Britse vlieënier deur stropers doodgeskiet

Deel op

Drie mense is in hegtenis geneem oor die moord op ‘n Britse helikoptervlieënier deur olifantstropers in Tanzanië. Die voorval het in die Maswa-wildreservaat gebeur.

Die mans is Sondag deur die polisie aangekeer weens die moord op Roger Gower, het die Agence France Presse (AFP) nuusagentskap berig.

‘n Suid-Afrikaner is ook in die aanval gewond.

Gower, 37, het owerhede in Tanzanië bygestaan om stropers waan te keer toe hulle Vrydag op sy heli losgebrand het, het die Friedkin Conservation Fund (FCF) gesê.

Hy het daarin geslaag om die helikopter in die Maswa-reservaat naby Serengeti Nasionale Park te laat land, maar het aan sy wonde beswyk voor hy kon gered word.

Die polisie in Tanzanië ondersoek ‘n moordsaak teen drie mans wat in hegtenis geneem is nadat die Britse vlieënier vermoor en ‘n Suid-Afrikaanse safarigids gewond is.

Die polisie sê die gewapende aanvallers het op die mans se helikopter geskiet waar hulle op soek was na olifantstropers.

Gower se Suid-Afrikaanse kollega, Nicky Bester kon daarin slaag om betyds uit die helikopter te spring.

‘n Woordvoerder van Tanzanië se Nasionale Parke sê nóg stropers kan binnekort aangekeer word.

Tanzanië is in ‘n bitter stryd gewikkel om ivoorstropers te stop. In ‘n verslag verlede jaar is geraam dat 60% van die land se olifantbevolking in die vorige vyf jaar uitgeroei is.

China is die wêreld se grootste mark vir onwettige ivoor, wat onder die dekmantel van wettige ivoorverkope floreer.

Tanzanië het ook verlede jaar ‘n Chinese vrou, Yang Feng Clan, 66, wat 1,9 ton se smokkelivoor geskuif het, veroordeel.

Gower was ‘n voormalige rekenmeester wat as ‘n vlieënier gekwalifiseer het in 2004 en verhuis het na Afrika ongeveer twee jaar later, volgens ‘n profiel van sy voormalige werkgewer Tropic Air Kenia.

Hy het vroeër die Britse leër met die oefeninge in die land bygestaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.