Stropers in Namibië voer skrikbewind

Deel op

Die eienaar van Emanya Lodge tussen die Etosha Nasionale Park en Oshivelo, sê sy “wil weghardloop” uit moedeloosheid omdat stropers ’n skrikbewind voer en dit lyk of die polisie nie veel daaraan gaan doen nie.

Dertien van haar 18 swartwitpense van etlike miljoene Namibiese dollar is al deur die stropers doodgeskiet, terwyl sy in die afgelope agt maande ook 35 beeste verloor het, vertel me. Nelie Lewies, wat benewens die lodge ook ’n boerdery bedryf.

Sondagnag het ’n span wat vermoedelik Maandag ook vyf beeste geslag het op die gasteplaas Sachsenheim van haar bure, mnr. en me. Gerd en Maria Sachse, by die lodge ingebreek en die rekenaarbediener asook al die sekuriteitskameras gesteel.

“Ek het by my kamervenster uitgekyk en die vier mans gewaar. Toe ek vir hulle skree ‘haai, wat maak julle hier’, het hulle nie eens weggehardloop nie,” vertel Lewies.

Volgens Maria Sachse het haar man Maandag omstreeks twaalfuur op vier vermeende stropers in die veld afgekom nadat hulle vyf beeste geslag het.

“Die stropers het gelê en slaap en hy het stilletjies terugbeweeg en my gebel sodat ek die polisie kan ontbied.”

Sy sê die polisie van Oshivelo het eers vieruur die middag daar aangekom en die stropers het toe al spore gemaak.

“Een van die polisiemanne het een van die spore geëien as dieselfde spoor wat hulle gewaar het toe hulle vroeër die dag die inbraak by Emanya ondersoek het.

“Hy het vir ons gesê die mans is gewapen.”

Volgens haar het die polisie die spore gevolg en in ’n stadium drie mans met vleis by hulle gewaar, maar die mans het hulle glo ontglip.

Sachse vertel verder dat een van die plaaswerkers verlede jaar deur ’n vermeende stroper met ’n mes in die rug gesteek is. “Ons het die saak by die polisie aangegee, want die man het gedreig om ons dood te maak, maar daar het niks van die ondersoek gekom nie.”

Lewies sê hulle het verlede jaar een aand in die restaurant by die Emanya Lodge gesit toe stropers lostrek en van die swartwitpense doodskiet. “Die werkers was vreesbevange en het in die wynkelder gaan wegkruip.”
Ook dié ondersoek het op niks uitgeloop nie, sê sy.

“Ons voel die weermag moet ingestuur word en die plase skoonmaak. Ons kan dit nie meer hou nie. Ek voel ek wil weghardloop. Aan die een kant baklei ons teen die droogte, want ons het nog nie eens 100 mm vir die seisoen gehad het. En aan die ander kant ly ons onder die strooptogte,” sê ’n moedelose Lewies.

Dit het haar N$100 000 gekos om haar rekenaarbediener en sekuriteitskameras te vervang. “Ons besoekers is meestal oorsese toeriste. Ons het nou al die inligting verloor van besprekings wat reeds gedoen is. Ek moes dadelik weer hierdie toerusting aanskaf.”

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.