Nigeriese opposisie-korrupsie oopgevlek

Deel op

Die waarnemende hoof van Nigerië se hoofopposisieparty, is van korrupsie aangekla het AFP berig.

Hy was die man aan die hoof van oudpresident Goodluck Jonathan se mislukte veldtog om as president herverkies te word.

Haliru Mohammed Bello en sy seun, Abba Mohammed Bello, het Dinsdag in ’n federale hof in Abuja verskyn waar hulle op vier klagte van kriminele vertrouensbreuk en geld­wassery ­teregstaan.

Die twee word aangekla vir hul beweerde rol in die herleiding van geld wat bedoel was om wapens vir soldate te koop wat teen Boko Haram veg.

Die saak hou verband met ’n wyer ondersoek na omstrede wapentransaksies onder Jonathan en sy destydse nasionale veiligheidsadviseur, Sambo Dasuki. Verskeie groot politieke rolspelers is reeds in die ondersoek geïmpliseer.

Bello, die minister van verdediging onder Jonathan vanaf 2011 tot 2012 en tans die waarnemende voorsitter van die Peoples Democratic Party (PDP), en sy seun het na bewering 300 miljoen naira (US$1,5 miljoen) van Dasuki se kantoor ontvang.

Albei die mans het on­skuldig gepleit en die saak is tot Donderdag uitgestel wanneer hulle aansoek om borgtog kan doen.

Dasuki, wat op soortgelyke klagte teregstaan, ontken aantygings dat hy nagenoeg US$2 miljard in vals transaksies vir vegvliegtuie, helikopters, wapens en ammunisie toegeken het, wat nooit gematerialiseer het nie.

Die 60-jarige voormalige weermagkolonel sê alle kontrakte en betalings is deur Jonathan as staatshoof en opperbevelvoerder van die weermag goedgekeur.

Jonathan is in Maart opgevolg deur pres. Muhammadu Buhari, wat sedertdien met ’n omvattende veldtog teen korrupsie begin het.

Die ondersoek na Dasuki het ook meegebring dat die voormalige minister van finansies onder Jonathan en die voormalige goewerneur van die noordwestelike staat, Sokoto ondervra is.

Die stigter van Nigerië se eerste private radio en televisiestasies, Raymond Dokpesi, is vir bedrog en geldwassery aangekla omdat hy na bewering 2,1 miljard naira van Dasuki ontvang het.-

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.