Nuwe ANC-wet sal mense tronk toe stuur wat apartheid goedpraat of ‘rassistiese’ taal gebruik

Die ANC in die parlement sê dat hy spesiale wetgewing wil instel om enige gesprek of siening van apartheid wat met dié van sy eie marxistiese geskiedskrywers verskil, strafbaar sal maak. Daarmee saam sal taalgebruik deur blankes wat as “rassisties” geag word, insgelyks strafbaar gemaak word.

In ‘n verklaring gister deur die kantoor van sy hoofsweep uitgereik is, sê die party:

“Die huidige wetlike bepalings is nie voldoende om rassiste te straf en af te skrik nie. As die meerderheidsparty in die parlement, sal ons binnekort die skepping van ‘n spesifieke wet ondersoek of bestaande wetgewing wysig om te verseker dat rassistiese dade of die bevordering van apartheid gekriminaliseer en met tronkstraf strafbaar gemaak word. Ons sal belanghebbendes oorreed en met hulle werk om te verseker dat die parlement so ‘n wet aanvaar.”

 

Die ANC en SAKP beskou die beleid van vorige Afrikanerregerings in Suid-Afrika as “nazisties” en daarom wil hy wette soortgelyk aan dié in Duitsland instel wat dit onwettig maak om selfs net die amptelike siening op ‘n akademiese wyse te bevraagteken. Duitsers wat byvoorbeeld vrae stel oor die spesifieke aantal Jode wat in konsentrasiekampe gesterf het, word summier in hegtenis geneem en tot tronkstraf veroordeel. Selfs advokate en prokureurs wat sulke oortreders in die hof probeer verdedig of om hul vonnisse versag te kry, word in die howe self in hegtenis geneem en summier tot tronkstraf veroordeel. Die advokaat Sylvia Stoltz is in Januarie 2008 tot drie en ‘n half jaar tronkstraf gevonnis omdat sy die holocaust-ontkenner Ernst Zündel in die hof in haar beroepshoedanigheid verdedig het. In Februarie 2015 is sy weereens 20 maande tronkstraf deur ‘n hof in München opgelê omdat sy ‘n lesing teen sensuur in Switserland gelewer het en in die lesing beswaar gemaak het teen Duitse sensuur oor die feite van die tweede wêreldoorlog.

Die ANC beoog nou soortgelyke wetgewing in Suid-Afrika om sy morele gesag op die bevolking af te dwing en enige debat oor “die verlede” wat van sy voorskrifte afwyk, onwettig te maak.

In ‘n duidelike verwysing na die Duitse wetgewing, sê die ANC se hoofsweep:

“Elders word die verheerliking van nazisme en die ontkenning van die holocaust as misdade beskou en oortreders word verhoor en tot tronkstraf gevonnis. Apartheid is deur die Verenigde Nasies as ‘n misdaad teen die mensdom verklaar. Dit het ongehoorde lyding en onreg vir miljoene swartmense veroorsaak, waaronder moord, foltering, die vernietiging van gesinne, teistering en ontvoerings. Enige persoon wat so ‘n stelsel verheerlik, bevorder en vier wesentlik misdade wat teen swartmense gepleeg is.”

Blykbaar kyk die ANC ook na Britse wetgewing wat “aanhitsing tot rassehaat” tot ‘n strafbare oortreding maak. Die Wet op strafreg en openbare orde van 1994 in Brittanje (Criminal Justice and Public Order Act) verklaar “die publikasie van stof wat rassehaat aanblaas” as ‘n oortreding wat met tronkstraf strafbaar is. Garron Helm, ‘n Britse “trol” wat die parlementslid van die Arbeidersparty, Luciana Berger, as ‘n “kommunistiese Jodin” op Twitter beskryf het, het ‘n ligte vonnis van vier weke tronkstraf in Oktober 2014 ontvang. Strawwe vir anti-Semitiese uitlatings in Brittanje het egter intussen swaarder geword, want die Times of Israel het verlede maand berig dat nog ‘n jong Brit, Joshua Bonehill-Paine, tot meer as drie jaar tronkstraf gevonnis is vir ‘n pamflet oor ‘n anti-Joodse betoging wat hy versprei het.

 

Die ANC se reaksie volg op die uitlatings deur Penny Sparrow en Chris Hart wat vanweë verspreiding op Twitter en Facebook oor die afgelope paar dae voorbladnuus in Suid-Afrika was.

Volgens die kantoor van die ANC se hoofsweep,

“…is dit helder uit dié voorvalle dat daar steeds elemente bestaan wat weerstand bied teen pogings ten gunste van rasse-eenheid en onvermoeid werk om die rasseverdelings en -spanninge te vergroot wat deur apartheidverdrukking geskep is, meer as 21 jaar na die koms van ons demokratiese bedeling wat op die edele beginsels van vergifnis, versoening en genesing in die belang van ‘n verenigde, nie-rassige, nie-seksistiese en voorspoedige SA gegrond is.

“Ons kan nie langer sulke verontmenslikende oortredings, waar die swart meerderheid soos submenslikes behandel word en as ape, bobbejane en ander beledigende rasseterme in hul geboorteland getipeer word nie.

“In die konteks van ons pynlike verlede, moet rassisme en apartheid as ernstige menseregteoortredings beskou word wat met tronkstraf gestraf behoort te word.”

Regskenners met wie PRAAG gesels het, meen dat, indien die ANC se voorgenome wetgewing aanvaar word, sou die roman Disgrace deur die Nobelpryswenner J.M. Coetzee moontlik verbied word weens die negatiewe voorstelling van swartes daarin, terwyl die geskiedkundige prof. Hermann Giliomee tronk toe sou moes gaan vir sy artikels waarin hy aantoon dat Bantoe-onderwys nie so sleg was as wat algemeen aanvaar word nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.