Nathi Mthethwa ‘ontbind’ PANSAT ná jare se ondoeltreffendheid

Deel op

Die ANC-SAKP-minister van kultuur, Nathi Mthethwa het aangekondig dat hy PANSAT summier ontbind. Dié taalwaghond wat deur die grondwet geskep is, die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, is veronderstel om daarop te let dat taalgelykheid in Suid-Afrika geskied. Dit is egter ‘n tandelose waghond want in baie jare het daar geen geluid uit PANSAT gekom terwyl die land sienderoë verengels is nie.

Volgens Lisa Combrinck, woordvoerder van die departement, het “die minister opgetree kragtens artikel 5(5A) van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraadwet nr. 59 van 1995 wat hom toelaat om die raad op redelike gronde te ontbind.”

Volgens Mthethwa was daar “geen gemeenskaplike begrip tussen die departement (van kuns en kultuur) en die raad betreffende wat die strategiese rol die raad behoort te wees nie”.

“Ek het die raad van PANSAT met onmiddellike ingang ontbind. Die ontwikkeling van ons tale en die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika moet versnel word. Die jaar 2016 moet tasbare resultate oplewer. Kom ons begin van meet af aan en tree beslissend op in sake die uitdagings wat PANSAT raak,” sê Mthethwa.

Met die samewerking van die Nasionale Tesourie het Mthethwa die Raad op Nasionale Erfenisraad as die rekenkundige gesag vir PANSAT aangestel om te verseker dat die ontwikkeling van ‘n “omkeerstrategie” geskied en dat dit sonder versuim ingestel word.

Verder stappe sal glo in die loop van die jaar geneem word om PANSAT te “stabiliseer”.

PANSAT was een van die “speelgoedtelefone” wat ná 1994 ingestel is om die indruk te wek dat daar gewaak sal word oor billike behandeling vir Afrikaans, ‘n taal waarteen sowel die ANC as die SAKP histories baie vyandig staan. Mnr. FW de Klerk het dit insgelyks voorgehou as voldoende om die status van Afrikaans te beskerm, maar PANSAT het nog nooit enige stappe teen Engels-eentaligheid in die land geneem nie.

Volgens dr. Dan Roodt van PRAAG, “verteenwoordig PANSAT ‘n jammerlike mislukking, ook van die Suid-Afrikaanse grondwet waarvan die taalbepalings glad nie eerbiedig word nie.” Hy het ook “die reste van die ou Broederbond en NP vir dié stand van sake” geblameer. “Ek sien die stigting van organisasies soos die Afrikaanse Taalraad as niks minder as die voortsetting van die geploeter rondom taal en die status van Afrikaans nie. PANSAT kon veeltaligheid verseker het indien die wil daartoe bestaan het. Nou sal ons self moet verseker dat Afrikaans oorleef, sónder PANSAT en sónder die grondwet wat eintlik ‘n klug geword het. Wat taal betref, verkeer ons reeds in ‘n diktatuur, tans die enigste Engelstalige diktatuur ter wêreld,” het hy gesê.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.