M-Net, die televisiefiliaal van die magtige Naspersgroep, het hul dringende hofgeding met die aanbieder Gareth Cliff verloor en moet sy regskoste betaal, asook hom heraanstel as “Idols”-beoordelaar.
Sy swart advokaat, Dali Mpofu, het in die hof aangevoer dat Cliff “afgedank is omdat hy ‘n blanke is”. Hiermee het Mpofu M-Net se beskuldigings van “rassisme” jeens Cliff in eie munt terugbetaal.
Regter Caroline Nicholls het bevind dat daar ‘n ooreenkoms tussen Cliff en M-Net bestaan en dat die ooreenkoms eerbiedig moet word.
‘n Ontspanne Gareth Cliff het vandag by die Hooggeregshof in Johannesburg opgedaag om die uitspraak aan te hoor. Hy is agterna tesame met sy blanke vroueprokureur en Dali Mpofu gefotografeer, terwyl hy breed glimlag.
Cliff sou vanjaar mede-aanbieder van die twaalfde seisoen van die Suid-Afrikaanse werklikheidstalentprogram wees, maar in die naloop van die Penny Sparrow-debakel is hy afgedank omdat hy ‘n “rassistiese uitspraak” sou gemaak het. Hy het egter bloot met betrekking tot Penny Sparrow gesê: “Mense verstaan hoegenaamd nie spraakvryheid nie.”
Die aanbieder het Dinsdag ‘n dringende aansoek teen M-Net geloods waarin hy die hof versoek om hom her- aan te stel of aan hom R25 miljoen aan skadevergoeding vir laster en die beëindiging van sy kontrak te betaal.
Die eerste Idols-oudisies begin reeds môre in Durban. Cliff sal egter eers vanaf 3 Februarie by die hoofoudisies teenwoordig wees.
M-Net is deur die liberale blanke advokaat, Wim Trengove, verteenwoordig. Hy het in die hof gesê: “M-Net meen dat hulle nie iemand wil hê wat Penny Sparrow verdedig nie.”