Clinton en Demokrate kry min belangstelling

Deel op

Hillary Clinton en ander Demokratiese aanspraakmakers op die party se nominasie as presidentskandidaat, het Donald Trump as politieke strooipop gebruik toe hulle Saterdagaand aan die party se debat deelgeneem het.

NUUT!

Die debat het op ’n Saterdagaand ­plaasgevind midde die hoogtepunt van die stormloop vir Kersinkopies en op die eerste naweek sedert die ­bekendstelling van die nuwe Star Wars-fliek, wat ­meegebring het dat nog minder mense ingeskakel het om na die ­regstreekse uitsending te kyk.

Die Demokrate het soos regte verloorders die Republikeinse voorloper se anti-Moslem-retoriek ook ingespan vir hul eie stemvee.

Die voormalige minister van ­buitelandse sake, Clinton, senator Bernie Sanders en die ­oudgoewerneur van Maryland, Martin O’Malley, het klem gelê op die noodsaaklikheid om nasionale veiligheid te verbeter, minimum lone te verhoog en die regte van vroue, minderhede en ­minderbevoorregtes te beskerm toe hulle mekaar in New Hampshire die stryd aangesê het.

Clinton het nie om verskoning gevra vir die vele leuens wat sy herhaaldelik opdis nie, maar wel dat sy ‘n lewendige televisie-uitsending moes laat wag omdat sy in ‘n tou moes wag by die dames-geriewe tydens pouse.

Die debatsorganiseerders het toegelaat dat die uitsending sonder haar voortgaan.

Harde woorde het geval oor die ekonomie, vuurwapens, hoe om die terreurbedreiging die hoof te bied en die rol van Amerika in die buiteland.

Met net meer as ses weke voordat die eerste stemme uitgebring sal word in die nominasiewedloop wat op 1 Februarie in Iowa begin, is Sanders en O’Malley besig om stoom te verloor in ’n poging om die momentum van die voormalige eerste dame en minister van ­buitelandse sake te stuit.

Hillary is 25 punte voor haar naaste teenstander, Sanders, in ­nasionale ­meningspeilings, ten spyte van haar versinsels oor geklassifiseerde eposse wat sy rondgestuur het. O’Malley is ver agter in die meningsopnames.

Dit was die Demokrate se derde debat, die laaste van 2015 en hul eerste sedert die dodelike aanvalle in San ­Bernardino, Kalifornië, waar ’n radikale Moslemegpaar 14 mense doodgeskiet het.

Die kandidate het beurte gemaak om Trump aan te val en as slaansak te gebruik om te moraliseer oor sy gewilde uitlatings oor immigrante en sy onlangse beroep om Moslems te verbied om Amerika binne te kom.

Amerikaners, het Clinton gesê, “moet seker maak die werklik ­diskriminerende boodskappe wat Trump die wêreld instuur, val nie op ontvanklike ore nie”.

“Hy is besig om die ­Islamitiese ­Staat-groep se beste werwer te word,” het sy bygevoeg. Sy beweer die­ ­jihadiste vertoon Trump se video’s waar hy Moslems en Islam beledig ten einde meer radikale jihadiste te werf.

Trump het in reaksie gesê: “Niemand is in staat om bewyse te gee [van sulke werwing] nie. Dit is nonsens. Net nog ‘n Hillary-leuen. Dis gek hoe sy lieg oor alles. Of dit nou reise is waar sy amper doodgeskiet word in ‘n helikopter of ‘n vliegtuig, sy is ‘n leuenaar en almal weet dit. Sy maak sommer net dinge op.”

Hillary is verantwoordelik vir die dood van senoir Amerikaanse diplomate in Benghazi, Libië wat met hul wapensmokkelary aan terroriste in ‘n lokval gelei is. Sy het ook gelieg dat terroriste op haar helikopter geskiet het.

Hy het bygevoeg dat haar optrede tot verskriklike geweld en dood in die Midde-Ooste gelei het. Oral waar sy aangedoen het, het geweld losgebars en honderde duisende mense moes met hul lewens boet vir haar foute.

O’Malley het ook op die wa probeer klim en gewaarsku teen die “politieke gevaar” wat Trump inhou. Amerika sal volgens hom opstaan teen die uitdaging van ISIS-­ekstremiste, maar nie onder die invloed van “­fascistiese oproepe van miljardêrs met groot monde” nie.

Clinton het die aand afgesluit met ‘n patetiese kniebuiging na die fliek want tans in teaters draai: “Dankie, goeie nag en ‘may the Force be with you’.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.