Die polisie in Noordwes soek steeds na ses gewapende rowers in verband met ‘n transito-rooftoog naby Setlagoli waarin miljoene rande Dinsdag uit ‘n geldwa gebuit is.
Polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê die transito-rowers het twee wagte van ‘n sekuriteitsmaatskappy vasgebind en brandstof oor hulle uitgegooi.
Hy sê die wagte, wat onderweg was in die rigting van Vryburg, het omstreeks 13:00 van die pad af getrek nadat hulle geld by ‘n myn by Setlagoli afgehaal het.
Hulle was besig om ‘n pap band van die geldwa om te ruil toe die booswigte toegeslaan het.
Ramaloko sê die wagte is vasgebind en gedreig dat hulle aan die brand gesteek gaan word as hulle nie hul samewerking gee nie. Die booswigte het op die vlug geslaan met meer as R5 miljoen, twee vuurwapens en selfone.
Ramaloko sê die sekuriteitswagte het geen ernstige beserings opgedoen nie. Ramaloko wil nie die sekuriteitsmaatskappy se naam in die media bekendmaak nie om veiligheidsredes.