Mededingingskommissie ondersoek valuta-samespanning

Deel op

Die mededingingskommissie het ‘n ondersoek geloods na samespanning deur sekere valutahandelaars, maar het ontken dat die daling van die rand ondersoek word.

‘n Woordvoerder van die kommissie, Themba Mathebula het bevestig dat ‘n ondersoek na valutahandelaars van stapel gestuur is.

Hy het gesê bankinstellings waaronder BNP Paribas, Citigroup, Barclays, JP Morgan Chase, Investec en Standard Chartered is tans onder die vergrootglas.

Mathebula sê sommige handelaars het na bewering pryse vasgestel.

Die rand het verlede jaar met 25 persent teenoor ‘n mandjie van geldeenhede gedaal en verhandel nou na aan R16,50 teenoor die dollar.

Die kredietgraderingsmaatskappy Standard en Poor het vroeër weer gewaarsku dat Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer sal word.

Die agentskap het gesê dat swak ekonomiese groei en die regering se finansiële hulp aan staatsentiteite, binnekort daartoe kan lei dat die land rommelstatus bereik.

Standard en Poor sê in ‘n verslag Suid-Afrika loop die gevaar om nie sy fiskale teikens te haal nie.

Volgens aanduidings wil die Reserwebank sy vooruitsigte vir ekonomiese groei verlaag tot sowat 1%.

Die Tesourie moes miljarde rand se waarborge lewer asook lenings toestaan aan maatskappye in staatsbesit soos Eskom en SAL om hulle in bedryf te hou.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.