Visekanseliers vra kalmte vir registrasieproses

Deel op

Die visekanseliers van verskeie Gauteng universiteite het by ‘n gesamentlike inligtingsessie ‘n beroep gedoen om wye ondersteuning sodat kalmte by hul instellings herstel kan word.

Hulle het hul kommer uitgespreek oor die ontwrigting van die registrasieproses.

Die vergadering is bygewoon deur visekanseliers van Wits, Universiteit van Suid-Afrika, Universiteit van Pretoria, Tshwane Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Johannesburg en Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit.

Die Universiteite van Suid-Afrika, Wits en Pretoria het intussen hofinterdikte bekom om die verdere ontwrigting van kampusverrigtinge te verhoed.

Die visekanselier van Unisa, Mandla Makhanya sê hy hoop dat ouers in die besonder na vore sal tree. Hy het bygevoeg dat dit noodsaaklik is om die deure van universiteite in Gauteng, die land se ekonomiese sentrum, oop te hou.

Streng veiligheidsmaatreëls sal vandag by universiteite in die provinsie geld.

Die bestuursrade van die instellings sê dit sal die geval bly totdat hulle oortuig is dat dit nie meer nodig is nie.

Die visekanseliers het onthul dat hulle sedert die begin van die Fees-Must-Fall-veldtog tot soveel as twee miljoen rand per maand bestee om sekuriteit op kampusse te handhaaf.

“Ons hulpbronne word spandeer om die lewens van ons studente, personeel te beskerm en om fasiliteite en erfenis wat opgebou is in ons instellings oor dekades te beskerm,” het die visekanselier van die Universiteit van Johannesburg, Ihron Rensburg gesê.

Hy sê die hulpbronne kan op beter maniere aangewend word en bygevoeg dat dit ook nie volhoubaar is nie. Hy het daarom ‘n beroep op die publiek gedoen om toe te sien dat enige betogings sonder geweld plaasvind.

Universiteite is onder beleg sedert Oktober verlede jaar, het Gauteng se visekanseliers Maandag gesê.

Rensburg het gesê Gauteng se universiteite kan nie sekuriteit van kampusse onttrek op dié stadium nie omdat dit hulle kwesbaar maak vir aanvalle.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.