Maties skors 2 studentes vir pers, nie eens swart gesigte

Deel op

Die Universiteit van Stellenbosch het sy strewe na kulturele marxisme en politieke korrektheid tot ‘n nuwe hoogtepunt te voer deur twee studentes van die Heemstede-koshuis te skors omdat hulle hul gesigte vir ‘n partytjie pers geverf het, blykbaar om soos wesens uit die buitenste ruim te lyk. In ‘n drakoniese stap is die studentes met onmiddellike ingang geskors terwyl die universiteit vandag die volgende verklaring uitgereik het:

Twee vrouestudente is uit die Heemstede-koshuis van die Universiteit Stellenbosch (US) geskors terwyl ʼn ondersoek aan die gang is na ʼn ‘blackface’-voorval by ʼn verwelkomingsgeleentheid vroeër vandeesweek. Een van die studente is ook van haar rol as studentementor onthef.

Die Universiteit het vinnig opgetree nadat die Bestuur Vrydag (5 Februarie 2016) oor die voorval ingelig is. Die saak is onmiddellik aangemeld by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid wat onlangs gevestig is om alle vorme van onbillike diskriminasie te ondersoek, en dit is ook by Sentrale Dissiplinêre Komitee aangemeld.

Studente het Vrydagaand by ʼn vergadering in Heemstede hul woede, misnoeë en seerkry ná die voorval bespreek. Die geleentheid is bygewoon deur ʼn groot groep studente, die Studenteraad (SR), die koshuis se huiskomitee, inwoners van Heemstede en universiteitspersoneel, onder andere ook prof Nico Koopman, Waarnemende Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en prof Arnold Skoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig. Gesprekke het tot diep in die nag voortgeduur. Alle huiskomitees van universiteitskoshuise is intussen ook versoek om teen Sondagaand oop en eerlike gesprekke te voer, en om die impak van sulke voorvalle aan koshuisinwoners te verduidelik.

Met verwysing na die Heemstede-voorval, het die Fakulteit Regsgeleerdheid intussen ‘n verklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle met kommer kennis neem van die beweerde betrokkenheid van ‘n Stellenbosse regstudent in ‘n ‘blackface’-voorval op kampus gedurende die week. “Die relevante Universiteitstrukture is tans besig met ‘n ondersoek. Die Fakulteit sal ‘n verdere verklaring uitreik so gou as wat verdere inligting ontvang word,” lui die verklaring.

In die lig van ʼn soortgelyke insident in 2014, sowel as die nasionale debat oor rassisme in ons land, beskou die US-bestuur die situasie in ʼn baie ernstige lig. Die Bestuur veroordeel alle vorm van rassisme en diskriminasie, en erken die ernstige negatiewe uitwerking van die trauma en seerkry op studente, personeel en lede van die publiek.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.