ANC kla 3 ‘rassiste’ van DA aan, om ‘rasse-oorlogvoering’ te voorkom

Deel op

Die ANC het losgetrek met ‘n reeks regsprosedures teen vier mense wat die party as die land se grootste “rassiste” beskou. Twee van hulle is DA-ampsdraers, Dianne Kohler Barnard en Chris Roberts, asook die sedertdien geskorste DA-lid wat reeds nasionale en internasionale berugtheid verwerf het, Penny Sparrow. Die enigste swart “rassis” wat aangekla word, is Velaphi Khumalo, ‘n werknemer van die dept. sport, kuns en kultuur in die Provinsie Gauteng. Khumalo het op Facebook geskryf dat blankes die “Hitler-behandeling” moet kry (sien hier bo).

Waarskynlik word Khumalo slegs aangekla omdat die Suid-Afrikaanse Raad van Joodse Afgevaardigdes druk toegepas het oor die verwysing na Hitler en die implisiete goedkeuring van sy beleid jeens Jode in die Facebook-uitspraak, en nie omdat die ANC-SAKP hoegenaamd begaan is oor antiblanke stellings nie. Dié afleiding word gestaaf deur die ANC se mediaverklaring gister waarin dié stap só omskryf word:

“Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sê die ANC beskik as regerende party oor die morele en wetlike verpligting om leierskap te betoon en die verantwoordelikheid om rassekonflik en -oorlogvoering te voorkom. Die aansoeke word primêr gebring om die waardigheid van die swart, kleurling- en Indiërmeerderheid te herstel en om die grondwet te verdedig.”

 

Die party wil hê die vier moet onder die Wet op die bevordering van gelykheid en die voorkoming van onbillike diskriminasie vervolg word. Die ANC het Dinsdag ‘n aansoek by die Wes-Kaapse Hooggeregshof teen die DA-lid, Dianne Kohler Barnard, geliasseer, waarin hy om ‘n bevel vra dat Paul Kirk se Facebook-inskrywing, wat verlede jaar in September deur Kohler Barnard gedeel is, as rassisties verklaar word en haatspraak en onbillike diskriminasie verteenwoordig, soos dit deur die wet omskryf word.

In sy funderende eedsverklaring beweer Gwede Mantashe dat “Kohler Barnard se oproep om die terugkeer van PW Botha ‘n oproep is vir die terugkeer van verdrukking, onderdrukking, aanhouding, marteling, skending en moord op ontelbare swart, Indiër- en kleurlingmense. Trouens, dit is ‘n oproep om die terugkeer van die gehate stelsel van apartheid self.”

Die ANC eis ook ‘n verklarende bevel dat die gedrag van Kohler Barnard die lede en ondersteuners van die ANC, asook die miljoene swartmense, kleurlinge en Indiërs hul inherente waardigheid misken, tesame met hul grondwetlike reg om hul waardigheid geag en beskerm te sien. Daar word ‘n beroep op die hof gedoen om te verklaar dat spraakvryheid nie rassistiese uitlatings en haatspraak insluit nie.

R500 000-boete vir Kohler Barnard

Die regerende party wil hê dat Kohler Barnard R500 000 moet betaal aan ‘n organisasie wat nie-rassigheid, vedraagsaamheid en versoening in Suid-Afrika bevorder en doen ‘n beroep op die direkteur van openbare vervolgings om ook strafregtelike stappe teen haar te neem.

In die Port Elizabethse Hooggeregshof doen die ANC insgelyks aansoek teen die DA-raadslid in die Nelson-Mandelabaai-metropolitaansemunisipaliteit, mnr. Chris Roberts, wat sy mederaadslid, Mongameli Bobani, tydens debat in die raadsaal op 30 Julie verlede jaar ‘n “bobbejaan”  genoem het.

Gisteroggend het die ANC insgelyks ‘n aansoek teen Penny Sparrow in die Scottburgse Landdroshof in Kwazulu-Natal geliasseer weens haar uitspraak dat swartes wat rommel strooi ape is. Dié uitlating moet volgens die ANC tot haatspraak verklaar word en sy moet vergoeding ten bedrae van R200 000 betaal, asook “as ‘n misdadiger” vervolg word.

Volgens dieselfde verklaring deur Zizi Kodwa, die ANC se mediawoordvoerder, het die ANC Dinsdag ‘n geding teen Velaphi Khumalo in die Roodepoortse Landdroshof ingestel vir haatspraak en onbillike diskriminasie na aanleiding van sy oproep “dat Suid-Afrika van alle blankes gesuiwer moet word soos wat Hitler met die Jode gemaak het” (sien skermskoot hier bo).

PW Botha en Verwoerd se beleid ‘identies met dié van Hitler’

Volgens Mantashe, “het die ANC vele blanke en Joodse lede en is dit die organisasie se plig om sy lede te beskerm en die fokus op die bou van ‘n nierassige maatskappy te behou. Hitler het die Jode aan die mees onmenslike vorme van menseregteskendings onderwerp, identies met dít waaraan swartes, kleurlinge en Indiërs in Suid-Afrika onder PW Botha en Hendrik Verwoerd onderwerp is.”

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.