De Klerk, Vlok staar strafregtelike aanklagte oor apartheidsmisdade in die gesig

Deel op

Die kollektiewe skuld wat Afrikaners moet verduur oor apartheid, het uiteindelik ‘n gesig of twee gekry.

Die Anti-Racism Action Forum (ARAF) sal Woensdag tot die logiese stap oorgaan om die apartheidspresident FW de Klerk van verskeie apartheidsmisdade aan te kla.

Die oud-president en Nobelvredespryswenner het voorheen klaarblyklik geglo sy eie veroordelings van “rassiste” en “apartheidsapologete” sal hom kwytskeld van sulke aanklagte.

De Klerk het reeds by herhaling aangedui dat hy hyself gekant was teen apartheid en dit by talle geleenthede ten sterkste veroordeel.

Hy het tewens om daardie rede die hele land aan die ANC se meerderheidstirannie oorhandig sonder slag of stoot.

Dit is daarom net logies dat ten minste 22 strafregtelike aanklagte teen die voormalige staatspresident asook die voormalige minister van polisie, Adrian Vlok ingedien is, aangesien hulle self die verantwoordelik aanvaar het vir wat beskou word as ‘n bose stelsel.

Die Forum, wat homself met dié optrede bekendstel, sê die aanklagte gaan by Hillbrow-polisiekantoor ingedien word.

Die organisasie sê die aanklagte handel oor misdade waarvoor die twee nie amnestie ontvang het nie.

‘n Woordvoerder, Zandi Radebe sê daar is steeds mense wat nie verantwoordbaar gehou word vir die ongeregtighede van die verlede nie.

De Klerk het vroeër gesê diegene wat hom van menseregteskendings wil aankla, moet voortgaan om dit te doen.

Hy sê hy is twee keer deur elemente in, of lede van die Waarheid- en Versoeningskommissie voor die hof gedaag oor beweerde skending van menseregte.

De Klerk sê hy het een van die sake gewen, terwyl die tweede saak teruggetrek is.

Hy sê egter hy kan nie namens voetewasser Vlok oor die organisasie se planne praat nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.