PRAAG: Skorsing van Chris Hart ‘n ernstige aanslag op spraakvryheid

PRAAG het met ontsteltenis kennis geneem van die skorsing van mnr. Chris Hart deur Standard Bank vir die volgende twiet wat hy in sy persoonlike hoedanigheid gepubliseer het:

Hy het hom ook oor die hoë werkloosheid in die land uitgelaat, wat binne sy beroepsveld val.

Sy skorsing geskied ná ‘n veldtog op sosiale media teen mnr. Hart en wat niks minder as ‘n heksejag was nie. Die towerwoord “rassisme” is weereens ingespan om hom te beledig en verdag te maak. Diegene wat teen hom uitgevaar het en selfs doodsdreigemente gemaak het (sien die prent hierby, sal vir seker nie deur hul werkgewers geskors word nie.

Die Suid-Afrikaanse Grondwet, hoewel gebrekkig, waarborg spraakvryheid vir elkeen, asook verskeie internasionale verdrae wat deur die Suid-Afrikaanse regering onderteken is. Daarom is ‘n gesprek oor die ekonomie, die oordrewe rol wat aan “apartheid” en die “apartheidserfenis” toegeken word, deel van die openbare debat in die land waaraan elkeen behoort te kan deelneem sonder dat hy of sy aan strafmaatreëls onderwerp sal word.

Die oplaaiende histerie in Suid-Afrika en wat veral op Twitter en Facebook tot uiting kom, voorspel niks goeds vir die toekoms nie. Oor jare heen is ‘n revolusionêre klimaat deur joernaliste, akademici en politici geskep waarvan die huidige onverdraagsaamheid maar net een simptoom is. Veral die hoofstroommedia en hul redakteurs wat self vrylik aan veldtogte op Twitter deelneem, behoort die hand in eie boesem te steek en hul af te vra waarmee hulle besig is deur telkens enige kritiese of dissidente stemme te stigmatiseer of as “rassiste” te belaster.

PRAAG doen ‘n beroep op Standard Bank om sy besluit in heroorweging te neem en mnr. Hart toe te laat om sy redelike menings uit te spreek.

Nie net is die heksejagte van MGK’s (maatskaplikegeregtigheidkrygers) op sosiale media besig om die politieke klimaat in die land te vergiftig nie, maar dit hou ook ‘n wesentlike gevaar vir skeppende en akademiese vryheid in. Navorsers, historici, skrywers en kunstenaars sal naderhand glad nie meer voorstellings mag publiseer wat nie met ‘n bepaalde stelletjie dogmatiese, ekstreemlinkse en afrosentriese stereotipes oor Suid-Afrika ooreenstem nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.