Vrese dat Zika-virus seksueel kan versprei

Deel op

Die WGO het vrese uitgespreek oor die moontlike seksuele oordrag van die Zika-virus in Texas.

Dit is die eerste bevestigde geval van mens-tot-mens-oordrag van die Zika-virus in die VSA wat Dinsdag aangemeld is.

Dr. Tom Frieden, direkteur van die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), het op Twitter gesê die nuutste geval is die eerste in die VSA waar iemand wat nié gedurende die huidige uitbreking oorsee gereis het nie, die virus opgedoen het.

Die WGO het lande ook aangeraai om bloedskenkings van mense wat na Zika-geaffekteerde streke gereis het, nie te aanvaar nie, het die AFP-nuusagentskap berig.

Die skakel tussen Zika-infeksie en mikrokefalie is nog nie bevestig nie en die risiko’s op verskillende stadiums van swangerskap is onbekend, maar die siekte het die WGO genoop om ‘n noodtoestand af te kondig.

Volgens Amerikaanse gesondheidsowerhede het die pasiënt die virus waarskynlik deur seksuele omgang eerder as deur ’n muskietbyt opgedoen.

Seksuele kontak as ‘n manier van oordrag is ‘n kommerwekkende verwikkeling met die virus wat benewens die Amerikas, dalk ook na Afrika en Asië kan uitbrei.

Dallas se gesondheidsdepartement het op Twitter gesê die besmette persoon het seksuele kontak gehad met ‘n persoon wat na Venezuela in Suid-Amerika gereis het.

Die gesondheidsdepartement in Texas sê in ’n verklaring: “Die besonderhede van die geval word geëvalueer, maar die moontlikheid van seksuele oordrag van ’n geïnfekteerde persoon na ’n nie-geïnfekteerde persoon is waarskynlik in dié geval.”

Die goewerneur van Texas, Rick Scott, het ‘n gesondheidsnoodtoestand in vier distrikte afgekondig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.