Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Die swanesang van Afrikaans

Deel op

Max du Preez is glo “keelvol” vir die taaldebat aan die Universiteit Stellenbosch (US), maar hy het onlangs in sy rubriek Skuinskyk (kyk hier onder) weer daaroor geskryf. Ek sal dit na dese waarskynlik ook nie die moeite werd vind om weer oor hierdie onderwerp te skryf nie. My rede is: Die stryd om Afrikaans aan die US is verlore. Ek skryf hier oor die swanesang van Afrikaans; ongelukkig nie net aan die US nie, want Afrikaans sal uiteindelik op veel meer terreine vernietig word. Dit is deel van die bitter vrugte van FW de Klerk en sy meelopers se skandalige en mandaatlose algehele politieke magsoorgawe.

Jan Heunis het die jongste salvo’s oor Afrikaans ingelui met ‘n artikel waarin hy Sandra Liebenberg en AJ van der Walt se skrywe (kyk Praag 23 Desember) deeglik kritiseer; ook vanuit ‘n regsoogpunt (LitNet 20 Januarie; ook Netwerk24, 21 Januarie). Heunis se standpunt is dat Afrikaans, as dit nie meer die primêre US-onderrigtaal mag wees nie, ten minste gelyke status met Engels moet hê. Hy toon aan dat die US-bestuur hom verlede jaar aangematig het om Engels tot die primêre onderrigtaal te verklaar terwyl die taalbeleid na senaatsgoedkeuring deur die US-raad bepaal moet word.

Jean Oosthuizen het onder die opskrif “Quo vadis Maties?” rapporteer oor gesprekke wat hy met Christo Viljoen as voorsitter en Heunis as ondervoorsitter van die US-konvokasie gevoer het (LitNet 20 Januarie). Oosthuizen het ook oor die jaarvergadering van die konvokasie verslag gelewer: “Haal af die Bosch se maskers, vra Maties” (LitNet 27 Januarie). Op die US-webwerf (27 Januarie) is ook verslag oor die konvokasiebyeenkoms gedoen. Met Heunis het Oosthuizen nabetragting oor die konvokasiebyeenkoms gehou: “US-taaldebat: ‘Ons sal luister, maar ons sal nie stilbly nie'” (LitNet 3 deser). Heunis is tot nuwe voorsitter van die konvokasie verkies en hy het hom ook tot die US-raad verkiesbaar gestel.

Wim de Villiers, die US-rektor, het die akademiese jaar op 25 Januarie begin met ‘n boodskap aan die personeel en studente. Vir hom bly transformasie, oftewel ANC-gedienstigheid,* ‘n prioriteit. Hy gaan myns insiens ook voort om nie-uitvoering aan die US-raadsbesluit te gee waarvolgens Afrikaans en Engels gelyke status moet hê. Onderrig in Afrikaans en Engels sal in gevalle waar daar baie studente is in aparte klasse (parallelle-onderrig) aangebied word, maar “kennisoordrag in lesings (kleiner groepe) moet ten minste in Engels plaasvind” (US-webwerf 26 Januarie). Veral van vanjaar af sal Afrikaans in kleiner (dus die oorgrote meerderheid) klasse myns insiens, op inisiatief van De Villiers, in die meeste gevalle (grootliks) verdwyn.

[* Die “pligte en verantwoordelikhede” van die viserektor vir transformasie word soos volg omskryf: “Verseker dat transformasiedoelstellings belyn is met beide die veranderende transformasie-agenda van Hoër Onderwys asook met transformasie-inisiatiewe wat hul oorsprong in die breër universiteitsgemeenskap het” (Sake-Rapport, 10 Januarie, p 6). Aan die US moet daar dus nie onafhanklik gedink en gepoog word om die ANC-kamerade (bv kommuniste soos die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, en sy kommunistiese direkteur-generaal, Gwebs Qonde) uit te oorlê nie. Die viserektor vir transformasie is per definisie of voorskrif ‘n onderdanige ANC-kruiper. Ons het hier ‘n Rut- (US) Naomi- (ANC) verhouding: “Waar u gaan, sal ek gaan” (Rut 1:16). Die neo-US is ‘n bespotting van universitêre outonomie.]

Die lot van Afrikaans is op Dinsdag, 26 Januarie, grootliks verseël toe die US-konvokasie se jaarlikse vergadering plaasgevind het. As sprekers het opgetree Breyten Breytenbach, Lovelyn Nwadeyi en Wim de Villiers. Christo Viljoen het as uittredende voorsitter sy afskeidsrede gelewer. Al vier hierdie toesprake is volledig op LitNet gepubliseer: Breytenbach (26 Januarie), Nwadeyi (27 Januarie), De Villiers (27 Januarie) en Viljoen (28 Januarie). Geredigeerde weergawes is op Netwerk24 gepubliseer.

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach het ontluik as een van die voorste stryders om die behou van Afrikaans aan die US. Namate hy ouer word, kom die Boer in hom al hoe meer aan die bod. Hy het kritiek op sowel die US-bestuur as die ANC-regering uitgespreek. Die US was “nog altyd … gedienstiglik teenoor die heersers van die oomblik;” eers die NP- en nou die ANC-regering. “Tog opvallend hoeveel van hierdie beleidsbesluite as ‘t ware in donker agterkamers aanmekaargetimmer en dan as onvermydelik en weldeurdag aan die groter gemeenskap voorgehou word. ‘n Mens vra jou af watter klug hier opgevoer word, watter soort swartvoetjiesoekerigheid dit is.” Hy noem dit “voldonge dade van besluitneming agter sluiers.” Breytenbach het ongetwfeld die De Villiers-US se besluit om die universiteit te verengels in gedagte. Later verwys hy na “die gemaskerde ‘bestuurders’ wat kaatjies van die baan wil wees met ondeursigtige mandate.” Dit dui myns insiens op die gekonkel ten koste van Afrikaans wat reeds sedert Chris Brink se rektorskap (2002-2007) plaasvind sonder dat die US-raad na behore ingelig word.

“Ons moet die maskers afhaal en ophou om die verfoeilike Suid-Afrikaanse kuns van dubbelpraat en dubbeldink te beoefen. As ons nie ‘n helderheid bevorder omtrent wie ons is en waarnatoe ons wil beweeg nie, word ons gedwing tot onaanvaarbare en beskamende kompromieë wat almal onbevredig laat.” Breytenbach vra: “Hoe het dit gebeur dat opgeleide mense kon buig voor die Orwelliaanse newspeak om ‘n woord en ‘n begrip soos transformasie uit te hol … tot die slogan van ‘om wit met swart te vervang’?” Hy verwys dan na die US-bestuur (spesifiek De Villiers) se begeerte om “nuwe Afrikane” of “wêreldburgers” te skep “deur die plaaslike te ontken en prys te gee met ‘n saambeweeg in die stuwing na gelykmaking tot die laagste gemene deler.” “Mens soek nie … teelplase vir polities korrekte kuddes selfbeheptes nie.”

Breytenbach kom die ANC-regering by deur te praat van “‘n pseudoversoening waar gedans moet word na die diktatpype van die onbevoegde populiste aan bewind wat nie eens die bedoeling het om vir die gelag te betaal nie.” “Die staat wat … verswelg in die vraatsug en die deurmekaarideologie van die party wat die staat bestuur oftewel kaal stroop asof dit ‘n houvrou is.” Hy sê: “Dat die regerende party klaaglik misluk in die missie om iets positief te maak, vir ál die landsburgers, uit die konstruk ‘Suid-Afrika’ wat op regverdigheid en menswaardigheid en skeppingsvermoë gebou moes word.” Hy verwys na “daardie leierskorps van onbevoegde kaders wat die land gekaap [het] en die mense mislei in die naam van bevryding.”

Teenoor Afrikaans openbaar Breytenbach ‘n positiewe gesindheid, maar daar is soveel digterlikheid in sy spreekwyse dat sy boodskap nie altyd helder deurkom nie. In “die ellende van die hede” is daar “die bruidskat” [“nié ‘soenoffer’ of ‘slagkoei’ nie”], Afrikaans, “ons inheemse taal”. “Indien Afrikaans as omgangstaal, administratiewe taal, onderrigtaal hier sou verketter word en krimp, gaan dit uiteindelik tot ‘n onvermydelike tot niet maak van ‘n kosbare en geskakeerde instrument van bewuswording lei. Dit sal die delegitimering van Afrikaans meebring, en die mense wie se moedertaal dit is, marginaliseer en beroof van erfgoed uit baie kombuise, en dus van die moontlikheid om hulle potensiaal tot almal se beswil te ontwikkel.” “Om te redeneer dat dit nié die taak van ‘n universiteit is om die voortsetting van ‘n taal se skeppingsmoontlikhede en bruikbaarheid te verseker nie, is onsin.” “Dis duidelik dat die beperkte ruimte wat aan Afrikaanssprekendes gegun word, by die dag kleiner word – omdat die mobilisering van etniese vyandigheid teen Afrikaans die maklikste uitweg is om ‘n gefrustreerde bevolking se aandag af te lei van die werklike oorsake van hulle agterstand.”

Breytenbach verwys na US-dosente “al is party van hulle opgeblase paddas wat in ‘n klein dammetjie probeer kwaak soos seekoeie.” Dit wil-wil vir my lyk asof ek weet wie hy tydens hierdie beeldvorming in gedagte gehad het. Daar is ‘n uitdruklike verwysing na Jonathan Jansen: “Net so ook die laakbare Naziagtige uiting van ‘n viserektor [eintlik rektor] aan ‘n universiteit verder noord wat na onnadenkende pavaan in sy versugting na aandag ‘n boek gepleeg het om te beweer rassisme is in die bloed van die witterige Afrikaners.”

Lovelyn Nwadeyi

Lovelyn Nwadeyi is ‘n doktorale student in politieke wetenskap aan die US. Sy is ‘n Nigeriese uitlander/inkommer wat verlede jaar haar mening oor bv Suid-Afrika, die US en Afrikaans op LitNet (3 September) gelug het. Dit was na aanleiding van ‘n optog wat US-studente saam met soortgelyke elemente van die Universiteit Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland gehou het. Sy noem die US ‘n “enclave of systematically privileged whiteness”. Sy skryf van “the untouchable sacred cows of language and its interactions with race and power in Stellenbosch University.” Sy verwyt haarself dat sy haar tyd aan die US aanvanklik gebruik het om te studeer (soos dit hoort) pleks van politieke aktivisme te bedryf. Sy en ander nie-wit studente is deur die rektor (Russel Botman) en ander bestuurslede toegelaat om oor hulle US-ervarings te praat. Tee en koffie en koekies is aan hulle bedien. Maar nou word hierdie dinge deur haar tot griewe getransformeer. Haar hoofgrief teen die US is: “White Afrikaans-ness is the norm.” Later formuleer sy haar hoofgrief as: “white/male/Afrikaans.” “An academic space that facilitates exclusion through language needs to be eliminated.” Oor Afrikaans se geskiedenis skryf sy:”Afrikaans was appropriated [stolen?] from the non-white slaves.” Sy wil hê die US moet by haar aanpas: “Am I against forcing others to learn in Afrikaans? Yes.” Sy dink soos Wim de Villiers: “English is indeed our best compromise in academic spaces to maintain our international standing as graduates.”

In daardie uitbarsting het sy haar by uitnemendheid as ‘n swartmagaktivis bewys. Dit is blykbaar op grond daarvan dat sy genooi is om aan konvokasielede die leviete voor te lees. Waarom nie eerder die voorsitter van die pro-Afrikaanse Adam Tas-vereniging as spreker nooi nie? ‘n Moontlike rede waarom Nwadeyi gevra is, is omdat die paneel sprekers daarmee eensklaps as multikultureel, divers en inklusief reggestel word. Die waarde van wat sy te sê het, word polities korrek oorskat. Sy het haar konvokasietoespraak begin met verwysing na die gebruik van “jy” en “u”. Sy wil hê dat nie-wittes nie ge-jy word nie. Die punt is dat almal deesdae ge-jy word omdat almal in die nuwe Suid-Afrika gelyk verklaar is. Ek hou egter by die gebruik van “u” as aanspreekvorm vir diegene wat ek hoog ag, juis omdat almal nie gelyk is nie.

Haar ideaal is dat die US deel moet wees van die nuwe Suid-Afrika en ook so moet lyk. Sy praat van 52 jaar van apartheid en van “ons lelike geskiedenis”. Klaarblyklik moet sy haar kennis van geskiedenis opknap. Ook oor wat in 1994 gebeur het: “Black South Africans had to give foregiveness in 1994 simply to get a vote.” Twak. In werklikheid verneder sommige blankes hulle sedert 1990/1994 sonder ophou met ‘n verskoningvraery. Die jongste is dat telkens gesê word dat die verskonings nie goed genoeg is nie en daarom onaanvaarbaar is. Het swartes sedert 1994 opgetree asof hulle blankes al iets vergewe het? Hoeveel erkentlikheid en dankbaarheid openbaar swartes vir alles, insluitende die US, wat danksy blankes tot stand gebring en uitgebou is?

Oor Afrikaans sê sy dat dit nie die funksie van die US is om Afrikaans en Afrikanerkultuur te beskerm nie; dat dit dinge is wat sonder die US sal oorleef. Dit is die deuntjie wat anti-Afrikaanse en anti-Afrikaner-elemente graag sing. Soos in haar vorige skrywe het sy dit teen diegene wat pleit vir ‘n Afrikaanse US omdat daar bruin studente met Afrikaans as moedertaal is. Dit is omtrent die enigste punt waarop ek haar gelyk gee. Blankes het die US gestig en uitgebou en daarom behoort Afrikaners die onvervreembare reg te hê om daar in Afrikaans te studeer. Inkommers, daarenteen, het geen reg hoegenaamd om aan te dring op die onderrigtaal van hulle keuse nie. Dan kom sy met die storie van Afrikaansvariëteite, wat die situasie van Afrikaans aan die US verder sal beduiwel. Geen woord word oor Engelsvariëteite gerep nie. Standaardafrikaans is die aangewese en eintlik enigste Afrikaans wat as US-onderrigmedium geskik is, of sy daarvan hou of nie.

Sy matig haar aan om te gelas: “2016 is the year in which white South Africans must listen and take the back seat in conversations about race, power and privilege.” Hoekom? Omdat swartes beter weet? Die reaksie op haar toespraak was oorwegend positief. Sakkie van Sonstraalhoogte skryf: “Dít is mos die soort kwaliteit wat ‘n mens in ‘n president soek!” (Die Burger, 2 deser, p 10). Feitlik net Eikestadnuus (28 Januarie, p 8) het in sy hoofartikel hoogs omsigtig bedenkinge uitgespreek: “‘n Mens wonder onwillekeurig oor een van die sprekers se stelling dat wit Suid-Afrikaners nie werklik besef wat rassisme is nie en nou terug moet staan en ‘vir ‘n slag’ moet luister … om Afrikaans gelyk te stel aan rassisme, en om witwees dan daarmee in verband te bring, is seker ‘n oorvereenvoudiging van die situasie en dalk nie heeltemal so versoenend of aanvarend as wat verwag kan word nie.” Desnieteenstaande was daar selfs by die konvokasiebyeenkoms applous vir haar toespraak en is sy byna tot ondervoorsitster verkies. Baie mense het nie die vermoë om krities te luister na wat gesê word nie. Oor die jongste gebeure swyg Die Burger redaksioneel soos die graf.

Wim de Villiers

Wim de Villiers herhaal in groot mate sy gewone storie. Ek gaan probeer om onnodige herhaling te vermy. Hy noem dat die US teen 2020 50% nie-wit eerstejaars wil hê en dat die nagraadse studente reeds bykans 50% nie-wit is.* Hy gaan dus voort om etnisiteit pleks van akademiese gehalte ‘n deurslaggewende faktor by studentetoelating te maak. “Ons beskou diversiteit as ‘n voorvereiste vir uitnemendheid.” Hier verwys hy sekerlik eerder na politieke as akademiese uitnemendheid. Wat hy eintlik by implikasie valslik wil beweer, is dat die US van weleer, waarvan hy ‘n produk is, nie op akademiese uitnemendheid aanspraak kan maak nie. Hy gaan selfs sover om te beweer dat die huidige US, insluitende sy mediese fakulteit, akademies beter is as wat die US in die vorige eeu was. Die waarheid is egter dat juis daardie mediese kwalifikasie waarna hy verwys, die graad MBChB wat hy in 1983 verwerf het, tans baie minder as voorheen in die buiteland erken word.

[* Nie-witheid is iets wat De Villiers koester. In die weergawe van sy toespraak wat in Die Burger (2 deser, p 11) gepubliseer is, sê hy van sy tyd as student in die jare tagtig: “Destyds was ons so te sê leliewit.” Daar is ‘n snedigheid in daardie “leliewit”. Waarom word swartheid nooit aangedik deur van bv steenkoolswart as teenhanger vir leliewit te praat nie?]

Hy beweer voorts dat die US se missie onder meer gelyke geleenthede vir almal insluit. Dit geld sekerlik nie die blankes, hetsy studente of personeel (bv dosente),* nie, want rasteikens plaas blankes doelbewus in ‘n erg benadeelde posisie, bv by toelating tot MBChB-studie. My persepsie is dat die US in die vorige eeu akademies voortrefliker was as wat die huidige een is en veral die toekomstige een sal wees as voortgegaan word om politieke oorwegings hoër as akademiese norme te ag. De Villiers etiketteer die US van weleer as ‘n “‘volksuniversiteit’. Hierdie idee was duidelik te eng. Dit was ‘n uitsluitende blik na binne, in plaas van ‘n inklusiewe uitreik na buite.” Watter etniese groepe in hierdie proses voordele inboet en watter baat, word deur hom verswyg. Blankes en veral Afrikaners trek ongetwyfeld aan die kortste end. De Villiers kom met die oproep van “Vorentoe!/Forward!” maar dit is ‘n koerskies na ‘n gewaande politieke ANC-hemel en terselfdertyd na die akademiese afgrond.

[* Nie-meriete aanstellings en bevorderings is aan die orde van die dag, want polities gebaseerde rasteikens moet gehaal word. Die soort ondersteuning wat De Villiers hiervoor van sommige dosente kry, is verbasend. Chris Jones, ‘n entrepreneur-teoloog van dieselfde kaliber as André Bartlett, beweer meriete aanstellings beoog “om wit bevoorregting te beskerm” (Netwerk24/Rapport 3 Januarie).]

De Villiers gee voor dat diversiteit die studente aan ‘n verskeidenheid van idees blootstel. Maar dan is dit juis hy wat verpligte indoktrinasiekursusse vir alle studente en alle personeel wil instel sodat hulle transformasie met oorgawe onkrities moet indrink en bedryf. Waarom begin De Villiers nie met ‘n oop gesprek oor transformasie of Afrikaans of Jannie Marais se US-stigtingsvoorwaarde nie? Pleks daarvan propageer hy telkens dogmaties sy eie geykte standpunte, wat glad nie sprekend van ‘n openheid van gees is nie.

Hy beweer dat daar verlede jaar die eerste keer meer Engelse as Afrikaanse studente aan die US was en dat hierdie neiging sekerlik sal voortduur. Ja, sekerlik as voortgegaan word om ten gunste na nie-wittes en teen blankes te diskrimineer. Sy politieke gesindheid blyk uit sy verwysing na Martin Luther King jr se stelling: “The time is always right to do what is right.” King was ‘n toonbeeld van iemand wat gedoen het wat nie reg is nie. Hy was bv versot op drank en buite-egtelike seksuele avonture. Die rede waarom King se naam glad nie in akademiese geledere genoem moet word nie is die onomstootlike feit dat hy plagiaat met sy doktorale proefskrif gepleeg het. Dit is dié akademiese doodsonde by uitnemendheid. Dit sou dus goed wees as De Villiers verwysings na King vermy terwyl hy veronderstel is om ‘n leidende akademiese pos te beklee.

Christo Viljoen

Christo Viljoen was ‘n US-viserektor (1993-1998) wat as voorsitter van die konvokasie dit wys geag het om die stryd om die behoud van Afrikaans buite die openbare oog te hou. Sodanige standpunt is vir my heeltemal onaanvaarbaar omdat daar tydens die rektorskap van sowel Chris Brink (2002-2007) as Russel Botman (2007-2014) die onverkwiklike neiging was om agteraf ter benadeling van Afrikaans te konkel (kyk Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans, 2013). De Villiers sit hierdie tradisie voort. Dit is waarom sy verengelsingsbeleid uit die bloute op die US-senaat en -raad en die publiek afgekom het. Daardie gekonkel is die maskers waarvan Breytenbach gewag gemaak het.

In sy afskeidstoespraak vertel Viljoen hoe ingerypend die US in ses dekades verander het. Hy spreek geen kritiek uit teen duidelik anti-akademiese neigings nie. Hy ondermyn die Afrikaanssaak deur Engelse elemente uit die US-verlede op te haal. Hy stel vertroue in die ANC-regering en die US-bestuur. In werklikheid was dit die ideale geleentheid om Wim de Villiers se manteldraaiery oor Afrikaans (deur wat hy voor sy aanstelling as rektor belowe het te kontrasteer met wat hy as rektor doen – Praag 28 November) in die openbaar aan die kaak te stel. Viljoen haal Amanda Gouws (kyk hier onder) goedkeurend aan. Hy vra vir ‘n “Kodesa-tipe taalberaad”, asof die vorige Kodesa’s (net) heilsame gevolge gehad het. Gelukkig verwys hy darem uitdruklik na Jan Marais (iets wat Wim de Villiers soos die pes vermy) en bepleit gelyke status vir Afrikaans en Engels. Hy dink ‘n wen-wen uitkoms is moontlik. “Dit is haas tyd om halt te roep vir die taaldebat.” Terwyl Afrikaans se ondergang aan die US daagliks duideliker word, wil hy hê dat die stryd om Afrikaans tot ‘n einde moet kom. Sy toespraak is die versugting van ‘n ou man wat moeg gestry is; bowenal van ‘n ingenieur wat politiek, ideologie, taal en kultuur nie grondig verstaan nie.

Max du Preez

Max du Preez het die vermoë om my grenseloos te irriteer met sy moedswillige dwarsheid. In een van sy rubrieke (Die Burger, 30 Januarie, p 11) word die US-konvokasievergadering hiervoor ingespan. Hy verskuif die klem van Afrikaans na “hoe wit mense en Afrikaners hul rol in ons snelveranderende samelewing moet verstaan.” Hy haal uit Breyten Breytenbach se voordrag aan waar die spreker toegeeflik teenoor ons huidige situasie is; nie waar Breytenbach bv pro-Afrikaans of anti-US-bestuur is nie. Heel voorspelbaar wil Du Preez eerder Nwadeyi se voorbarige uitlatings ophemel en invryf.

Wat Du Preez vir beklemtoning uitsonder, is Nwadeyi se aanstootlike oproep dat blankes “moet luister en terugstaan.” Swartes is glo in 1994 verplig om te vergewe. “As swart Suid-Afrikaners in 2016 met dié mantra moet voortgaan, sal dit met deernis en aktiewe vorme van herverdeling beloon moet word.” Dus, blankes moet met hulle eiendom vergiffenis by swartes koop. Du Preez skryf waaragtig: “Dit klink nie onredelik nie” [!]. Daar is glo “kollektiewe pyn” by swartes. Du Preez onderskryf Nwadeyi se oordrewe mening dat apartheid en kolonisering (dinge waarvan sy geen eerstehandse ervaring het nie) swartes “ontmenslik” het en dat hulle nou hulle “menslikheid” terugeis. Swartes begeer afsluiting/”closure” en dit kan van blanke kant met (verpligte) aalmoese bewerkstellig word.

Nwadeyi glo “wit mense … moet nou in die agterste gestoeltes gaan sit en eerder luister; hulle moet proaktief meegevoel en begrip vir die swart meerderheid toon; hulle moet hul welvaart begin [!] deel.” Dit alles vreet Du Preez vir soetkoek op. Nwadeyi se voorbarige voorskrifte is klaarblyklik nie op hom van toepassing nie. Blankes moet hulle bekke hou, maar Du Preez kan en sal voortgaan om soos gebruiklik lawaai teen bv Afrikaners en Afrikaans te maak. By woongebiede is die situasie soortgelyk: Du Preez hiet en gebied dat wittes tussen swartes moet gaan bly, maar Du Preez mag maar in Riebeeck-Kasteel woon. Hy hoef nie na Khayelitsha te trek nie. Hy is verlig genoeg. Hy hoef niks meer te bewys nie.

Jan Gerber

Dit is moeilik om te glo, maar op dieselfde bladsy as Du Preez se genoemde rubriek is daar ‘n selfs onverkwikliker standpunt; dié van Jan Gerber, “‘n parlementêre verslaggewer van Media24” (Die Burger, 30 Januarie, p 11). Hy noem dat Blade Nzimande magtiging in wetgewing verlang om ‘n universiteit se taalbeleid te bepaal. Dit sal glo in oorleg met universiteitsrade gedoen word. Dit kom seker daarop neer dat die minister aan die rade sê wat hy wil/gaan doen en dan doen hy dit, of hulle daarmee akkoord gaan of nie. Dit is nog ‘n voorbeeld van die ANC-regering se berugte sentralisering van mag, wat so kenmerkend van kommunistiese bewinde is. Bygesê, geen plaaslike universiteit het al uitgemunt in sy aandrang op outonomie nie; allermins die De Villiers-US.

Dan kom Gerber met sy bedenklike standpunt. “Die pas waarmee die universiteite in dié tydperk [sedert 1994] verander het om die volle Suid-Afrikaanse samelewing te weerspieël is bloot te stadig.” Daar moet vinniger “vorentoe” beweeg word, soos De Villiers wil hê. Hier dink Gerber klaarblyklik aan die eens Afrikaanse universiteite, wat in werklikheid ingrypender as die ander universiteite getransformeer het. Die tradisioneel swart universiteite het nie naasteby sulke radikale veranderings ondergaan nie. Gerber se insig is dat daar geen weerstand teen ANC-druk mag wees nie: “En dan is daar gereeld pogings deur drukgroepe om te verseker dat dinge voortgaan asof dit 1964 is.” Dit is ‘n gemene, lae hou, afkomstig van ‘n jong blanke outjie.

“Die Universiteit van die Vrystaat [UV] het verlede jaar met sy nuwe taalbeleid waarskynlik genoeg gedoen om erge regeringsbemoeienis te vermy, en dalk die Noordwes-Universiteit [NWU] se Potchefstroom-kampus ook.” Ja, want die UV het ‘n “swart” rektor en van vanjaar af is dit eentalig Engels. En die NWU het ‘n egte swart rektor gekry, wat die Potchefstroom-kampus so vinnig moontlik soos die res van die NWU wil verswart en verengels. Al drie die NWU-kampusse gaan verplig word om dieselfde “institusionele kultuur” te hê.

“Maar nadat Stellenbosch se taalbeleid, wat inklusiwiteit sou bevorder [De Villiers se ideaal van Engels as primêre onderrigtaal], laat verlede jaar gefnuik is [toe die US-raad die (teoreties) gelyke status van Afrikaans en Engels herbevestig het], vrees ek [Jan Gerber] dat hy hom kan bevind in ‘n situasie waar die regering gaan sê: ‘Goed, as jy nie gaan verander nie, gaan ek dit vír jou doen’.” Hoe behoort hierop gereageer te word, volgens die Afrikaanse joernalis, Jan Gerber? “‘n Mens kan nie teen die toekoms baklei nie.” Dus, enigeen wat aan verset gedink het, moet gaan lê en berus. “Dit is verkieslik dat die universiteite … self verander, eerder as wat die regering dit vír hulle doen.” Dit gaan hier by uitstek om die transformasie van die eens Afrikaanse universiteite. Gerber beveel per slot van sake aan dat ‘n universiteit (soos die US) nie net alle opdragte van die ANC-regering sonder meer moet uitvoer nie. Nee, universiteite moet proaktief wees en sommer ANC-besluite vooruitloop. Teen die tyd dat kameraad Nzimande gelas dat die US eentalig Engels moet wees, moet Wim de Villiers trots kan sê: Dit is reeds gedoen (al weet die US-raad dit nog nie). Ons het die amptelike taalbeleid stil-stil (met selfs Christo Viljoen se seën) gerysmier.

Swanesang

Dit is my oortuiging dat die swanesang van Afrikaans aan die US reeds aangehef is. Hiervoor is daar talle redes.

  • ANC-regering: Die ANC-regering is Afrikaans vyandig gesind. Dit geld in uiterste mate die kommunis-deurdrenkte departement hoër onderswys. Die era van Afrikaanssprekende kommuniste (bv Edward/Eddie Roux en Bram Fischer) is lankal verby. Indien nodig, sal Afrikaans as universiteitstaal deur wetgewing vernietig word.
  • Studentekorps: Die etniese samestelling van die US-studentekorps word al hoe meer nie-blank weens ‘n politiek-geïnspireerde kwotastelsel, wat blanke studente, insluitende Afrikaanssprekendes, progressief uitsluit. Die aanvraag vir Engels as onderrigmedium neem dus toe, terwyl die aanvraag vir onderrig in Afrikaans afneem. Die situasie word vererger deur bruin Afrikaanssprekende studente wat veral na hulle eerste studiejaar verkies om Engels te probeer wees. Sover ek weet, het daar nie van ‘n enkele bruine (binne of buite die US) beswaar teen De Villiers se voorgestelde verengelsing opgeklink nie.
  • US-konvokasie: Namate al hoe meer nie-wittes aan die US afstudeer, sal die samestelling van die konvokasie en sy uitvoerende komitee progressief ontwit word. Die US-raadsverteenwoordigers wat deur die konvokasie benoem word, sal dus al hoe meer anti-Afrikaans gesind wees. Michael le Cordeur is pas tot ‘n lid van die konvokasie se uitvoerende komitee verkies terwyl dit bekend is dat hy De Villiers se verengelsingsbeleid steun.* Sonja Loots is nou ook ‘n lid van die uitvoerende komitee terwyl sy ‘n uiters laat bekeerling tot die stryd om Afrikaans is. In vergelyking met vorige uitvoerende komitees is dit moeilik om dieselfde vertroue in die huidige komitee te hê.

[* Le Cordeur se standpunt is heeltemal strydig met dié van Jan Marais en Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF). Desnieteenstaande is Le Cordeur ‘n trustee van hierdie fonds. Ek het by twee geleenthede aan die HJMNF geskryf en die aandag op hierdie anomalie gevestig. Daar was geen reaksie hoegenaamd nie; selfs nie beleefdheidshalwe ‘n ontvangserkenning nie. ‘n Mens sou dink dat die HJMNF steun vir, tewens enige gesonde belangstelling in, Jan Marais se nalatenskap sou verwelkom. As kampvegter vir Afrikaans ervaar ek die ongeërgdheid van die HJMNF as uiters ontmoedigend.]

  • US-raad: Die US-raad staan op ‘n piesangskil. Verlede jaar, in die De Villiers-era, is heeltemal onnodig en dwaas toegelaat dat die minister van hoër onderwys meer verteenwoordigers in die raad benoem. Terselfdertyd sal vorentoe al hoe minder pro-Afrikaansgesindheid by die konvokasieverteenwoordigers in die raad aangetref word. ‘n Vorige raadslid, Hermann Giliomee, noem dat dit tot ongeveer 2006 nog moontlik was om meerderheidsteun in die raad te kry vir ‘n Afrikaanstalige US wat meertaligheid bevorder. Sedertdien het dit onmoontlik geword (Eikestadnuus, 21 Januarie, p 10); dus, die meerderheidsteun hel al hoe meer oor na Engels. Die gelyke status van Afrikaans en Engels is einde verlede jaar skynbaar deur die US-raad bevestig. In werklikheid geld dit hoogstens voorgraadse onderrig, want nagraadse onderrig word meesal in Engels aangebied. Die afskaling van Afrikaans is vererger deur die raadsbesluit dat bv koshuise self oor hulle taalgebruik kan besluit, wat die deur vir Engelse eentaligheid geopen het (Praag 5 Desember). In ‘n brief kla Ontstelde Ouer dat sy “erg ontsteld [is] oor die uitsluitlike gebruik van Engels by die verwelkoming van eerstejaarstudente” van ‘n US-dameskoshuis (Eikestadnuus, 28 Januarie, p 8). Sal die US-raad of die rektor hierdie saak regstel? Natuurlik nie, want dit is in ooreenstemming met die amptelike, raadsgoedgekeurde taalbeleid.
  • US-dosente: Die uitgesproke beleid, wat met oorgawe toegepas word, is dat die dosentekorps so vinnig moontlik ontwit moet word. Vermoë om in Afrikaans se doseer word, danksy Russel Botman se bemoeienis, glad nie meer vereis nie. Al hoe minder dosente is Afrikaans magtig en al hoe meer verkies om Engels te probeer wees. Selfs dié wat onmiskenbaar Afrikaans is en ‘n beperkter vermoë in Engels het, verkies in baie gevalle eentalig Engelse klasse, bv omdat dit kruipwaarde by die ANC en die rektor het, dus polities korrek is, en veral omdat dit dosente se lesingdrag verminder. Die ANC het as immorele beleid dat owerheidsubsidie net vir een onderrigtaal toegeken word. Die ANC se voorkeur- (en al hoe meer verpligte) taal is Engels.
  • US-studenteraad: Die voorsitter van die studenteraad is swart en in hierdie raad is die gesindheid oorwegend pro-Engels. Wim de Villiers se verengelsingbeleid word openlik en sterk deur hierdie raad gesteun, by monde van sy voorsitter en veral sy Engelssprekende woordvoerder, James de Villiers. Sterk kritiek word bv in eentalige Engelse persverklarings teen die konvokasie en die samestelling van sy uitvoerende komitee uitgespreek (US-konvokasielid se brief, Die Burger, 2 deser, p 10).
  • US-bestuur: Die kern van die probleem van die voortbestaan van Afrikaans aan die US is tans veral sy hoofuitvoerende beampte, die rektor, Wim de Villiers. Sy uitgesproke beleid is dat die US moet verengels; bv dat Engels die primêre onderrigtaal moet wees. Hy het hom nog nooit daartoe verbind (soos Jonathan Jansen se holle belofte in sy intreerede) dat hy sal sorg dat Afrikaans in sy dienstermyn as onderrigtaal behoue bly nie. Dit is waarom hy ook nie sy historiese en morele verantwoordelikheid aanspreek oor Jan Marais se stigtingsvoorwaarde nie. Die US-raad doen dit ook nie. Weens sy verknogtheid aan Engels sal De Villiers nie studente aanmoedig om hulle skripsies, magisterverhandelings en doktorale proefskrifte in Afrikaans te skryf nie. Nog minder sal hy by dosente aanbeveel dat hulle hulle professorale intreeredes in Afrikaans lewer. Dit is vir my baie duidelik dat Afrikaans en De Villiers nie saam aan die US kan floreer nie. Dit is óf Afrikaans óf De Villiers.

Maar De Villiers weet dat die meerderheid in die US-raad moontlik nie so sterk oor Afrikaans voel dat ‘n besluit om van hom ontslae te raak, deurgevoer sal word nie. In die uitvoertende komitee van die US-raad is De Villiers ‘n bietjie kortgevat oor sy opportunistiese aankondiging dat Engels die primêre US-taal gaan word. Maar daar was nog geen skerp kritiek teen hom op die kampus of daarbuite nie; allermins in Media24-koerante. Daarom gaan De Villiers eintlik grootliks ongesteurd voort met die verengelsing van die US. Hierin word hy deur al hoe meer dosente gesteun en ook deur ‘n groepie militante studente teen wie hy nie dissiplinêr optree nie. Die rektor (met die ondersteuning van die res van die US-bestuur), sommige dosente en sommige studente vorm ‘n onheilige drie-eenheid ten koste van Afrikaans. Die klimaat wat reeds geskep is, is dat Engels as onderrigtaal gewens en Afrikaans ongewens is. Sodra ‘n dosent Afrikaans in die klas praat, bevind hy hom in ‘n omstrede situasie. Dit is nie die geval met die koloniale en ANC-gesalfde Engels nie.

Jongste verwikkelinge

Pieter Kapp toon in sy boek, Maties en Afrikaans (2013), aan dat Amanda Gouws haar reeds jare lank teen ‘n Afrikaanse US verset. Tans pas sy (dalk) haar eie taalbeleid toe: Sy vind uit hoeveel studente in haar klas Engels en hoeveel Afrikaans verkies en dan bied sy haar lesing blykbaar in daardie taalverhouding aan (Die Burger, 1 Desember, p 12). Dit is strydig met die raadsgoedgekeurde amptelike taalbeleid, maar sy weet dat die pro-Engelse US-rektor nie teen haar sal optree nie. Wolf word immers toegelaat om skaapwagter te wees. Die hele taalsituasie aan die US word tans in navolging van De Villiers eentalig ten gunste van Engels gerysmier. Twee fakulteite, ingenieurswese en regte, het reeds besluit om onderrig eerder in Engels as Afrikaans aan te bied (Die Burger, 1 deser, p 4).

Anton van Niekerk praat hierdie miskenning van raadsbesluite goed. Aan diegene wat wil hê dat die US “Afrikaans word” (dus, die US is nie meer Afrikaans nie), vra hy: “Gaan ons ‘n polisiebeampte in elke klas sien wat streng gaan kontroleer of daar Afrikaans gepraat word?” (Die Burger, 3 deser, p 8). Van Niekerk weet dat baie polisiebeamptes deesdae net so min Afrikaans (wil) verstaan as sommige van die US-dosente en -studente. Hy weet ook dat dit nie die polisie se plig is om US-raadsbesluite ten uitvoer te bring nie. Dít is die plig van die rektor, viserektore, dekane en departementshoofde. Is Van Niekerk bloot moedswillig of is hy oorryp vir aftrede? Daar is geen akademies-wetenskaplike heil in ‘n filosoof wat só redeneer nie.

Dan vra Van Niekerk of diegene wat vir Afrikaans aan die US in die bres tree “besef watter enorme skade hulle die Afrikaanse taal aandoen deur te probeer om met dominansie en afdreiging mense te dwing om Afrikaans te praat aan ‘n universiteit waarvan die minderheid studente Afrikaanssprekend is en waarvan die meeste studente nie in Afrikaans in die klaskamer belangstel nie?” Geen student word gedwing om Afrikaans te praat nie. Dit gaan om die behoud van Afrikaans as onderrigtaal. Juis daarom behoort (alle) dosente Afrikaans magtig te wees of te word. Engelse dominansie is vir Van Niekerk aanvaarbaar. Sodanige dominansie doen die aansien van Engels, anders as Afrikaans, blykbaar geen skade aan nie.

Dit is De Villiers wat beweer die meerderheid studente is Engelssprekend. Chris Brink het destyds dieselfde laai uitgehaal deur te beweer dat hy tog so baie Engels op die kampus hoor. Albei neem waar waaraan hulle voorkeur gee. Onder daardie Engelsprekende meerderheid tel baie (bruin) Afrikaanssprekendes wat voorgee om Engels te probeer wees. Die (oorgrote) meerderheid studente sal in werklikheid gee (groot) probleme hê as onderrig deur die medium van Afrikaans geskied nie. Verengelsing is ‘n politieke spel wat ter benadeling van Afrikaans gespeel word. Van Niekerk doen reeds jare lank aktief hieraan mee. Hy bou sy beeld as oorverligte (gewetenloos) ten koste van Afrikaans uit.

Jan Heunis vertolk die taalsituasie aan die US soos ek, dus dat klasse veral van vanjaar af in groot mate uitsluitlik in Engels aangebied word. Dit geskied met die seën en selfs aanmoediging van die US-bestuur en in weerwil van die US-raadsbesluit van 30 November. Heunis skryf dat Van Niekerk hom skuldig maak aan “‘n wanvoorstelling. Wat aan die orde is, is die toepassing van die taalbeleid en gelyke beregtiging tussen Afrikaans en Engels as die primêre tale van onderrig” (Die Burger, 4 deser, p 14). Ek dink dit sal vir De Villiers ‘n verleentheid wees as hy die rektor moet wees van die enigste universiteit wat aan Afrikaans reg laat geskied.

Die voorsitter van die US-raad, George Steyn, en die ondervoorsitter, PW van der Walt, het met De Villiers en die viserektor vir onderrig, Arnold Schoonwinkel, vergader en daarop aangedring dat die raadsbesluite oor taal uitgevoer moet word. “Bestuur het ons verseker dat hierdie kwessie tans hul dringende aandag geniet” (US-webwerf 3 deser; Die Burger, 4 deser, p 6). Ek mis ‘n ondubbelsinnige onderneming van De Villiers dat hy hom streng aan raadsbesluite onderwerp en hulle na die beste van sy vermoë uitvoer.

Die Afrikaanse Taalraad het ‘n nuwe hoofuitvoerende beampte in die persoon van Conrad Steenkamp. Vir die eerste keer is dit ‘n voltydse betrekking. Dit lyk asof daar nou doeltreffender funksionering sal wees. Steenkamp het sy kommer uitgespreek oor die “onbestendige toepassing” van die US se amptelike taalbeleid (Die Burger, 4 deser, p 6). “Hoe moet belanghebbendes die US-bestuur se onbestendigheid en stilswye oor kritieke beleidskwessies verstaan?” Byvoorbeeld, absolute stilswye oor Jan Marais se US-stigtingsvoorwaarde.

Dit is Afrikaanssprekende blankes (De Villiers, Van Niekerk, Gouws, Liebenberg, AJ van der Walt, ens), potensieel Afrikaners maar eintlik hanskakies, wat die leiding in die vernietiging van Afrikaans neem. Aan die chaotiese taalsituasie aan die US is daar blykbaar geen keer nie. Daarom sê ek: Ons beleef die swanesang van Afrikaans aan die US. Dit is nie ‘n voorspelling nie. Dit is ‘n (geldige) waarneming.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.