Geen vredesmag vir Burundi nie, sê AU

Deel op

Die Afrika-unie (AU) sal nie ‘n vredesmag na die beleërde Burundi stuur tensy die regering in Bujumbura daartoe instem nie, het dié unie se spesiale verteenwoordiger vir die streek gister aan die Franse radiodiens RFI gesê.

NUUT!

Burundi is gekant teen die AU se voorgestelde vredesending van 5 000 lede en sê ‘n ontplooiing van troepe sonder toestemming sal neerkom op ‘n “invalsmag”, het AFP berig.

Die Verenigde Nasies (VN) het gewaarsku Burundi staan gevaar om ‘n herhaling van die 1993-1994-burgeroorlog te beleef, met honderde mense wat sedert April verlede jaar doodgemaak is toe pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het hy gaan vir ‘n omstrede derde termyn as staatshoof staan. Nagenoeg 230 000 inwoners het reeds na naburige lande gevlug.

“Ek dink dit was swak kommunikasie. Dit was nooit die voorneme van die AU om ‘n vredesmag in Burundi te ontplooi sonder die toestemming van dié land se owerhede nie,” het Ibrahima Fall, AU-verteenwoordiger vir die Groot Mere-streek, gesê. “Dit is ondenkbaar,” het dié Senegalese diplomaat bygevoeg.

AU-leiers het die naweek die krisis in Burundi tydens ‘n twee dag lange beraad by sy hoofkwartier in Ethiopië bespreek. Die samesprekings is agter geslote deure gehou en dit was gister nog nie duidelik wanneer ‘n finale besluit geneem sal word nie.

Fall het aan RFI gesê die AU-leiers oorweeg om ‘n “hoëvlak-afvaardiging, maar nie só hoog nie,” na Burundi te stuur vir samespreking met dié land se regering.

Nkurunziza se veldtog om die mag te behou, het tot weke lange protesoptogte in die strate aanleiding gegee wat wreed onderdruk is, asook tot ‘n mislukte staatsgreep.

Sedert sy herverkiesing in Julie verlede jaar, het die gevegte tussen lojale regeringsondersteuners en die opposisie toenemend meer gewelddadig geword.

Die AU-handves, artikel 4(h), gee die Pan-Afrikablok die reg om in te meng in ‘n mede-lidland se huishoudelike sake wanneer “oorlogsmisdade, volksmoord of misdade teen die mensdom” gepleeg word.

Ontleders sê egter ander Afrikalande is bang om ‘n presedent te skep deur téén die regering se wens in troepe te ontplooi.

Die VN se sekretaris-generaal, Ban Ki-moon, het dit Saterdag tydens die opening van die beraad duidelik gemaak dat ‘n troepemag nodig is om die geweld in bedwang te bring.

“Leiers wat toekyk terwyl burgerlikes in hulle naam afgemaai word, moet tot verantwoording geroep word,” het Ban gesê en benadruk die krisis vereis “ernstige en dringende toewyding”.

Hy sê die VN ondersteun die AU se voorstel om “menseregte-waarnemers te ontplooi en ‘n mag vir voorkoming en beskerming” daarheen te stuur.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.