Vragmotors sal loop: Spoorweë kan nie verhoogde graaninvoer hanteer

Deel op

Met die verval in spoorinfrasktuur ná 21 jaar van ANC-bewind, sal Suid-Afrika se voorgenome voedselinvoere per pad vervoer moet word. Die reusehoeveelhede graan wat R15 tot R20 miljard gaan kos, is nodig weens die droogte en “grondhervorming” wat tot ‘n drastiese afname in graanproduksie gelei het. Die land word tans deur die ergste droogte sedert 1992 geteister.

Verlede week het die ANC-SAKP se minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana, gesê dat die graan dringend ingevoer moet word aangesien Suid-Afrika se voedsel vir menslike en dierlike verbruik mag opraak. Zimbabwe gaan ook van graan deur Suid-Afrikaanse hawens voorsien word.

Transnet meen dat die land se hawens en spoorweë steeds oor die kapasiteit beskik om die graaninvoere te hanteer. ‘n Span “deskundiges” is glo deur die maatskappy byeengebring om ‘n “geïntegreerde benadering” te verseker. Die hawens wat in staat is om graaninvoere te hanteer, is Durban, Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen, met kapasiteit by Richardsbaai wat ook onlangs beskikbaar geraak het.

 

Daar heers onenigheid oor die hoeveelheid graan wat reeds per pad vervoer word, met die res wat per spoor verskuif word. Graan SA, wat 5 500 boere verteenwoordig, meen slegs 75% word per pad vervoer, maar die Standardbankgroep beweer dat die spoorweë so agteruit gegaan het dat ‘n volle 90% per pad vervoer word.

“Dit het meer te make met die gebrek aan instandhouding op spoortrajekte wat die graangemeenskappe bedien as enigiets anders,” sê die hoof van Standardbank se voertuig- en batefinansiering, vir sake- en handelsvoertuie, Toni Fritz.

Om die land se groeiende bevolking te voed, sal daar tussen 5 en 6 miljoen ton mielies ingevoer moet word, ná aanvanklike ramings van 4 miljoen ton.

Private vervoerkontrakteurs gaan waarskynlik goeie sake weens die verhoogde graaninvoere doen. Boere met hul eie vragmotors kan self inspring om daaraan deel te neem, maar indien daar haakplekke by die hawens is, kan hulle nogmaals geld verloor, afgesien van hul swakker opbrengste.

Transnet het blykbaar 2 000 goederetrokke weer in gebruik gestel om sy kapasiteit uit te brei.

 

‘n Ekonoom van Graan SA, Corné Louw, sê dat daar “beslis” ‘n toename in die padvervoer van graan gaan plaasvind. Transnet is egter “vol vertroue” dat die grootste deel van die graan per spoor gehanteer sal word.

Ongeveer 5 miljoen ton mielies sal in die bemarkingsjaar van 1 Mei tot April aanstaande jaar ingevoer word, volgens Graan SA.

Terselfdertyd sal koringinvoere meer as 2 miljoen tydens dieselfde periode bereik. Gewoonlik voer Suid-Afrika slegs 2 miljoen ton mielies en 1,5 miljoen ton koring in.

 

Ander lande wat ook via die Suid-Afrikaanse hawens bedien gaan word, is Zimbabwe, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland wat 630 000 ton mielies en 270 000 ton koring sal ontvang.

Indien ‘n noodtoestand ontstaan, kan van Transnet se uitvoerkapasiteit ook in invoerkapasiteit omgeskakel word. “Gebeurlikheidsplanne” vir so iets bestaan.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.