Dodetal styg na jihadistiese aanval op universiteit in Pakistan

Deel op

Die dodetal in die aanval op die Bacha Khan-universiteit in Charsadda, ongeveer 50 kilometer van die stad Peshawar, Pakistan, het vinnig gestyg toe gewapende mans die kompleks in die militante-streek bestorm het.

Polisie, soldate en spesiale magte het vinnig gevolg en van die grond en uit die lug aangeval om ‘n einde aan die aanslag te maak, het AFP berig.

“Die dodetal in die terroriste-aanval het tot 21 gestyg”, het die streek se polisiebevelvoerder, Saeed Wazir, gesê.
Hy sê die operasie is beëindig en veiligheidsmagte het die gebied opgeruim. Die meeste slagoffers was manstudente in ‘n hostel op die kampus.

Meer as 30 ander, insluitende studente, personeel en veiligheidswagte is gewond, het hy gesê.

‘n Militêre woordvoerder, genl.maj. Asim Bajwa, het op Twitter gesê vier aanvallers is ook in die voorval dood.

Studente het een dosent as ‘n held uitgesonder. Syed Hamid Hussain het volgens berigte teruggeveg en op die aanvallers geskiet in ‘n poging om sy studente te beskerm. Hy is deur die aanvallers raakgeskiet. Pakistan se pres. Mamnoon Hoessein het later bevestig dat die dosent gesterf het.

Van die studente het vertel dat die aanvallers “Allah is groot” tydens die aanval geskree het.

Niemand het onmiddellik verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie. Die aanval het die eienskappe getoon van ‘n Taliban-aanval op ‘n militêre skool in Peshawar in Desember 2014 waarin 150 mense, van wie die meeste kinders was, omgekom het.

Die 2014 Taliban-aanval het die regering genoop om ‘n volskaalse aanslag op ekstremiste van stapel te stuur.

Pakistan se Jinnah Instituut sê in ‘n verslag wat Dinsdag bekend gestel is, dat die nasionale aksieplan gehelp het om ekstremistiese geweld verlede jaar hok te slaan, al het geteikende aanvalle teen godsdienstige minderhede in die Moslem-land van ongeveer 200 miljoen mense toegeneem.

Volgens die verslag was die verbetering veral op die gebied van vervolging weens haatspraak en die inhegtenisneming van terroriste van sektariese organisasies wat godsdienstige geweld aanhits.

Dinsdag het ‘n selfmoordbomaanval in ‘n mark aan die buitewyke van Peshawar die lewens van tien mense benewens dié van die bomaanvaller geëis.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.