Strenger nuwe Amerikaanse wetgewing rakende die invoer van leeu-trofeë gaan ’n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse toerismebedryf hê.
Dit is volgens Melville Saayman, toerismekenner verbonde aan die NWU se Potchefstroomkampus.
Sy kommentaar aan OFM volg nadat dit bekend gemaak is dat die nuwe wetgewing op 22 Januarie in werking sal tree.
Saayman meen dit gaan ’n direkte invloed hê op die inkomste wat gegenereer word uit jag, veral omdat leeus so gesog vir trofeë is.
“Dis eintlik ons grootste bron van inkomste as jy na enkele items kyk. So dit gaan vir seker ‘n invloed daarop hê. Ek dink wat amper vir my nog meer belangrik is, is die feit dat as Amerika hierdie tipe van aksies loods, het dit gewoonlik ‘n afwentelingseffek op ander lande.
“So ons kan dalk sien dat meer lande so ‘n tipe van reaksie gaan toon, wat dan natuurlik die effek baie groter gaan maak as wat ons dit op die oomblik gaan voel.”