ANC-SAKP-bewind vervolg veiligheidspolisie uit NP-dae

Kerstraatbomtoneel
Deel op

Terwyl die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty self duisende misdade gepleeg het, waaronder internasionale terreur, het die nasionale vervolgingsgesag so pas aangekondig dat die veiligheidspolisie van Soweto van “moord” op ‘n ANC-vroueterroris, Nokuthula Simelane, aangekla gaan word. Simelane was glo lid van die ANC-SAKP se terreurorganisasie Umkhonto we Sizwe wat onder andere vir die Kerkstraat- en Amanzimtoti-bomme verantwoordelik was.

Die nasionale vervolgingsgesag (NV) het gister aangekondig dat vier veiligheidspolisiemanne – waaronder drie wat kwytskelding van biskop Tutu se Waarheidskommissie ontvang het – die saak verder ondersoek. Die NV-voordvoerder, Luvuyo Mfaku, het gesê dat die nasionale direkteur van vervolgings, Shaun Abrahams, besluit het om die saak op te neem. Die getuienis wat daarvoor gebruik sal word, is juis voor die waarheids- en versoeningskommissie vir die doeleindes van kwytskelding gelewer.

Volgens dr. Dan Roodt se opstel, Om die Waarheidskommissie te vergeet, het oudpresident FW de Klerk kwytskelding aan ongeveer 4 000 veroordeelde ANC-terroriste en -misdadigers verleen nog voordat die terroriste-organisasie die land oorgeneem het. Hulle hoef dus nooit voor die WVK te verskyn het nie.

Simelane het blykbaar in 1983, die jaar toe die Kerkstraatbom afgegaan het, verdwyn en is vermoedelik doodgemaak. Na bewering is sy eers na Norwood, Johannesburg, geneem en daarna na die Vlakplaas-eenheid van kol. Eugene de Kock, oorgeplaas.

Simelane se oorskot is nooit gevind nie. Nietemin glo die NV dat hy die moordsaak sal kan bewys. Drie van die voormalige veiligheidspolisiemanne is deur biskop Tutu en sy trawante kwytgeskeld van ontvoering maar nie van moord nie. Daarom sal hulle nou op ‘n moordklag teregstaan. Die vierde beskuldigde sal van beide ontvoering en moord aangekla word aangesien hy nooit vir kwytskelding aansoek gedoen het nie.

Al vier die beskuldigdes sal op 26 Februarie in die Pretoriase landdroshof verskyn.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.