nie veel munt uit sy vryheid kon slaan nie, is duidelik. 'n Olifant-tenk, op dieselfde plek en in waarskynlik presies dieselfde posisie as waarin die SAW-soldaat dit in sy vlug gelaat het, is vertoon. Van die "bevryde" Suid-Afrika sou 'n mens minstens dit kon sê: daardie Olifant-tenk sou lankal, stukkie vir stukkie en moertjie vir moertjie as dit moet, na 'n skrootwerf aangedra gewees het.

Die karakters in hierdie sepie is saam met 'n klomp swart en bruin kinders na 'n herdenkingsgeleentheid in of naby Cuito gebring. Hier was Suid-Afrika se heersende Groot Kommunis en op sy dag self groot bevelvoerder van MK, Jacob Zuma, aan die woord.

Tydens hierdie insetsel is verwys na 'n soortgelyke grootpraatgeleentheid (in Windhoek?) waar die vermaarde "vryheidsvegters" van Swapo vereer is. 'n Mens kan maar net wonder hoeveel oud-SAW-soldate tydens hierdie parades vlae en wimpels ter ere van hul eertydse terreur-teenstanders dra.

Die skryfster van 'n Engelse boek, Jacqui Thompson, word gebruik om te verduidelik waarom daar geen SAW-lede is om hul kant van die saak in die program te stel nie (behalwe genl. Geldenhuys). Volgens haar kon sy self beswaarlik sulke oudstryders vir haar boek bymekaar skraap omdat hulle glo die politici het hulle verraai.

Pik Botha, vandag 'n ingeskrewe lid van die ANC, pryk in sy hoedanigheid as destydse Minister van Buitelandse Sake in die program, asook Chester Crocker, destydse Amerikaanse onderminister van buitelandse sake belas met Afrika. Crocker het saam met Botha die "vrede" met die kommunistiese magte bewimpel.

Suid-Afrika se militêre en politieke betrokkenheid by Angola, nadat die Portugese hulle in 1975 aan hul Afrika-kolonies onttrek het, was van meet af aan onder 'n wolk van verdenking. (Sommige waarnemers meen selfs die Vorster-bewind was betrokke by die gewelddadige bewindsverandering in Portugal.)

Hierdie verdagte politiekery van die regerings van John Vorster en P.W. Botha het waarskynlik uit die staanspoor verdeeldheid in die bevelstrukture van die ou SAW veroorsaak. En dit was reeds 'n weermag van botsende belange weens die verdagte lojaliteit van 'n groot groep van die Engelstalige deel van die blanke bevolking.

Militêre en politieke aanloop tot Cuito

Ná Operasie Askari (einde 1983/begin 1984) is die sogenaamde Lusaka-ooreenkoms in Februarie 1984 onderteken ingevolge waarvan Suid-Afrika sy soldate aan Angola sou onttrek en Swapo onderneem het om nie sy terroriste in die skoongemaakte gebied te ontplooi nie. 'n Sogenaamde kommissie sou toesien dat die ooreenkoms nagekom word.

Die SAW het gou agtergekom Swapo verbreek die ooreenkoms, maar voortgegaan met die onttrekking van sy magte. In April 1985 is aangekondig dat alle SAW-lede uit Angola padgegee het.

In Mei 1985 word twee SAW-soldate naby Cabinda, waar olie ontgin word, doodgeskiet en kapt. Wynand du Toit gevange geneem. Die onderhandelinge word opgeskort ná 'n verklaring van kapt. Du Toit dat hulle Cabinda binnegesypel het om die olie-installasies te saboteer.

In September 1985 doen Angolese soldate 'n hewige aanval op Unita met die doel om die beweging se hoofkwartier op Jamba in te neem. Meer as honderd MIG-vegvliegtuie en 125 Russiese en Franse helikopters is deur die MPLA-magte in dié aanval ontplooi.

In Augustus 1987 begin 14 Kubaanse en Angolese brigades onder Russiese bevel met hul grootste aanval nog teen Unita. Die SAW het Unita te hulp gesnel, ook met tenks, die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat Suid-Afrika tenks in 'n veldslag inspan.

Die twee magte het net noord van Mavinga teen mekaar te staan gekom in wat bestempel word as die grootste militêre stryd nog in Afrika suid van die Sahara.

Die Angolese het hulle by Cuito ingegrawe en die SAW se verbete aanslag afgeslaan. Dit word toegeskryf aan die doeltreffender lugsteun waarop die MPLA kon staatmaak.

Die SAW was blykbaar ook nie bereid om meer as 300 soldate op te offer om Cuito in te neem nie.

Die ontleder M. du Toit skryf in Die Afrikaner van 9-15 Mei 1997 die volgende hieroor: "Die feit dat die SAW nie Cuito ingeneem het nie, word deur vyande vertolk as dat die Angolese die oorlog gewen het. Dit is egter nie waar nie. In die geval van Cuito is die Suid-Afrikaanse soldate nooit teruggedryf nie en hul verliese was maar net 'n fraksie van dié van die Angolese. Dit is wel waar dat Suid-Afrika die oorlog teen Swapo en die ander swart kommunistiese magte in Angola oortuigend kon gewen het indien:

  • Suid-Afrika hom nooit teen die einde van 1975 aan Angola onttrek het nie;
  • Suid-Afrika tussen 1978 tot 1983, toe die oorlog nog nie volskaals aan die gang was nie, werklik vir Swapo en die ander kommunistiese magte wou verslaan en nie net 'n 'nie-wen'-oorlog teen hulle wou voer nie."

Volgens hom was Cuito nietemin 'n keerpunt in die stryd teen die swart kommunistiese magte.

Ongelukkig is daar niemand buiten genl. Geldenhuys wat die moed van hul oortuiging het om bogenoemde beweringe te staaf nie.

'n Mens mis veral konserwatiewe politieke ontleders se reaksie op die hoë aansprake van die ANC en die swart regerings van die lande wat betrokke was. Die meeste van die politici wat destyds as gaste van die SAW in die operasionele gebied ontvang is en insae in die stryd gegee is, is soos Pik Botha is salige ANC-lede. Of bloot net saliger. Dood.

Natuurlik is dit ook wensdenkery dat die SAUK of M-Net (wat blykbaar ook 'n dokumentêr oor die grensoorlog gaan uitsaai) sulke konserwatiewe woordvoerders die geleentheid sal gee om hul menings te lug.

Die Afrikaner kan maar net hoop dat die waarheid so teen vyf kilometer per uur, die pas waarteen 'n mens loop, sal versprei. Dít is ná alles ook die betroubaarste wyse van inligting oordra. So, teen vyf kilometer per uur, is die Evangelie verkondig.

'n Mens kan net hoop dat die ou SAW-lede nie teenoor hul huisgenote en familie, veral die jonger geslag, sal swyg oor die gewapende stryd teen kommunistiese oorheersing en oor wat by Cuito gebeur het nie.

Dit is 'n verhaal wat vertel móét word, ondanks die politici wat hulle so skandelik in die steek gelaat het.

бурение скважин зимойпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.