Belastingbetaler vergoed Joodse wapenhandelaar vir bokser se besoek

Deel op

Fikile Mbalula, minister van sport, het die belastingbetaler mislei oor ‘n Amerikaanse bokskampioen se besoek in Januarie 2014.

Dokumente van die departement van Sport en ontspanning wys hoe Mbalula byna ‘n halfmiljoen rand oorbetaal het aan ‘n Joodse familie van wapenhandelaars met Floyd Mayweather se besoek.

Eric Ichikowitz (45), een van die drie direkteure van Frontiers, het geld van die departement ontvang. Sy broer, Ivor, is die stigter en uitvoerende hoof van die Paramount-groep, Afrika se grootste wapenvervaardiger.

Ivor Ichikowitz (48), het besonder noue bande met die ANC.

Beeld het onthul dat die bokskampioen Mayweather deur die Ichikowitz-familie by hul lodge in die Madikwe-wildreservaat getrakteer is en in hul luukse private straler rondgevlieg is.

Zuma het ook verlede jaar en in 2011 met die wapenhandelaar se Boeing na New York en in 2008 na Libanon en Kazakstan gevlieg.

Eric Ichikowitz het by navraag aan Beeld erken hulle het Mayweather in Januarie by die Molori-logde onthaal en ook vir die vlugte soontoe betaal.

Hy het vroeër gesê dit was op versoek van die departement van sport en ontspanning, maar later het hy gesê hy het aangebied om Mayweather te onthaal toe hy van sy voorgenome besoek gehoor het.

EWN het berig Ivor Ichikowitz het die vliegtuig in 2008 verniet aan Zuma geleen.

Sy uitstappie in 2011 het die belastingbetaler egter R6 miljoen uit die sak gejaag, maar die staat het geweier om navrae oor die koste te antwoord.

Die departement sê in dokumente wat aan Netwerk24 verskaf is dat Mayweather se besoek “privaat gefinansier en gereël is” en die departement is net genader om daaraan deel te neem om die “herlewing van boks in die land aan te moedig”.

“Die departement se betrokkenheid was nie deur finansiële bydraes aan die toer nie, maar deur samewerking en gesinchroniseerde programme,” lui die dokumente.

Die departement het onder meer R171 000 van dié geld aan “tafels op die galadinee” bestee. Dit is onduidelik aan wié die geld betaal is omdat die fakture nie verskaf is nie.

Op die fakture staan die betalings aan Frontiers is uit die “Mayweather Tour Budget” gedoen.

Die Ichikowitz-familie se woordvoerder het ook die media probeer mislei oor belastingbetalerfondse.

Richard Glover, besturende direkteur van Frontiers, het verlede jaar by navraag ontken dat die maatskappy vir die departement gewerk of ooit ’n kontrak van die departement losgeslaan het. Hy het gesê Ichikowitz het ’n rol gespeel om Mayweather na Suid-Afrika te bring.

“Eric het ons gevra om te help met die reëlings van sekere dele van die toer. Maar ons het nie vír die departement van sport en ontspanning gewerk nie en het geen kontrak by die departement gekry nie.”

Die Britse koerant, The Telegraph het in 2014 onthul dat die Ichikowitz Family Foundation betaal het vir ‘n veldtog deur die Londense maatskappy Bell Pottinger om president Joyce Banda se aansien onder buitelandse skenkers ná ‘n korrupsieskandaal te herbou. Praag het reeds voorheen hieroor berig in Banda vlieg hoog in straler wat sy kwansuis verkoop het.

Dié skenkers moes opdok sodat die wapenhandelaar militêre toerusting aan Malawi kon verkoop.

Eric Ichikowitz, het bevestig dat hy Bell Pottinger betaal het.

“Die familie glo dat President Banda ‘n invloed ten goede in Malawi verteenwoordig en dat sy strewe om die lewens van alle Malawiërs te verbeter,” het hy gesê.

Die wapenhandelaar het ‘n reeks lukratiewe kontrakte rakende landbou, brandstof en militêre toerusting met Banda se regime aangegaan wat na die verkiesing in 2014 – wat Banda verloor het – heronderhandel moes word.

Malawi is een van die armste lande in Afrika.

Ivor Ichikowitz, wat in die tagtigerjare ‘n dramastudent aan Wits was, het kort ná 1994 ‘n fortuin gemaak toe hy die Weermag en Lugmag se toerusting aan ander lande in Afrika en Suid-Amerika verkwansel het. Hy het onder andere van die Lugmag se Mirage-vliegtuie aan Venezuela verkoop en sodoende groot kommissies verdien.

Lees ook dié berig op die Engelse Praag:

Ivor Ichikowitz now runs biggest defence company in Africa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.