Vyf olie-opgaartenks brand in Libiese hawens

Deel op

Met die olieprys wat ‘n laagtepunt bereik het, is brandstofbergingsplekke oorvol.

Maar in Libië woed brande tans by die opgaartenks van Es Sider en Ras Lanuf. Twee van die brande is begin toe olie-opgaartenks deur ISIS-mortiere getref is. Die brande het toe na drie ander tenks versprei.

‘n Hawewoord­voerder, Ali al-Hassi, het gesê die wagte wat gemoeid is met die ­veiligheid van petroleumopslagplekke was teen Woensdagmiddag in beheer van die hawens Es Sider en Ras Lanuf, maar dat gevegte met die ­Islamitiese Staat-groep (ISIS) ­voortduur.

Minstens nege wagte is dood en in gevegte Maandag en Dinsdag aan die buitewyke van die hawens is meer as 40 beseer, het Reuters berig.

Die oorskot van 30 ISIS-terroriste is ook gevind. Die wagte het ook daarin geslaag om beslag op twee militêre tenks en ander voertuie van die militante te lê.

Mohamed al-Manfi, ’n oliebeampte in die ooste van Libië sê elk van die brandende opgaartenks bevat tussen 420 000 en 460 000 vate olie.

Es Sider en Ras Lanuf is sedert Desember 2014 gesluit. Die hawens is tussen die stad Sirte wat deur ISIS beheer word en die oostelike stad, ­Benghazi geleë.

Libië is verdeel tussen politieke faksies en ­gewapende groepe wat veg om beheer van die land se olierykdom, vier jaar ná die afsetting van Moeammar Ghaddafi.

Sedertdien het ­olieproduksie afgeneem na minder as ’n kwart van wat dit in 2011 was toe 1,6 miljoen vate per dag geproduseer is.

ISIS het munt geslaan uit die veiligheidsvakuum en sy teenwoordigheid uitgebrei, maar nog nie daarin geslaag om beheer oor olie-installasies in die land te neem nie.

Die ekstremiste het die wagte by Es Sider ook in Oktober 2015 ­aangeval, maar vandeesweek se aanvalle is oënskynlik ’n baie feller en meer gefokuste aanslag op die hawens.

Mustafa Sanalla, die voorsitter van die ­nasionale oliekorporasie (NOC) in Tripoli, het die hoop uitgespreek dat die geweld “politieke leiers aan albei kante in Libië tot die besef sal bring van die omvang van die ­bedreiging wat die land in die gesig staar.”

“Ons moet verenig teen ’n gemeen­skaplike vyand, nie môre of ­volgende week nie, maar nou.”

Die NOC het in ’n ­afsonderlike ­verklaring gesê dit sal alles in sy vermoë doen om ­kontrakte na te kom en Libië se oliebronne te beskerm.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.