Rand vertoon stewiger na rentekoersverhoging

Deel op

Die rand het dadelik stewigers vertoon toe die Reserwebank Donderdagmiddag rentekoerse verhoog het, maar verbruikers gaan sukkel met hoër skuldafbetalings.

Die Reserwebank het Donderdag die rentekoers met 50 basispunte verhoog nadat inflasie van 6,8 persent in die vooruitsig gestel is.

Die rand het tot R16,15 teen die dollar versterk nadat Lesetja Kganyago, Reserwebankvoorsitter, die bank se repokoers van 6,25% tot 6,75% opgestoot het.

Die vooruitsigte vir inflasie het “aansienlik verswak” sedert November, sê Kganyago, grootliks weens ‘n swakker rand en hoër voedselpryse agv die droogte.

Dié verhoging is moontlik ook nie die laaste verhoging vir die jaar nie.

Kganyago sê sedert die vergadering in November het die rand met 13,5% teenoor die dollar verswak en 15,2% teenoor die euro.

Prima rentekoers van banke staan tans op 10,25%.

Die Reserwebank se inflasie-vooruitskatting van bykans sewe persent kan ook binnekort opwaarts aangepas word wanneer nuwe elektrisiteitstariewe goedgekeur word.

Die Bank sê inflasievooruitsigte is gebaseer op tariefverhogings van twaalf persent.

Die adjunkpresident van die Bank, Francois Groepe sê sodra die Nasionale Energiereguleerder ‘n besluit geneem het oor Eskom se aansoek oor ‘n verhoging, sal die Reserwebank sy model aanpas indien nodig.

Ekonome het Suid-Afrikaners intussen gemaan om hulle skuld so gou moontlik af te los.

Die bestuurshoof van Eerste Nasionale Bank, Jacques Cilliers sê die afbetaling van skuld moet verbruikers se eerste prioriteit wees.

Cilliers het ook gesê dit is onwaarskynlik dat die jongste rentekoersverhoging die laaste sal wees vir die jaar.

Die gemiddelde inflasiekoers was 4,6% in 2015.

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, het aan Netwerk24 gesê die verhoging maak dit duidelik die Reserwebank het baie meer bekommerd geraak dat inflasie hoër as die boonste punt van sy teikenband van 6% gaan beweeg én dan “teen ‘n hoër gemiddelde vlak ingegrawe word”.

Lings verwag dat die rentekoers verder sal styg vanjaar en eindig op 7,5%.

Ontleders meen hoër rentekoerse sal onvermydelik ten koste van groei en werkgeleenthede geskied.

‘n Swak rand, droogtetoestande en hoër kragtariewe wat met hoë rentekoerse aangespreek word, kan die risiko van ‘n resessie beteken.

Volgens ‘n peiling van nege ekonome deur Bloomberg is die waarskynlikheid dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar vir twee opeenvolgende kwartale krimp, hoog.

Verwagtinge van ekonomiese groei is ook laer. Groei in 2015 was na raming sowat 1,3% en gaan na verwagting slegs 0,9% wees in 2016, in vergeleke met vorige vooruitskattings van 1,5% en 2,1% onderskeidelik.

Die hoër rentekeorse gaan toenemende finansiële druk op verbruikers plaas.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.