Aanvalle op vragmotorbestuurders in die Karoo raak ‘n kopseer sê bestuurders.
As die polisie nie optree teen aanvallers nie, sal bestuurders genoop word om die reg in eie hande te neem, sê hulle.
‘n Vragmotorbestuurder van Kaapstad is verlede week buite Beaufort-Wes aangeval.
Netwerk24 het berig dat Pierre Momberg (40) in die oggend omstreeks 03:30 net ná die verkeerslig aan die Kaapse kant van Beaufort-Wes stilgehou het om sy vragmotor te inspekteer.
Die aanvallers, vermoedelik swart of bruin, het met messe en ysterpype gewapen op hom toegesak.
Volgens Beaufort-Wes se polisiewoordvoerder is nie een van die betrokke polisiekantore – Beaufort-Wes en Leeu-Gamka – ingelig oor die voorval nie.
Die parlement sal glo vandag polisielede wat by misdaad betrek word onder die loep neem.
‘n Verslag van die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat toon dat meer as 2700 sake teen die polisie in die ses maande tussen April en September verlede jaar by OPOD aangemeld is.
Volgens die verslag was daar 103 sterftes in polisie-aanhouding, terwyl 159 mense weens polisie-optrede dood is.
Daar is 61 verkragtings deur polisielede aangemeld en 50 mense is tydens polisie-aanhouding verkrag.
Sowat 73 gevalle van marteling is aangemeld.
Die syfers toon dat die polisie 1745 mense aangerand het. Altesaam 44 polisielede word van korrupsie aangekla.