Oxfordse universiteit kapituleer nie oor Rhodesstandbeeld nie

Deel op

In skrille kontras met die Universiteit van Kaapstad, het die Oxfordse universiteit besluit om hom nie aan agitasie teen die Rhodesstandbeeld op sy kampus te steur nie. Oriel-kollege, waar Rhodes se standbeeld staan, het aangekondig dat dit nie van plan is dit te verwyder nie aangesien die kollege skenkings van tot £100m (R2,3 miljard) mag verloor indien hy daarmee sou voortgaan.

Volgens ‘n berig in die Londense Daily Telegraph, het die kollege verklaar: “Ná versigtige oorweging het die kollege se beheerliggaam besluit dat die standbeeld moet bly staan.”

‘n Swart Suid-Afrikaanse student, Ntokozo Qwabe, wat self met ‘n Rhodesbeurs aan die Universiteit van Oxford studeer, het heftig teen die standbeeld beswaar gemaak. Hy het ook gekla dat daar “te min swart professore aan Oxford is”.

Maar die Engelse in Engeland was nie heeltemal so ontvanklik vir swart voorskrifte soos die Engelse van Kaapstad nie. Volgens die Telegraph het Oriel-kollege reeds kansellasies van £1,5m ervaar met sommige alumni wat ook laat weet het dat hulle die kollege uit hul testamente sal weglaat.

“Die oorweldigende boodskap wat ons gekry het, is ten gunste van die behoud van die standbeeld,” sê Oriel. “Die kollege glo dat die onlangse debat juis beklemtoon het dat die voortdurende teenwoordigheid van historiese beelde ‘n belangrike herinnering verteenwoordig aan die ingewikkeldheid van die geskiedenis en die erfenis van kolonialisme wat vandag nog voelbaar is.”

Rhodes het die De Beers-mynmaatskappy gestig, terwyl teenswoordige Zimbabwe en Zambië insgelyks na hom vernoem is as Suid- en Noord-Rhodesië. Rhodes het geld geskenk aan Oriel-kollege, een van die 38 kolleges waaruit die Oxfordse Universiteit saamgestel is, en het insgelyks die Rhodesbeursfonds opgerig wat nie-Britse studente gehelp het om aan die universiteit te kan studeer. Onder hulle tel die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton, asook die oudpremier van Australië, Tony Abbott.

“Om iemand so letterlik op ‘n voetstuk te plaas, bied implisiete steun aan sy erfenis,” het Daisy Chandley, een van die kampvegters vir die verwydering van die standbeeld, verlede maand gesê.

Die kanselier van Oxford, Chris Patten, het vandeesmaand in ‘n toespraak na die onderonsie rondom die standbeeld verwys deur te sê: “Ons geskiedenis is nie ‘n blanko vel waarop ons ons eie weergawe kan skryf van wat moes gebeur het nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.