Polisie in Windhoek rand witte aan

Deel op

Polisielede verbonde aan die Sentrale polisiekantoor in Windhoek staar klagte van aanranding en brutaliteit in die gesig, nadat hulle glo ’n wit inwoner van Windhoek tydens ondervraging ernstig aangerand het. Die klagte, CR432/01/2016, is by dieselfde polisiekantoor aanhangig gemaak.

Na bewering is die 35-jarige mnr. Marco Bock Saterdagoggend deur polisiebeamptes by die sentrale polisiekantoor in die hoofstad vir meer as ’n uur aangerand.

Volgens Bock is hy vroeër die oggend by die Vredehof-woonstelle in Windhoek vir ondervraging na die polisiekantoor geneem. Die ondervraging spruit glo uit die diefstal van ’n iPad uit een van die woonstelle.

Drie jeugdiges was toe reeds vir ondervraging in een van die polisiebakkies na die polisiekantoor onderweg. Vingers is glo deur hulle na Bock gewys dat hy die skuldige was wat die iPad glo gesteel en onder die Tweelingbrug sou gaan wegsteek het. Die jeugdiges het na bewering die wegsteekplek aan die polisie gaan uitwys.

Die drie jeugdiges en Bock is glo beveel om by die polisiekantoor uit te klim en na die agterkant van die gebou te stap. Na bewering is hulle toe beveel om liggaamlike oefeninge waaronder opstote te doen. Polisiebeamptes het toe glo vir Bock met ’n staalpyp oor sy boude en blaaie begin slaan in ’n poging om hom tot erkenning te dwing dat hy wél die iPad gesteel het.

Na bewering is hy volgens die polisiebeamptes geslaan omdat hulle “die waarheid soek” en hy die jeugdiges sou gestuur het om die inbraak te pleeg. Die beweerde aanranding het sowat ’n uur geduur en het glo gestop toe die polisielede besluit het hy het wel die waarheid gepraat.

’n Mediese dokter het in ’n verklaring ingevolge die strafproseswet bevestig dat Bock kneusings aan sy boude en rug en bloed in sy urine gehad het.

Die woordvoerder van die polisie, insp. Slogan Matheus, kon teen druktyd geen antwoorde verskaf nie.

Bron: Die Republikein

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.