Dan Roodt: PK-aasvoëls sirkel om Chris Barnard se skrywerslyk

Deel op

Suid-Afrika, ‘n land wat twintig jaar gelede deur terreur en propaganda verower is en tans alle wêreldrekords vir geweld, misdaad en korrupsie slaan, beskik oor min inheemse kultuur. Daarom, as iemand soos die Afrikaanse skrywer Chris Barnard sterf, daal die polities korrekte aasvoëls in swerms neer om op sy skrywerslyk te kom aas. Immers kan die man nie meer vir homself praat nie en kan jy hom as figuur nou na hartelus polities korrek inkleur.

In beginsel luister ek nie meer na RSG nie, veral vanweë die swak, anglisisme-deurspekte Afrikaans wat die omroepers – op enkele uitsonderings na – praat. Vanoggend skakel ek egter vir tien minute teen my beterwete die stroom op my rekenaar aan om te hoor of enigiemand iets van belang oor Chris Barnard kan kwytraak. Volgens Izak du Plessis van RSG was Chris Barnard “‘n sestiger, een van die skrywers wat Afrikaans uit sy apartheidsdwangbuis kon bevry”.

Is dit die definisie van ‘n “sestiger”, wonder ‘n mens? Helaas kon die sestigers ons nie van die veel groter en versmorende dwangbuis van politieke korrektheid bevry nie! Selfs so ‘n geleentheid wat eerbiedig en apolities benader behoort te word, word deur die ideologiese obsessies van die heersende orde in sy korrupte verskrompeling ontsier. Sy agente op RSG en in die hoofstroommedia prewel soos die sinistere marionette wat hulle is.

Chris Barnard en Katinka Heyns
Chris Barnard en Katinka Heyns

Ek het Chris Barnard nie goed geken nie, hom wel destyds een of twee keer by skrywersgeleenthede ontmoet. Hy was versigtig om nooit aanstoot te gee nie en het vir seker geen duidelike politieke standpunte ingeneem nie. Dit was die geval onder die NP, asook onder die huidige ANC-SAKP. Hoe hy nou as nog ‘n gelukbringer vir marxistiese revolusie of ‘n “anti-apartheidsheld” toegeëien kan word, gaan ‘n mens se verstand te bowe. Trouens, my indruk van hom was dat hy eerder polities konserwatief was: ek herinner my dat hy doer in 1978 rond saam met die uitgewer Bartho Smit met die destydse minister van binnelandse sake – waarskynlik Connie Mulder – oor sensuur gaan beraadslaag het. André P. Brink en ander het histeries daaroor te kere gegaan en hom van “regsheid” beskuldig. ‘n Mens praat nie met die minister nie, want die Afrikanerregering is melaats. Dit was so min of meer die argument. Helen Zille het dieselfde byeenkoms van die Afrikaanse Skrywersgilde as joernalis vir die Rand Daily Mail gedek, waarskynlik om seker te maak dat André Brink vir sy Engelse base luister.

Ek wil nou nie nie hier so voor die man se begrafnis skandes maak nie, maar Breyten Breytenbach het my op ‘n keer vertel dat Chris Barnard en sy eerste vrou Annette in die vroeë sestigerjare iewers in Parys langs swartes in ‘n klas by die Sorbonne of waar dit ook al was, moes sit en daarteen beswaar gemaak het. Dis sekerlik geen skande nie: 96% van alle liberale joernaliste in die VSA woon in hoofsaaklik blanke woonbuurte en wil ook nie te naby swartes kom nie. Dieselfde geld ons eie joernaliste in die hier en nou. Ek noem die Sorbonne-insident net as bewys dat Chris Barnard kwalik ‘n gebore ondersteuner van Joe Slovo en Nelson Mandela was, soos wat RSG en die Media24-koerante hom nou wil uitbeeld.

Hoewel ek baie lief vir Afrikaans is, het ek helaas nie ‘n besondere hoë dunk van Afrikaanse skrywers nie. Daar is of was ‘n paar goeies, waaronder Chris Barnard. Meermale is die Afrikaanse skrywer egter goed, malgré lui, of ten spyte van homself soos die Franse sê. Chris Barnard was so ‘n skrywer. Soos genoem, het hy ‘n tydjie saam met sy eerste vrou  in Parys deurgebring en had ‘n skoot weg van die eksistensialisme. Maar anders as sy Franse tydgenote, was hy geen groot intellektueel wat oor sy werk kon teoretiseer of filosofeer nie. Wat sy romans soos Mahala, Boendoe en die kortverhaalbundel Duiwel-in-die-bos interessant maak, is juis dat hy intuïtief en nie werklik intellektueel of ideologies te werk gaan nie.

Tog openbaar hy ontroerende en diepsinnige dinge oor Afrikanerskap, wat tot dieselfde verbode terrein behoort as Elsa Joubert se lank vergete Afropessismistiese roman, Ons wag op die kaptein (Tafelberg, 1963). (Ek moet dit nog klaar lees, maar was beïndruk met die eerste helfte wat die dilemma van die Portugese inwoner van Angola met sy basterkinders en die bedreiging van swart geweld uitbeeld.) Anders as in die kitsch Angel-Saksiese voorstellings van Afrika (dink maar aan die rolprent met Robert Redford en Meryl Streep, Out of Africa), is die Afrika-bos nie noodwendig ‘n vriendelike plek nie. Trouens, deel van die vervreemding en vereensaming wat sommige van Chris Barnard se karakters ervaar, spruit juis uit die kultuurkonflik en die haglikheid van die onbeskaafde kontinent, die “boendoe”. Allermins polities korrekte temas.

Ek weet nie of daar nog literêre kritici in Afrikaans bestaan nie; waarskynlik is hulle ook reeds weggetransformeer en bestaan daar vandag net ‘n koor jabroers en -susters wat die heersende ideologie beaam om hul joppies op universiteit te behou. Min, indien enige, gaan Chris Barnard baie noukeurig nalees en vir ons interpreteer wat hy werklik te sê had.

Hy was een van ons, iemand wat in Afrikaans geskep het. Net om daardie rede behoort ons hom te eer.

Maar laat ons nie nalaat om ons minagting uit te spreek vir die kultuurloses, die polities korrekte joernaliste en omroepers wat op Chris Barnard probeer aas sonder dat hulle ooit ‘n boek van hom gelees het nie. In hul blinde Boerehaat en angsvallige konformisme verstaan hulle in elk geval niks nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.