Karel Combrinck: Pouse en pape

Deel op

As ek dink aan God, dan dink ek aan misterie.
As ek dink aan Christus, dan dink ek aan lig.
As ek dink aan die kerk, dan dink ek aan skemer.

Onlangs was daar op Praag ‘n interessante bespreking oor die heiligverklaring van Moeder Teresa en oor die Katolieke Kerk in die algemeen. Daar was ook verskeie kommentators wat menings gelig het oor die rol van die Anglikaanse kerk, veral in Suid-Afrika, wat ‘n interessante en belangrike onderwerp op sy eie is. In hierdie stuk sal ligweg aan die Anglikaanse kerk geraak word, hoewel die onderwerp eintlik ‘n boek verdien.

Vir die grootste deel van sy geskiedenis was en is die kerk ‘n siniese en sinistere handlanger van geld en politiek. Dis ‘n mondvol, wat ook ‘n boek werd is. Kom ons beperk ons maar hier tot enkele situasies.

In die jaar 313 is die Romeinse keiser, Constantyn, sogenaamd tot die Christelike geloof «bekeer». In werklikheid was dit sy oogmerk om die Christelike kerk wat in daardie stadium reeds ‘n magtige organisasie was, te koöpteer en deel te maak van sy eie magstruktuur. Uit die staanspoor het magspolitiek dus reeds ‘n wesenlike deel uitgemaak van die aard en rol van die Christelike kerk. Trouens kan gevra word of die kerk reeds in daardie vroeë stadium nog inderdaad «Christelik» was.

Spoedig na die «bekering» van Konstantyn het die kerk ‘n onmiskenbare deel begin uitmaak van die magspolitiek van die Romeinse ryk en inderdaad ‘n staatskerk geword. Die stert het die hond begin swaai. In sekere sin was die aanvaarding van die Christelike kerk as amptelike staatskerk terselfdertyd ook die doodsvonnis daarvan. Vanaf die «bekering» van Konstantyn tot en met die Franse Rewolusie van 1789 het die prinse van die die kerk, die pouse, die kardinale en die biskoppe vir bykans 1700 jaar in ongekende praal en weelde geregeer en fabelagtige rykdomme versamel, meesal afgepers van die «gelowiges» deur middel van afkoopbriewe en ander obseniteite. Hulle magsposisie het hulle ook met alle geweld beskerm deur duisende vervolgings, martelings, lewendige verbrandings ens., onder meer deur die beywering van die «Heilige» Inkwisisie. En alles, natuurlik in die naam van die Vredevors Jesus Christus. Kan so’n organisasie nog vir die wêreld kom lesse voorlees oor reg en verkeerd!

En wat van die sentrale gedagte van die boodskap van Christus : «My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie»? Wat is katedrale en abdye en Pouse en kardinale en biskoppe en konsilia en sinodes en aandele en beleggings in eiendom anders as ‘n koninkryk van hierdie wêreld?

Kom ons keer vir ‘n kort oomblik terug na Moeder Teresa, wêreldberoemd vir haar toeweiding aan die armstes en ellendigstes van hierdie aarde. Sy het gedurende haar bediening in Kalkutta groot somme geld ingesamel van donateurs en weldoeners die wêreld oor met die bedoeling dat dit moes bestee word aan die armes en ellendiges met wie sy gemoeid was. So min as 5% van hierdie somme het uiteindelik gegaan aan die armes en die res aan die «Institute of Religious Works», die bank van die Vatikaan. Kortom was die beskermengel van die armes ‘n flinke geldmakertjie vir die Katolieke Kerk. Geen wonder sy moet nou ook «heilig» word nie.

In Europa is die kerke op die voorpunt van die druk om immigrante by honderdduisende, selfs miljoene, meesal swartes en moslems, Europa te laat binnestroom. Watter Christelike doel word daarmee gedien? Eerstens is dit ‘n poging om ‘n verwronge gewete te sus met die dwaling dat ons besig is om die «regte ding» te doen, maar duidelik is dat dit die uitwerking het om die groot nyweraars ter wille te wees wat hulle lippe aflek vir al die goedkoop arbeid uit die Derde Wêreld wat op hulle voorstoep aanspoel. Hoe goedkoop daardie arbeid is, sal hulle nog leer. Hans Onrust wys daarop dat daar miljoene werkloses in Suid-Europa is wat die Duitsers kan invoer om in hulle fabrieke te werk, maar hierdie Suid-Europeërs sal hulle natuurlik ‘n bietjie meer moet betaal as vir die toestromers uit die Derde Wêreld .

Maar ons wou eintlik iets sê oor die Anglikaanse Kerk. Ons blaai die geskiedenisboek ‘n bietjie terug. Tot in die middel van die sestiende eeu was die Church of England gewoon die Katolieke Kerk met die pous aan die hoof. Die breuk met die Katolieke kerk het gekom toe Pous Clemens in 1534 geweier het om die egskeiding van Hendrik VIII met die katoliek, Katarina van Aragon, te erken. Daarop het Hendrik VIII besluit om alle verbintenisse met die Pous te verbreek. Van belang is om te weet dat die breuk met die Katolieke Kerk nie op teologiese gronde plaasgevind het nie maar op suiwer politieke gronde. Hendrik VIII was trouens ‘n stoere Katoliek wat die protestantisme vervolg en onderdruk het.

Die breuk tussen die Anglikaanse en die Katolieke Kerke het dus in die tyd van die Protestantse reformasie plaasgevind, maar dis net toevallig en het niks daarmee te doen nie. Die Anglikaanse Kerk is in baie opsigte nog steeds ‘n Engelse Katolieke kerk met ‘n haas identitiese liturgie. Weliswaar het daar met verloop van tyd genuanseerde verskille tussen die twee kerke ingetree, soos bv ‘n mindere rol vir die Maagd Maria in die Anglikaanse Kerk, maar die kern van die geskil met die pous was Hendrik VIII se herhaaldelike egskeidings en huwelike – vyf vrouens na Katarina van Aragon , ‘n soort Jacob Zuma van ouds dus, behalwe dat hy darem nie al ses vouens gelyk gehad het nie.

Na die uitval met die Pous het die Church of England die amptelike staatskerk van Engeland geword met Hendrik VIII aan die hoof. Die Church of England is vandag steeds die staatskerk van Engeland en die Britse monarg is vandag nog die hoof daarvan. Dis daarom dik vir ‘n daalder dat die Engelse pers ens. so graag na die NG Kerk verwys het as «an official church» en «the National Party at prayer». Van die 42 aartbiskoppe en biskoppe van die Anglikaanse kerk het 26 sitting in die House of Lords. Hulle word genoem die «Lords Spiritual» . Hulle het dus hul eie situasie netjies op ons geprojekteer. Die Church of England is die Conservative Party at prayer. En moenie vergeet nie, dit was die Conservative Party wat die oorlog teen ons gevoer het. Die Arbeiders (Sosialiste) was daarteen gekant.

Dít, vir sover dit politieke mag aangaan. Op materiële vlak bestuur die Anglikaanse kerk ‘n beleggingportefeulje van agtduisendmiljoen pond . ‘n Mens kan maar net wonder hoeveel daarvan het hulle uit die goudmyne in Suid-Afrika gemaak.

Maar dit is natuurlik ‘n druppel aan die emmer vergeleke met die fortuine van die Katolieke Kerk. Die Katolieke Kerk besit onberekenbare rykdomme wêreldwyd. Onberekenbaar eerstens vanweë die geheime aard van hulle finansiële bedrywighede (hulle is in Amerika bv. nie aan die gewone wetgewing en finansiële beheer onderworpe wat op finansiële instellings van toepassing is nie) maar ook onberekenbaar weens die ontsaglike omvang daarvan. In sy boek The Vatican Billions van 1983 stel die Amerikaanse skrywer en fislsoof Avro Manhattan dit onder meer soos volg: «The Catholic church is the biggest financial power, wealth accumulator and property owner in existence. She is a greater possessor of material riches than any other single institution, corportion, bank, giant trust, government or state on the globe». Wat dit alles met die Christendom te make het, sal net hulle weet.

Trevor Huddleston, wat homoseksueel was, is dikwels saam met swart kinders afgeneem
Trevor Huddleston, wat homoseksueel was, is dikwels saam met swart kinders afgeneem

Ons keer terug na die Church of England. Vanaf die vroeë dae van ons geskiedenis het die Anglikaanse kerk sendelinge gebruik om propaganda in die buiteland teen ons te maak. In die Anglo-Boereoorlog was hulle nogmaals op die voorpunt van die poging om die Afrikaner te vernietig . As ‘n mens in gedagte hou dat hulle die amptelike kerk van Engeland was met koningin Victoria aan die hoof, is dit nie moeilik om dit te verstaan nie. Ook is dit maklik te verstaan dat Nelson Mandela van die Anglikaanse Biskop Trevor Huddleston kon sê: «No white person has done more for South Africa than Trevor Huddleston». Wat hy natuurlik bedoel het, is dat geen ander witmens meer gedoen het nie om swartes aan die mag te bring.

Waar was die Church of England terwyl die Britse imperiale magte besig was om twee boererepubliekies te vermorsel ten einde hulle kloue op die Suid-Afrikaanse goudmyne te kon lê? Waar was die Anglikaanse kerk terwyl duisende vrouens en kinders in interneringskampe gesterf het as direkte gevolg van daardie plunderpolitiek? Besig om iewers, hand op die hart, ‘n swartetjie uit te snuffel wat na bewering deur ‘n wrede boer mishandel is sodat hulle anti-Afrikaanse propaganda daaruit kon maak? Waar is die Anglikaanse Kerk noudat Suid-Afrika besig is om in die dryfsand van wanbestuur, misdaad en korrupsie te versink? Of gaan hulle ook Jacob Zuma die skuld gee ?

Naasteliefde as politieke ideologie: Trevor Huddleston
Naasteliefde as politieke ideologie: Trevor Huddleston

Die Church of England is ‘n geval by uitstek van ‘n kerk wat naasteliefde omskep het in ‘n politieke ideologie. En die politieke ideologie is eerstens dat Engelse miljoenêrs nog ryker gemaak moet word en tweedens dat swartes ‘n eersgebore reg het om oor wittes te regeer.

Kyk maar na foto’s van Trevor Huddlestone om te sien hoe sy hart klop. My pa het gesê dit lyk of ‘n «Christen» iemand is wat in die kerk sit en sy gesangboek aangee, nie vir die ou sonder gesangboek wat langs hom sit nie, maar oorstap en dit gee vir die een wat aan die ander kant van die kerk sonder gesangboek sit. In die geval van Huddleston moet daardie een ook nog noodwendig swart wees.

Die Engelse sal wil vra, waarom wil julle Afrikaners nou weer teen ons propaganda maak? Maar die antwoord is eenvoudig: julle het nog nooit opgehou om teen ons propaganda te maak nie. Die probleem is net dat die Aftikaners nog nooit geleer het hoe om julle propaganda te hanteer nie. Miskien is dit tyd dat hulle nou begin. Maar hoe kan dit met ‘n Afrikaanse pers wat knaend sappighede plaas oor die Britse koningshuis: hulle verlowings, hulle huwelike, hulle swangerskappe en hulle babas? Babas van die Britse koningshuis is vir die Naspers skynbaar anders as ander babas en verdien spesiale publisitieit.

Trevor Huddleston saam met nog 'n lakei: Cyril Ramaphosa
Trevor Huddleston saam met nog ‘n lakei: Cyril Ramaphosa

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.