Boere in Nood is snelgroeiendste Facebook-groep ter wêreld en help boere landwyd

“Dit is ‘n wonderlike dag vir die mense van Suid-Afrika wat die Boere in Nood-groep op Facebook ondersteun,” sê die organiseerders. Die groep is gestig om boere wat deur die droogte ramp binne Suid-Afrika geraak word te ondersteun. Die inisiatief wat in November 2015 begin is, voor ander organisasies en georganiseerde landbou-organisasies, is vandag die snelgroeiendste Facebook-groep in Suid-Afrika. In die tweede posisie is die Facebook-groep wat help om water te versprei na Suid-Afrikaners wat ’n skaarste aan water ondervind – Water Shortage South Africa.

Caroline van Saasen, stigter van WSSA het met ‘n werknemer van die LA Times gepraat en ’n vrou van Facebook. “Sy was die een wat vir my gesê het dat ons die groep op Facebook is wat die tweede vinnigste groei en dat albei die top-groepe Suid-Afrikaans is.  ‘Boere in Nood’ is nommer een,” sê Van Saasen.

Die BIN-projek is ʼn skarewerwingsprojek en het al honderde boere in erge droogtetoestande regoor Suid-Afrika gehelp. Die Boere in Nood-groep was eerste op die grond en besig deur Kersfees en Nuwejaar om boere by te staan.

Die direkteure van dié nie-winsgewende organisasie, NC Schoombee (stigter), Nico Gerber en Carina Swartz, het die nood op voetsoolvlak raakgesien en het besluit om in te spring en werk te maak van die saak. Hulle het sosiale media gebruik om ʼn noodroep te begin na die burgers van Suid-Afrika. Die blad het binne 10 weke oor die 45 000 lede bereik en fondse het wêreldwyd vanaf Amerika, Brittanje, Europa en Kanada begin instroom.

NC Schoombee sê hy is so dankbaar om te sien dat sy visie wat deur die Here gegee is, posgevat het op die manier wat dit geskied het. “Die mense op voetsoolvlak is dié wat die verskil maak en ons is dankbaar teenoor al die lede van ons blad wat hande uitgesteek het om te help.” Die groep doen ook ‘n beroep op kunstenaars en bekende persone om hulle gewig saam met die mense in te gooi.

Verskeie boere en vervoermaatskappye hettot dusver gratis hulp gebied aan die groep. “Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrika en die wêreld om hande te vat met ons en nog fondse, voer en vervoer beskikbaar te stel vir ons boere in die ramp,” sê die groep.

“Mense maak die verskil wat die verskil maak. Saam kan ons ‘n verskil maak.’

Boere wat in nood is, asook skenkers, is welkom om met Carina Swartz by die e-posadres boereinnood[by]gmail.com kontak te maak.

Die publiek kan aansluit en help om saam ʼn verskil te maak by die Facebookgroep, Boere in Nood.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.