Frankryk se volgende president?

Deel op

Image

Sarkozy en gade

Verlede Sondag het Ségolène Royal van die Sosialistiese Party en Nicolas Sarkozy van die regse UMP na die tweede rondte van die Franse presidentsverkiesing deurgedring. Volgens die jongste meningspeiling wat deur die BVA-instituut gepubliseer is, behoort Sarkozy die tweede rondte op 6 Mei met 53% van die stemme te wen. Maar wie is hierdie regse kandidaat en wat is sy planne vir Frankryk indien hy aan bewind sou kom?

Stéphane Sárközy de Nagy-Bócsa is in 1955 in die sewentiende distrik van Parys gebore. Sy vader was ’n Hongaarse immigrant, afkomstig uit ’n adellike familie. Met die koms van die Russe in 1944 is die Sárközy-gesin onteien en gedwing om Hongarye te verlaat. Ná ’n verblyf in Oostenryk en Duitsland het Nicolas se vader ’n werwingsagent van die Vreemdelingelegioen in Baden-Baden ontmoet. Hy het ’n kontrak van vyf jaar met die Legioen gesluit en het sy opleiding in Algerië ondergaan. Hy is egter nie vir diens in Indo-China gekeur nie en het uiteindelik in 1948 in Marseille uit die diens van die Vreemdelingelegioen getree. Hy het sy Hongaarse naam verfrans en in die advertensiebedryf begin werk. In 1949 ontmoet hy vir Andrée Mallah, met wie hy later sou trou. Sy was ’n regstudent en haar vader, ’n dokter in Parys se sewentiende distrik, was ’n Jood wat hom tot die Katolieke godsdiens bekeer het.
Deel op

Nicolas het twee broers: Guillaume, wat ’n groot tekstielfirma bestuur en François, ’n mediese navorser. Toe sy vader in 1959 van sy moeder geskei is, het sy haar studies voltooi en die drie kinders alleen grootgemaak. Sy het ’n advokaat in Nanterre geword, terwyl sy vader later weer drie keer getroud is.

In 1973 het Nicolas sy matriek behaal en het die gesin na die spogbuurt Neuilly getrek, aangrensend aan Parys. Jare later sou hy burgemeester van hierdie buurt word. Ná matriek het hy egter eers regte en politieke wetenskap gaan studeer en sy studies help finansier deur ruikers vir ‘n bloemis af te lewer. Vir ’n ruk lank het hy daaraan gedink om joernalis te word, maar het uiteindelik op die beroep van advokaat besluit en so in sy moeder se voetspore gevolg. Hy het as advokaat in Parys gepraktiseer en in eiendomsreg gespesialiseer.

In 1982 het Sarkozy met Marie-Dominique Culioli, dogter van ’n Korsikaanse apteker, in die huwelik getree. Twee seuns, Pierre en Jean, is uit die huwelik gebore. In 1984 het hy vir Cécilia Ciganer-Albeniz ontmoet in sy hoedanigheid as burgemeester van Neuilly toe hy haar in die huwelik bevestig het met Jacques Martin, ’n televisie-aanbieder. In 1989 het Cécilia (agterkleindogter van die Spaanse komponis Isaac Albeniz) egter haar man verlaat om saam met Sarkozy te wees. In 1996 is die twee getroud. Hulle seun, Louis, is die volgende jaar gebore. Sowat twee jaar gelede het die paartjie ernstige huweliksprobleme ondervind en het hulle paaie vir ’n ruk lank geskei. Sarkozy het een aand in trane uitgebars op televisie toe hy oor hulle probleme gepraat het. Sedertdien is die twee egter versoen en word Cécilia weer by amptelike geleenthede aan sy sy gesien.

Sarkozy se politieke loopbaan het in 1974 begin toe hy by die Gaullistiese UDR-party aangesluit het. Hy het hom van die begin af deur sy intelligensie en ambisie onderskei. Op die jeugdige ouderdom van 28 het hy al burgemeester van Neuilly geword. Op 34 was hy parlementslid en op 38 is hy as minister van begrotingsaangeleenthede aangewys. In 1993 was hy wêreldwyd in die nuus toe hy direk onderhandel het met ’n man wat homself die “Human Bomb“ genoem het en ’n groep kinders in Neuilly wou doodmaak en hulle skool wou opblaas. Die man is uiteindelik deur die polisie doodgeskiet.

In 1995 het Sarkozy sy steun aan Edouard Balladur toegesê, wat as presidensiële kandidaat teen Jacques Chirac gestaan het. Chirac het egter gewen en Sarkozy het geen pos in sy kabinet gekry nie. Tydens ’n vergadering van die RPR-vergadering in Oktober 1995 is hy selfs uitgejou.

In 1999 neem hy egter beheer van die RPR-party oor en in 2002 word hy aangewys as minister van binnelandse sake, een van die belangrikste kabinetsportefeuljes. Hy help om ’n nuwe beleid oor spoedoortredings in te stel, wat die aantal padsterftes in Frankryk met 34% laat daal. Verder is hy ook betrokke by die stigting van die Franse Raad vir die Moslem-geloof, in ’n poging om die integrasie van Noord-Afrikaanse immigrante in die Franse gemeenskap te vergemaklik.

In 2003 brei hy die gebruik van DNS-toetse na alle vorme van misdaad uit. Hy onderskei hom verder ook in die ferm manier waarop anti-Semitiese misdade, wat deur jong Moslems gepleeg word, beveg word. Hy verkry ’n reputasie as ’n minister wat geen nonsens verdra nie en wat wet en orde baie ferm handhaaf.

Vanaf Maart tot November 2004 is Sarkozy minister van finansies en nywerheidsake. Ook hier onderskei hy homself deur duidelike besluite en ferm aksies. Hy slaag daarin om supermarkpryse met gemiddeld 2% af te dwing. Ook besluit hy om nie die eletrisiteitsfirma, EDF, te privatiseer nie. In November 2004 verlaat hy egter die pos toe hy met ’n meerderheid van 85% as voorsitter van die regse UMP-party verkies word.

In Mei 2005 word hy weereens aangewys as minister van binnelandse sake. Hy dring daarop aan dat vervalle geboue wat deur plakkers bewoon word, afgebreek word. In Junie 2005 besoek hy ’n woonbuurt in La Courneuve, wat hoofsaaklik deur immigrante bewoon word. Sy besoek volg op die dood van ’n elfjarige kind wat die vorige dag deur ’n dwaalkoeël getref is. “Die skurke gaan verdwyn, ek sal al die mensekrag gebruik wat nodig is,“ verklaar hy tydens hierdie besoek. ’n Paar dae later is hy weer in La Courneuve en voeg hy by dat die buurt “met Kärcher“ (die naam van ’n industriële skoonmaakproduk) geskrop moet word. Hierdie uitspraak lei tot ’n hewige polemiek en tot ’n konflik met Azouz Begag, minister belas met immigrantebelange.

Op 26 Oktober 2005 besoek Sarkozy ’n immigrantebuurt in Argenteuil, aan die buitewyke van die Franse hoofstad. Hy word op televisie gewys waar hy die plaaslike bevolking vra: Het julle genoeg gehad van hierdie gemors? Wel, ons gaan julle van die spul verlos.” Kort daarna word twee jong immigrante-kwaaddoeners doodgeskok tydens ’n poging om van die polisie weg te kom en daar breek ongekende geweld in die buitewyke uit. Jong immigrante maak weke lank amok deur geboue en motors aan die brand te steek en met die polisie te baklei. Miljoene euro se skade word aangerig. As minister van binnelandse sake (en dus die polisie) speel Sarkozy ’n sleutelrol gedurende hierdie paar weke om die geweld onder beheer te bring. Weereens tree hy streng op en word jong immigrante, wat na aanleiding van gewelddadige insidente gearresteer word en nie oor geldige verblyfpermitte beskik nie, na hulle lande van herkoms teruggestuur.

In 2006 stel hy nuwe, strenger immigrasiewetgewing in. Hy maak dit moeiliker vir diegene wat onwettig in Frankryk verkeer om hulle situasie te wettig. Ook stel hy strenger reëls in met betrekking tot immigrantefamilielede wat hulle by hul familie in Frankryk wil aansluit.

Sarkozy se presidensiële veldtog tot dusver is gekenmerk deur ’n beroep op die handhawing van wet en orde en ’n poging om kiesers se vertroue in politici te herstel. Sy sterk standpunte oor immigrasie en misdaad het vele potensiële regse Front National-kiesers oorreed om hierdie slag eerder vir hom te stem. Jean-Marie Le Pen, die Front National se presidensiële kandidaat, het in die pas afgelope verkiesing slegs 10.4% steun behaal, in vergelyking met die 19% van die vorige verkiesing.

Na alle waarskynlikheid gaan meeste van die Front National-ondersteuners en sentristiese kiesers (wat tydens die eerste verkiesingsrondte vir François Bayrou gestem het), op 6 Mei vir “Sarko“ ondersteun en van hierdie kort, ambisieuse figuur die volgende Franse president maak.

джинсы для девочкиФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.