Karel Combrinck: Sondebokke

Deel op

Onlangs is een en ander gesê oor sondebokke. Dit het spesifiek gegaan oor linksliberales, verloopte Afrikaners ingesluit, wat ‘n sondebok probeer soek vir die mislukking van hulle in-sonde-gebore rommelrepubliek en die skuld daavoor te probeer plaas voor die deur van Jacob Zuma. Lesers mag gesien het dat die New York Times, daardie orakel van linksliberalisme, nou ook tot die koor toegetree het met onder meer twee uiters kritiese inleidingsartikels oor Zuma die afgelope twee weke. Die gedagte dat Jacob Zuma soveel verskil kan maak, al is dit in ‘n negatiewe rigting, sou hom waarskynlik tot eer strek.

Die begrip sondebok is so oud soos die mensdom self. So word daar in die Ou Testament melding gemaak van ‘n sondebok op wie die volk sy skulde kon projekteer ten einde hulleself weer witter te kon was as sneeu. Daardie sondebok was aanvanklik natuurlik letterlik ‘n dier, maar met verloop van tyd was sondebokke meesal mense en het die begrip «sondebok» dus die metaforiese betekenis gekry van ‘n mens op wie ander hulle skuld kon pak.

Dit lyk asof daar êrens, diep in die psige van die mens ‘n soort oerbehoefte skuil om sy skuld op iets of iemand anders af te laai.

Die voorbeeld by uitstek van ‘n sondebok was natuurlik Christus self wat aan ‘n kruis gespyker is op aandrang van ‘n histeriese, skreeuende, baarduitrukkende, klereskeurende en as-op-die-hoof-strooiende horde . Soos die aangrypende gedig van Elizabeth Eybers lui wat Praag in sy onlange kersboodskap aangehaal het :

Het jy kon dink, eenmaal sou jy
die hele wêreldskande dra ?

Met hierdie sondebok was die verskil net dat hy homself as offer gebring het en nie iet sof iemand anders nie.

Die vroeë Christene is deur die Romeinse keiser, Nero, die skuld gegee vir die afbrand van Rome waarvoor hy hulle, as straf, voor die voet uitgeroei het. Gedurende die Middeleeue was dit hoofsaaklik sg. «hekse» wat geblameer is as dit nie reën nie, of wanneer oeste misluk, of wanneer ‘n kind in die dorp aan ‘n onbekende oorsaak sterf. In daardie dae was so te sê alle oorsake van sterftes onbekend, sodat «hekse» lustig verbrand en verdrink is.

Die groot sondebokke van die twintigste eeu was sekerlik die Nazi’s asook enigiemand wat deur die linksdekadentes as die Nazi’s se nakomelinge uitgemaak is. Die kommuniste van die Sowjetunie het aan hierdie sondebokstatus ontsnap as beloning daarvoor dat hulle die stryd teen die Nazi’s gevoer het aan die kant van die «Geallieerdes». Vir die grootste gedeelte van die bestaan van die Sowjetunie was akademici, intellektuele en ander linksgesindes, perverses en nuttige idiote in die Weste getroue ondersteuners van die Sowjet-styl-kommunisme en dis eers met die val van die Sowjetunie in die negentigs dat hulle skielik van mening verander het.

Maar dan die ander sondebok van die twintigste eeu: apartheid. Wat het die linkse gepeupel tog veel vreugde gehad aan hierdie «inkarnasie van absolute boosheid» waaraan hulle hul eie morele meerderwaardigheid kon meet. Soos die skrywer Christopher Hitchens (aangegaal deur leon Lemmer in sy artikel oor Moeder Teresa) dit stel : «The most hateful dictatorship of the twentieth century is the vile system of Apartheid in South Africa.» En noudat apartheid iets van die verlede is, nou teer hulle nog steeds op die halfafgeknaagde gebeentes van «onregverdighede uit die verlede» om hulle linkse ideologie ‘n bietjie lyf te gee. Sonder die skrikbeelde van nazisme en apartheid het die linkses moeite om hulleself te identifiseer of selfs die gevoel te kry dat hulle darem bestaan.

Die linkses en hulle nuttige-imbesielmeelopers, die fladderende engeltjies, soek dus nou weer naarstiglik na ‘n nuwe sondebok. Al die ou staatmakers van die verlede is uitgespeel: Hitler se nazisme, Mussolini en genl. Franco se fascisme, Pinochet van Chile en Salazar van Portugal en dr Verwoerd se apartheid en so ook Saddam Hoesein en Moeammar Ghaddafi. En nou is Bachar Al-Assad aan die beurt, maar Al-Assad het Rusland agter hom en dit is ‘n dikkerige kers om af te byt. Die hoofteiken bly nietemin Rusland. Hoe graag sou die Amerikaners en hulle handlangers tog nie van Wladimir Poetin en Rusland ook ‘n sondebok wou maak nie. Dis net dat hulle nou nie juis ‘n lekker argument kry om dit te regverdig nie. Rusland is nie ‘n diktatuur nie en het ‘n demokraties verkose regering. Hulle kan natuurlik Rusland se betrokkendheid in die Krim en in die Oekraïene gebruik maar dis nie heeltemal genoeg om van Rusland ‘n muishond te kan maak nie en trouens is die Russe se ingryping in die hierdie gebiede hoofsaaklik ‘n reaksie op die Amerikaanse program om missielstelsels op Rusland se grense op te rig.

Die jongste is dat hulle Rusland nou begin beskuldig daarvan dat hulle lugaanvalle in Sirië gerig is teen die burgerlike bevolking wat Bachar Al-Assad opponeer. Ons sal maar sien hoe ver kom hulle daarmee.

Maar die Russe het die afgelope tyd ‘n kragtige televisiesender, nl. Russia Today wat die ander kant van die saak stel en dit moeiliker maak vir die linkses om na willekeur oor hulle te lieg. ‘n Kommunikasie-instrument soos dié, is wat ons in die apartheidsdae kortgekom het. (Kyk gerus Russia Today op www.rt.com. Baie interessant.)

Die ware vyand van nasionalisme en volksidentiteit is Amerika en hulle klakkelose napraters aan die universiteite en in die media, waaronder die ou natbroekkrieketbrosjure, DieBurger, en die res van Natpers, die nuttigste idioot van almal. Die Amerikaners is wel begaan oor hulle eie nasionale identiteit. Hulle gun dit net nie aan ander ook nie, want dit staan in die weg van die uitbreiding van die Amerikaanse wêreldimperium. Was dit nie einste Amerika nie wat ten gunste was van die skepping van die Europese Unie en wat nou druk uitoefen om Turkye ook toegelaat te kry, nie om die Europese volkere te versterk nie, maar om hulle te verswak. Die sukses van die strategie kan gemeet word aan die mate waarin die Europese leiers en regerings vandag willoos agter die Amerikaners aanslof, veral wat betref die veldtog teen Rusland. Die nuttige idiote van die verlede was dié wat uit naïwitieit en verwronge humanisme meelopers van die Sowjetkommunisme was. Vandag is hulle dié wat om dieselfde redes Amerika se ambisies ter wille is.

Sonder sondebokke is die linksliberales eenvoudig spookasems . Hulle het weinig substansieels by te dra, benewens ‘n paar afgesaagde humanistiese slagspreuke en dan ook die beledigings waarop hulle enigeen trakteer wat nie met hulle saamstem nie. As daar nie werklik ‘n ideologie van betekenis is waarteenoor hulle kan reageer nie, soos nou, ontstaan aan daardie kant ‘n lugleegte wat onvermydelik deur iets of iemand gevul sal word. Volgens alle aanduidings is regsgesinde nasionaliste en patriotte in Europa vinnig besig om die vakuum te vul. Kyk maar die berig op 3 Januarie dat Geert Wilders nou vir die derde keer die mees gewilde politikus in Nederland is. En dan die moontlikheid van Donald Trump in die Withuis en Marine Le Pen in die Elysée-paleis in 2017. Die linkses moet dus maar net ‘n bietje geduld gebruik. Die nuwe sondebokke is in aantog. Kom ons gaan die Nuwe Jaar met hierdie bemoedigende vooruitsig tegemoet.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.