Brasilië in stryd teen Zika

Deel op

Die Brasiliaanse president, Dilma Rousseff het ‘n beroep op Suid- en Sentraal-Amerikaanse lande gedoen om saam te staan in die stryd teen die Zika-virus.

Brasilië het al byna 4000 gevalle van babas met kleinskedeligheid aangemeld, wat aan die virus toegeskryf word.

Maar dit kon nog nie bepaal word of die Zika-virus die oorsaak is van mikrokefalie by sommige babas is nie. Sekere chemiese middels word wel daaraan verbind.

Brasilië is die grootste verbruiker van agrichemiese pesbeheerstowwe in die wêreld.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê na verwagting sal dié siekte, wat deur besmette muskiete versprei word, na alle lande in Noord-, Sentaal-, en Suid-Amerika versprei.

Die Aedes-muskiet kan nie in koue lande soos Kanada en Chile oorleef nie.

Intussen kon die WGO ook nie bevestig dat die virus verantwoordelik is vir mikrokefalie, of kleinskedeligheid, by babas wat in Suid-Amerika gebore is nie.

Rousseff het by ‘n streeksberaad in Ekwador gesê dat lande kennis oor die beste praktyke en tegnologie moet uitruil.

Sy sê dit is die enigste manier waarop die siekte verslaan kan word.

Die regering gebruik al geruime tyd genetiesgemanipuleerde muskiete om siektes soos knokkelkoors te beheer. Dit is nie bekend of hierdie muskiete ook vir die Zika-plaag verantwoordelik is nie.

Die muskiet kom in tropiese gebiede voor van Afrika, die Amerikas, Suidelike Asië en die eilande in die Westelike Stille Oseaan.

Die virus is die eerste keer in 1947 in Uganda by ape gediagnoseer, maar die eerste geval by mense was eers in 1954 aangemeld.

Daar is nog geen sulke gevalle in Suid-Afrika aangemeld nie en ‘n woordvoerder van NIOS het gesê dit is hoogs onwaarskynlik dat die virus hierheen sal versprei.

Vroue in die streke wat geraak word, word nou aangeraai om vir minstens twee jaar nie swanger te raak nie.

Intussen bestaan vrese dat dit die Olimpiese Spele later vanjaar kan kelder.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.