Voedoe in Benin kry politieke kleur

Deel op

Die nasionale voedoe-vakansiedag in die Wes-Afrikaland, Benin het vanjaar ‘n politieke kleur gehad met beoefenaars van die tradisie wat gebid en offerhande vir vrede gebring het, het Reuters berig.

Honderde volgelinge van die tradisionele godsdiens het in die kusdorp Ouidah, eens ‘n belangrike hawe in die slawehandel, byeengekom om vir kalmte te bid voor die presidentsverkiesing wat in Februarie plaasvind.

Benin het nie ‘n geskiedenis van verkiesingsgeweld nie, maar David Kofi Aza, ‘n bekende priester, het verlede maand gesê ‘n orakel met die naam Fa het die dood van tientalle mense in naverkiesinggeweld voorspel omdat die verloorder nie die uitslae sou aanvaar nie.

Aza sê die orakel het nie onthul hoe die krisis afgeweer kan word nie.

By die seremonie in Ouidah het die geestelike leier, Daagbo Hounan Houna II, die dooies gevra om die orde tydens die verkiesing te help handhaaf.

In die binneland in Savalou, die tuisdorp van eerste minister Lionel Zinsou, het priesters en hoogwaardigheidsbekleërs ‘n hoender aan die brand gesteek tydens ‘n seremonie, voordat bloed en palmolie op ‘n fetisj bestaande uit muntskulpe en sand uitgegooi is.

Die verkiesingsveldtog word oorskadu deur omstredenheid oor die regerende party se besluit om Zinsou as kandidaat te stel, ‘n besluit wat deur die uittredende president, Thomas Boni Yayi, goedgekeur word.

Verlede Dinsdag het politici van opposisiepartye vergader vir besprekings oor die moontlike vorming van ‘n koalisie om Zinsou se kanse te belemmer om verkies te word.

Zinsou het sowel Franse as Beninese burgerskap en hy het ‘n groot deel van sy lewe in Frankryk deurgebring. Sy kritici voer aan dat hy ‘n buitestaander is, sonder werklike begrip vir die realiteite van die lewe in Benin.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.