Waterpype lek en geld vloei

Deel op

Waterlekkasies in pype, nog voor dit gemeenskappe se krane bereik, sal as prioriteit vir die regering beskou word.

Mlimandlela Ndamase, woordvoerder van die minister van Water en Sanitasie, Novula Mokonyane, sê ‘n interne ministeriële komitee vir droogte beskou dit as ‘n kritieke aangeleentheid waarna munisipaliteite moet omsien.

Hy sê die regering het die verantwoordelikheid op hom geneem om dié probleem op te los in ‘n poging om water te bespaar.

Die regering het ook onderneem om fondse beskikbaar te stel om swart loodgieters op te lei om werksgeleenthede te skep.

Gemeenskappe se samewerking is egter van groot belang. Ndamase sê mense moet waterlekkasies aanmeld.

Hy sê mense moet nie aanneem dat iemand anders ‘n lekkasie sal aanmeld nie. Hulle moet dit self doen en voortdurend opvolg hoe lank dit ‘n munisipaliteit geneem het om herstelwerk te doen.

Hy vra mense om munisipaliteite aan te gee wat versuim of tydsaam is om die lekkasies, wat ‘n vermorsing van water veroorsaak, te herstel.

Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van samewerking onder alle belanghebbendes en gee sy versekering dat die regering toegewyd is tot waterbesparing in die land.

Inisiatiewe is reeds van stapel gestuur om water aan droogtegeteisterde gebiede te versprei.

Organisasies wil steun werf om veral swart gemeenskappe wat hulp nodig het, by te staan.

Drie miljoen liter water is reeds versprei in die Vrystaat, Noordwes en die Oos-Kaap.

Twintig tenkwaens sal water na die Tswaing plaaslike munisipaliteit aanry. Die munisipaliteit is die afgelope tyd swaar getref deur watertekorte en die droogte.

Die Departement van Water en Sanitasie het R350 miljoen bewillig vir die Ngaka Modiri Molemadistrik in Noordwes om sanitasie en droogteverwante probleme te probeer verlig.

Die gebied word geteister deur watertekorte en swak bestuur wat afvalwater-behandeling in die wiele ry.

Die uitvoerende hoof van Sedibeng Water het onderneem om te verseker dat die water-infrastruktuur in die gebied verbeter word.

Rembuluwani Takalani sê hulle het ‘n sakeplan van R2 miljard ontwikkel wat al die droogtegebiede sal insluit.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.