Obama systap Kongres oor wapenbeheer

Deel op

In die jongste pogings deur die Amerikaanse president, Barack Obama, om beter beheer oor ­vuurwapens te verseker, het hy die Amerikaanse kongres gesystap en uitvoerende bevele uitgereik wat ’n bitter stryd in die 2016-verkiesings­jaar van stapel gestuur het.

Met die aanvang van sy laaste jaar in die Wit Huis, het Obama sy rug gekeer op die Kongres se opposisie teen ­eensydige regulerende maat­reëls om vuurwapenverkope te reguleer en ’n einde aan onwettige verkope te maak, het AFP berig.

Die Amerikaanse prokureur-­generaal, Loretta Lynch, sê die maatreëls maak voorsiening vir strenger reëls oor wie as verkopers van vuurwapens mag registreer. Skuiwergate oor vuurwapenskoue word toegemaak wat kopers die geleentheid bied om sonder navorsing oor hul agtergrond vuurwapens aan te skaf. Stappe word ook gedoen om tussengangers vas te vat wat namens iemand anders vuurwapens koop.

Die Pentagon met sy massiewe koopkrag sal ook aangeraai word om slegs wapens aan te skaf by vervaardigers wat “vuurwapenveiligheid-­tegnologie” soos vingerafdruk­skandeerders gebruik.

Obama het die nuwe ­maatreëls in die Wit Huis bespreek. Die maatreëls word skerp deur Republikeine, wat die Kongres beheer, wapen­vervaardigers en vuurwapenentoesiaste gekritiseer, wat aanvoer dit is ’n skending van hul grondwetlike regte.

Nagenoeg 30 000 mense sterf jaarliks in wapengeweld in Amerika, die meeste in selfmoorde.

Gedurende Obama se sewe jaar as president het hy dikwels oomblikke van woede en frustrasie getoon met die Kongres se weiering om strenger beheermaatreëls vir vuurwapens in te stel.

Dit was veral die massa­skietery van skoolkinders in Connecticut, kerkgangers in Suid-Carolina en fliekgangers in Colorado wat die president ontstel het.

Die maatreëls gaan nie so ver as om agtergrondnavorsing van alle mense wat vuurwapens wil aankoop, of die registrasie van die meer as 300 miljoen vuurwapens wat vermoedelik reeds in Amerika is omloop is, voor te skryf nie, want dit sou die Kongres se goedkeuring vereis.

Op die vooraand van sy ­aankondiging het Obama toegegee dat die jongste stappe nie ’n oplossing vir elke geweldsmisdaad in Amerika sal bied nie. Dit sal ook nie ­massaskietery voorkom of sorg dat vuurwapens uit die hande van kriminele bly nie.

“Dit het egter die potensiaal om lewens in hierdie land en families hartseer en pyn te spaar,” het hy gesê.
Deur die beperkte maatreëls en deur alleen teen die wense van die Kongres op te tree, het Obama ’n politieke en wetlike storm ontketen.

Verskeie Republikeinse presidentskandidate en die speaker van die Huis van Verteenwoordigers, Paul Ryan, het Obama beskuldig van minagting van Amerikaners, wat waarde heg aan die grondwetlike reg om hulle te bewapen.

“Ons is almal hartseer oor die ­onlangse misdade in ons land, maar geen veranderinge wat die president oorweeg, sou dit kon voorkom nie,” het Ryan gesê. “Ons het ­herhaaldelik gesien dat die oorsaak van die ­voorvalle swak geestesgesondheid is.”

Republikeine het hulle vir ’n geruime tyd as die beskermhere van vuurwapeneienaars geposisioneer, wat ’n ­betekenisvolle stemblok in baie gebiede van die land uitmaak en deurslaggewend in vanjaar se verkiesingswedloop kan wees.

Obama se planne kan groot druk op van sy Demokratiese bondgenote plaas, wat strawwe verkiesings in die herfs in die gesig staar.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.