Dan Roodt: PRAAG se doelwitte vir 2016

Deel op

Hier aan die begin van die skrikkeljaar 2016 is dit waarskynlik ‘n goeie idee om te besin oor wat ons bereik het en nog steeds moet bereik. PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, is in 2000 gestig en is dus letterlik ‘n “millenniumbeweging”.

Wat is PRAAG? In ‘n neutedop is dit vier dinge: ‘n dinkskrum, ‘n versets- of protesbeweging, ‘n lede-organisasie en ‘n uitgewery. Laat ek elkeen om die beurt behandel wat welslae betref, waarna ek ons volgende doelwitte insgelyks sal stel.

Dinkskrum

As dinkskrum (Eng. “think tank”) het PRAAG eintlik skouspelagtige suksesse behaal. In die negentigerjare het sowel die ou NP as die ANC-SAKP besluit dat “nasiebou” die enkele belangrikste sosiopolitieke doelwit in Suid-Afrika is. Engels sou die taal van “nasiebou” wees en daarom moes Afrikaans en die Afrikaner verdwyn. Die gedagte van ‘n hernieude Afrikaanse taalstryd en die vernuwing van die Afrikaneridentiteit het vanuit die staanspoor hewige teenkanting, veral uit die geledere van Naspers, ontlok.

Ook die DA is tot nasiebou en die “oplossing” van die Afrikaner binne ‘n “verenigde” Engelstalige “nasie” verbind. Daarom het ons die term “ANC Lite” geformuleer om die begripmatige verwantskap van die DA en die ANC-SAKP uit te druk. Hierdie term het stadigaan inslag gevind en word vandag selfs in die Naspersmedia gebruik. Hoewel die DA steeds steun by die stembus van Afrikaners geniet, is hul nasieboubegrip doeltreffend afgetakel en bespotlik gemaak.

Oor die afgelope anderhalf dekade het ons voortdurend die taalkwessie in die openbare gesprek ingedra sodat Afrikaans en die posisie van die taal vandag een van die ANC-SAKP-bewind se grootste kopsere geword het. Ander organisasies soos Solidariteit en Afriforum het ons hierin gevolg en daar is selfs nuwe verenigings soos die Afrikaanse Taalraad onder prof. Wannie Carstens gestig in ‘n poging om ‘n “beheerde opposisie” tot stand te bring en ons invloed te neutraliseer. Dit was egter ‘n mislukking en die ATR en soortgelyke instellings beskik oor min of geen geloofwaardigheid sover dit die bevordering en handhawing van Afrikaans betref nie.

Die derde groot idee wat ons as dinkskrum verdedig het, was die Westersheid of Europeesheid van die Afrikaner. Tesame met die smeltkroesgedagte van ons vyande, dat ons as volk moes verdwyn en geassimileer word – wat eintlik ‘n vorm van volksmoord is – het hulle die ideologie verkondig dat Afrikaans ‘n “kreoolse taal is” en dat alle Afrikaners eintlik kleurlinge of “kleurlinge-in-wording” is. Leopold Scholtz van Die Burger het dié dogma onomwonde in Die Burger verkondig toe hy gesê het: “Afrikaners en bruinmense moet versmelt.” Hiermee sou ons van ons wortels in Noord-Europa afgesny word sodat ons as ‘n mindere “bastergroep” – want wat is dit anders? – in Suid-Afrika sonder politieke of kulturele regte oorheers sou kon word. Om die teenoorgestelde te argumenteer, dat ons van Europese afkoms is en steeds tot die versameling Westerse volkere behoort, sou kwansuis “rassisties” wees.

Dink daaraan: om te sê dat ons van Nederlanders, Duitsers en Franse Hugenote afstam, is “rassisties”! Nietemin is dit die dogma waarteen ons as dinkskrum te staan gekom het. Vanjaar gaan PRAAG aan twee pro-Westerse kongresse in die buiteland deelneem waar dit as byna vanselfsprekend aanvaar word dat Afrikaners wel en nog steeds ‘n Westerse volk verteenwoordig. Wat die buiteland betref, het ons vir seker daarin geslaag om vriend en vyand te oortuig dat ons geen mindere groepie “kreole” is nie, maar ‘n kleiner Westerse volk wat oor dieselfde bestaansreg as enige ander beskik. Binnelands gaan dit egter nog broekskeur en heers daar uiteraard ‘n groot verwarring by mense soos wat die huidige stelsel uitrafel.

In die vroeë negentigerjare is die ANC-SAKP, wat deur vele moondhede – onder andere die VSA – as ‘n doodgewone terroriste-organisasie gesien is, in Suid-Afrika gerehabiliteer en as “enigste verteenwoordiger van die SA swartman” voorgestel. Vergete was die stedelike terreur, halssnoermoorde en ander vergrype van die ANC-SAKP. Hierteen het ons voortdurend geargumenteer, asook die ware feite gepubliseer sodat die “engelagtige” ANC-SAKP vandag toenemend gesien word vir wat hy is.

Versets- of protesbeweging

Vandat ons reeds vroeg in 2000 betogings en versoekskrifte rondom Afrikaans gehou het, het ons allerlei aksies gevoer. Net verlede jaar het ons beswaar gemaak teen die vandalisering van Oom Paul en ander Afrikanerstandbeelde, onder andere deur ‘n klag by UNESCO in Parys aanhangig te maak. Intussen weier die departement van omgewingsake om ons in Afrikaans te antwoord en alvorens dié internasionale klag kan voortgaan, sal ons eers die reg om in Afrikaans met die ANC-SAKP-bewind te kommunikeer, moet afdwing.

Weens die algemene apatie en willoosheid onder die Afrikanerbevolking, was ons pogings om ‘n breë versetsbeweging te vestig egter minder suksesvol. Anders as in Frankryk of selfs Engeland en Duitsland, is betogings nie eintlik “deel van Afrikanerkultuur” nie. Omdat swartes daagliks oor allerlei kwessies betoog, word dit moontlik as “swart gedrag” ervaar en is daarom nog minder gewild.

Deur strategiese petisies – soos oor die taalmedium van die Universiteit van Stellenbosch – en ander minder openbare optrede, slaag ons egter steeds daarin om ons stem te laat hoor.

Lede-organisasie

Die mees suksesvolle Afrikaanse lede-organisasies wat tienduisende lede werf, geniet die steun van die hoofstroommedia soos Naspers en die SAUK. Slegs die ATKV en die Soliforum-groep kon die afgelope jare daarin slaag om ‘n groot aantal betalende lede te werf. Hoewel ons dankbaar is vir almal wat ons al jare lank getrou ondersteun, sou ons veel meer kon gedoen het indien ons oor ‘n groter ledebasis beskik het. Die hoop beskaam nie dat dit in die nabye toekoms mag verander soos wat mense besef watter sleutelrol ons in die oorlewing van die Afrikanervolk en Afrikaans speel nie.

Die sogenaamde “groot kultuurorganisasies” speel die rol van ‘n “beheerde opposisie” en daarom word hulle deur die SAUK en ander media wat direk deur die ANC-SAKP beheer word, vorentoe gestoot ten einde die werklike pro-Afrikaanse groeperings soos ons onskadelik te stel. Ons het egter grotendeeels daarin geslaag om, enersyds, nie binne die “beheerde opposisie” gekoöpteer te word nie en, andersyds, om sonder die steun van die ANC-SAKP-gesinde hoofstroommedia ons steun en invloed aansienlik – ook via die sosiale media – uit te brei.

Uitgewery

PRAAG publiseer elke dag twee aanlynkoerante, praag.co.za in Afrikaans (ons hooffokus) en praag.org in Engels (vir buitelandse lesers) met nuus en menings. Daarbenewens gee ons boeke, beide fiksie en nie-fiksie, uit.

Daar is min webblaaie en uitgewerye wat sestien jaar lank oorleef. Nietemin het ons dit reggekry omdat ons oor ‘n baie samehangende pro-Afrikaanse (en pro-Afrikaner-) redaksionale beleid beskik. Wat ons boeke betref, dra ons uniek by tot die Afrikaanse geesteswêreld met idees en voorstellings wat verrykend, prikkelend en selfs uitdagend is.

Binnekort sal praag.co.za oor 19 000 Afrikaanse artikels beskik en 6 000 op praag.org, wat ‘n totaal van 25 000 uitmaak.

Sonder ons aanlynteenwoordigheid en boeke wat in die meeste boekwinkels dwarsdeur die land beskikbaar is, sou ons nie soveel welslae as dinkskrum en meningsvormer kon behaal nie.

Meer as dit: PRAAG is besig om ‘n groot bydrae tot die vernuwing van die Afrikaneridentiteit in dié nuwe millennium te lewer. Dit is broodnodig, want ons is vandag ‘n verstrooide volk wat regoor die aardbol woon en dikwels net via die internet met mekaar verbind word. Selfs binne Suid-Afrika het ons nie meer soos voorheen ‘n Afrikaanse gemeenskapslewe waar ons ons taal en kultuur kan uitleef nie. Nee, die vyandige owerheid beskou ons as ongewenstes wat hy na willekeur mag hiet en gebied en waarvan hy die identiteit moet aftakel.

Nou, meer as ooit het ons u steun nodig.

In 2016 wil ons die volgende doelwitte bereik.

As dinkskrum wil ons voortgaan om deel te neem aan die internasionale gesprek met Europeërs en Amerikaners om hulle op die belang van Suid-Afrika as strategiese onderdeel van die Westerse beskawing attent te maak. Ons het bepaalde lande met meer regse regerings geïdentifiseer met wie ons konstant in verbinding wil bly. Moontlik ontvang Afrikaners steun vanuit die buiteland; dis nie iets waarop ons kan reken nie, maar ons moet aanhou om ons saak op ‘n intelligente en uitgesproke manier te stel, sonder die politieke korrektheid van ‘n ATKV, ‘n Soliforum of ‘n ATR.

Dan wil ons voortbou op ons geslaagde aftakeling van die heersende ideologie en dogmas, en hulle verder met argumente en slagspreuke beveg. Witskuld, Afrikanerondergeskiktheid, die voorrang wat Engels op alle gebiede moet geniet, dít alles is in ons visier. Op die duur moet die legitimiteit van die ANC-SAKP-bewind, asook die ‘94-oorgawe as sodanig, in die gedrang kom. Deur middel van artikels en boeke konstrueer ons die teenargument en -diskoers.

As versetsbeweging moet ons vanjaar meer sigbare weerstand begin bied, sonder om die wet te oortree. Baniere en slagspreuke moet op openbare plekke sigbaar raak. Ons kan heelwat leer by die patriotiese versetsbeweging wat tans in Wes-Europa aan die gang is, veral die jongmense wat op verbeeldingryke maniere betoog en bewusmaak.

Wat hofsake betref, gaan ons vanjaar een of meer strategiese hofsake oor Afrikaans voer. Die onhoudbare toestand waar die grondwet kastig “elf amptelike tale” voorhou, maar net een gebruikstaal in die staatsdiens, die howe en elders gebruik, moet op die spits gedryf word. PRAAG is die enigste Afrikaanse kultuurorganisasie wat oor die nodige kundigheid (en die wil!) beskik om dit te kan doen. Op sy minste gaan Afrikaans weer ‘n amptelik erkende taal word; op sy beste gaan dit ‘n grondwetlike krisis ontketen as die Engelse regters van die Engelse Grondwethof in Johannesburg óf gekke van hulself maak óf die ongewilde uitspraak gaan lewer dat Afrikaans wel gelyke status met Engels behoort te geniet. So ‘n taalsaak gaan regstellende aksie en rassevoorkeure insgelyks in die gedrang bring.

Ons moet vanjaar ook ‘n groot aantal aktiewe lede werf wat ons in die stryd kan bystaan. Een rede waarom die NP-Broederbond-NG-Kerk-driehoek destyds soos ‘n kaartehuis in duie gestort het, was weens ‘n gebrek aan betrokkenheid op voetsoolvlak. Duisende Afrikaners moet regstreeks by ons stryd betrokke raak en elke dag daaraan werk om die huidige orde te verander. Ons moet ons rûens keer op die “beheerde-opposisie”-organisasies wat liefs ander Afrikaners beveg as wat hulle die ANC-SAKP en ons baie ander vyande teëgaan. Dan sal ons heel gou sommer baie sterk raak.

In die eerste ses maande van vanjaar wil ons vyftien nuwe boeke uitgee waarvan sommige grondverskuiwend moet wees, sowel fiksie as nie-fiksie. Hou gerus dop hoe dié boeke een na die ander verskyn en ondersteun ons asseblief deur van hulle te koop, maar ook u vriende en familie daarvan te vertel.

Ons is vol vertroue dat Afrikaners binnekort weer vry sal wees; selfs die pleitbesorgers vir die huidige orde gee toe dat hy wankel. Maar wat kom hierna? Dink ons genoeg daaraan? Kan ons ons saak beter stel as die vorige geslag wat dit hopeloos gedoen het toe dit destyds saak gemaak het? Dis nie nou die oomblik om te laat slaplê nie!

Raak betrokke en sluit aan!

Mag 2016 ‘n keerpunt in ons geskiedenis word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.