Mugabe se aanvalle op wittes raak feller

Deel op

Die uittredende AU-voorsitter, Robert Mugabe het die VN by die Afrika-beraad gekritiseer en gesê die Veiligheidsraad stel slegs daarin belang om witmense in sleutelposisies aan te stel.

Die Zimbabwiese president het Saterdag ‘n staande ovasie deur sy swart eweknieë in Addis Abeba, Ethiopië, ontvang vir sy jongste aanval op wittes.

Hy het afgesluit met meer as net sy gewone skeltaal teen voormalige koloniste, imperialiste, Westerlinge, die Amerikaanse president Barack Obama, die Verenigde Nasies en blankes oor die algemeen.

VN Sekretaris-generaal Ban Ki-moon het ineengekrimp op sy sitplek op die podium gelyk toe die 91-jarige Mugabe gedreig het dat Afrika uit die VN stap tensy die vasteland permanente verteenwoordiging op die Veiligheidsraad kry.

“Ons Afrikane is moeg vir hol toesprake by die VN met geen resultate nie,” het hy gesê.

Hy het gesê die VN se hoofkwartier in New York is misplaas en behoort in ‘n meer bevolkte land, soos China, Indië, of in Afrika te wees.

Gerugte dat Mugabe sterwend is, is ook die nekslag toegedien met die ou swart staatshoof wat vol veglus was.

President Jacob Zuma het ter ondersteuning van Mugabe gesê Afrika behoort nie die blaam te kry vir die gebrek aan hervorming van die VN se Veiligheidsraad nie.

Zuma sê dit is nie Afrika se keuse om geen permanente plek op die Veiligheidsraad te hê nie.

Zuma se opmerkings kom nadat die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki Moon vroeër by die Afrika-beraad in Addis Abeba gereageer het op Mugabe se aantygings en gesê het verdeeldheid verhoed die hervorming wat Afrika-lande eis.

Ban sê sekere lande jaag slegs hul eie belange na.

Die Afrika-vasteland het twee roterende plekke op die Veiligheidsraad.

Suid-Afrika kan binnekort ook onttrek uit die Internasionale Strafhof (ICC), het Zuma Sondag verklaar.

Hy het opgemerk dat hy en sy mede-leiers van Afrika groeiende kommer ervaar oor die wyse waarop die ICC teenoor die vasteland optree.

Zuma het gesê Suid-Afrika se bekragtiging van die Statuut van Rome is problematies.

“Suid-Afrika is ernstig om sy deelname aan die Statuut van Rome te hersien en sal mettertyd sy besluit aankondig,” het hy by die beraad gesê.

Die sekretaris van die parlement, Gengezi Mgidlana het intussen bekend gemaak dat die media toesgepreek sal word oor die voorbereidings vir President Jacob Zuma se staatsrede op 11 Februarie.

Hy sal na verwagting benadruk hoe Parlementslede hulle behoort te gedra.

Verlede jaar is EFF-LP’s uit die Nasionale Vergadering verwyder omdat hulle die President se toespraak onderbreek het. Die DA het in reaksie daarop uitgestap.

Die media sal na verwagting meer duidelikheid kry oor die Parlement se nuwe reëls en ander prosedures.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.