Dan Roodt: Bloedrivier as ‘n wending in ons geskiedenis

Deel op

Toespraak gelewer op 16 Desember 2015 te Groblersdal.

Die organiseerders van hierdie Geloftefees op Groblersdal het my gevra om eers in eenvoudige taal wat veral die kinders sal verstaan, die geskiedenis van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier te vertel. Eintlik kan ‘n mens die hele verhaal as ‘n sprokie met ‘n baie goeie einde sien, ‘n sprokie wat regtig gebeur het.

Dit begin 200 jaar gelede in die Kaap. Ons oupas se oupas en oumas se oumas, en nog verder terug, het almal gelukkig saamgelewe in groot dele van wat vandag die Wes- en die Oos-Kaap is. Oral waar daar riviere en water was, het hulle geboer, met beeste, skape, koring en vrugte. In daardie dae, dis so rondom die jaar 1790, was die Kaap nog Hollands. Daar is mos so ‘n spreekwoord in Afrikaans: “Dan is die Kaap weer Hollands”, wat beteken: Dan sal dit weer goed gaan. Nie dat die regering van die V.O.C., die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie besonder goed vir die Kaapse burgers en boere was nie, maar ten minste is hulle nie sleggesê en aktief vervolg nie.

In 1806 annekseer Groot Brittanje egter die Kaap permanent. Hier begin die slegte deel van die sprokie. Saam met die Engelse soldate en amptenare kom daar predikante en sendelinge. Hulle hou nie van die inheemse burgers nie en begin dadelik die swartes en Hottentotte teen hulle opsteek. Hulle skryf ook briewe aan die regering in die Kaap en in Engeland waarin hulle leuens oor ons voorouers vertel. Hulle sê hulle is sleg en wreed, diewe en moordenaars. Nie lank nie of ‘n spesiale hof word ingestel, ‘n rondgaande hof om al die Afrikaanse boere te verhoor. Die Engelse sendelinge maak klagtes bymekaar, sommer enige beskuldiging of leuen wat hulle kan uitdink, teen die boere. Hierdie hof word naderhand die “swarte ommegang” genoem. Tot ‘n duisend mense word meesal onskuldig aangekla. Dit was in 1812 en 1813.

In 1815 vind die Slagtersnekrebellie plaas nadat Frederik Bezuidenhout deur soldate doodgeskiet is. Vyf van die deelnemers aan die rebellie word op 9 Maart 1816 opgehang. Eers breek die tou van vier, maar agterna word hulle weer gehang. Veral in die Oos-Kaap word dit al hoe onveiliger weens die grensoorloë. Van 1834 tot 1835 vind die sesde grensoorlog teen die Xhosas plaas. Die Engelse regering in die Kaap wou hulle nie meer beskerm nie. Wat maak ‘n mens as jy onder ‘n vreemde regering so onveilig voel en gedurig aangeval of beroof word? Jy trek weg. Daarom besluit ‘n klomp van die mense om van 1836 af op die Groot Trek te gaan.

So begin die verhaal van Bloedrivier en die Gelofte. Op 5 November 1837 kom Piet Retief in die Zoeloekoning Dingane se hoofstad Umgungundhlovo aan. Die dag daarna, 6 November, onderhandel hy en Dingane oor grond, maar die Zoeloekoning wil eers hê die Voortrekkers moet sy gesteelde beeste by Sekonyela gaan terugkry. Die Voortrekkers wil graag in vrede met die Zoeloes leef, iets wat Piet Retief in ‘n brief aan Dingane skryf.

Piet Retief en sy manne slaag daarin om Dingane se beeste terug te kry en op 11 Januarie 1838 keer hulle met die beeste terug. Op 16 Januarie hou hulle ‘n vergadering en besluit dat Piet Retief en ongeveer 100 weerbare mans die beeste na Dingane sou terugneem. Teen 25 Januarie vertrek Retief-hulle na Dingane se kraal by Umgungundhlovo. Op 3 Februarie 1838 ry Retief en sy manne Umgungundhlovo binne en oorhandig die beeste. Daar word oor die traktaat onderhandel. Teen sononder op 5 Februarie lewer ‘n regiment van jong Zoeloes bekend as die “wildebeeste”, ‘n vertoning en hardloop na Dingaan se kraal toe terwyl hulle dreigliedere sing. ‘n Jong seun wat saam met die Britse sendelinge by die kraal gewoon het, William Wood, verstaan wat hulle sing en waarsku dat Retief-hulle dalk vermoor kan word. Maar dis te laat om te vertrek en die traktaat was nog nie onderteken nie, daarom bly hulle oor tot die volgende dag.

Die volgende dag, 6 Februarie, wou die Voortrekkers net vir Dingane gaan groet, maar eers wil hy hulle vermaak met danse deur sy impi’s. Retief-hulle word gevra om hul wapens buite die kraal te laat. Al hoe nader aan die Voortrekkers dans die impi’s totdat Dingane die bevel skree: “Bulalani abatagathi!” (“Maak dood die towenaars!”). Hierna word al die Voortrekkers grusaam om die lewe gebring.

Dingane stuur duisende van sy impi’s uit om ook die res van die Vootrekkers wat langs die Tugela kampeer, uit te moor. Tydens die nag van 16 tot 17 Februarie 1838 word meer as 500 mense in die omgewing van Bloukrans vermoor, sodat die dorp Weenen later daar aangelê word.

Aan die begin van April stuur die Voortrekkers ‘n kommando uit na die Zoeloes, maar die afdeling onder Piet Uys word op 11 April by Italeni in ‘n hinderlaag gelei. Duisende Zoeloevegters staan uit die langgras op en omsingel die kommando. Piet Uys word swaar gewond. “Red julleself, kêrels maar veg soos manne,” skree hy. Sy twaalfjarige seun Dirkie was reeds besig om weg te jaag op sy perd, maar kyk terug en sien sy vader wat van sy perd afgly. Hy jaag terug, skiet twee Zoeloes, maar word selfs deur assegaaie deurboor en sterf sy aan sy met sy vader. Weens dié heldedaad is Dirkie Uys verewig in die annale van Afrikaanse kinderhelde.

Die maande wat hierop volg is van die donkerste tye in ons geskiedenis. Mense word siek en een van die leiers, Gert Maritz sterf op 23 September. Daar breek ook ‘n brand uit en verwoes een van die laers. Keer op keer probeer die Zoeloes die laers aanval, maar die trekkers slaag daarin om die aanvalle af te slaan.

En dit is nou hier waar ‘n wending intree. Andries Pretorius, wat in die Kaap van die Voortrekkers se moeilikhede gehoor het, snel hulle te hulp. Op 22 November 1838 kom hy by die laer aan en twee dae later, op die 24ste, word hy as hoofleier van die strafkommando teen Dingane aangewys. Pretorius staan nou aan die hoof van 470 man met 64 waens.

Dan, op Sondag 9 Desember word die Gelofte vir die eerste keer deur Sarel Cilliers in die vorm van ‘n gebed afgelê. In moderne Afrikaans lui dit:

“Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook van opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en eer van oorwinning aan Hom te gee.”

Op die aand van 15 Desember word daar by die Ncome-rivier laer getrek. Die nag is mistig en om nie verras te word nie, hang die Voortrekkers lanterns aan lang sweepstokke wat aan die waens vasgemaak is. Die Zoeloes glo dit is geeste en besluit daarom om eers tot die volgende dag te wag alvorens hulle aanval.

Toe die son die volgende oggend op 16 Desember opkom, verdryf dit die mis. Ongeveer 10 000 Zoeloe-impi’s onder Dambuza (Nzobo) en Mhlela storm keer op keer op die laer af, maar tevergeefs. Twee uur lank word daar geveg. Slegs drie Voortrekkers word lig gewond. Die volgende dag tel hulle 3000 dooie Zoeloes rondom die laer. Die water van die Ncome-rivier word rooi gekleur as gevolg van hulle bloed; vandaar die benaming Bloedrivier. As die aantal gesneuweldes in ag geneem word, is dit die grootste veldslag wat daar nog in Suid-Afrika plaasgevind het.

Benewens Kersdag, is Geloftedag seker die mees herdenkte dag in Suid-Afrika. Selfs toe die ANC-SAKP met die hulp van die buiteland die land oorgeneem het, is al ons patriotiese vakansiedae soos Republiekdag of Krugerdag afgeskaf, maar nie Geloftedag nie. Die naam is bloot verander na Versoeningsdag. Wat daarmee bedoel word, dink ek, is dat ons ons met ons lot moet versoen. Op ‘n manier is dit presies die teenoorgestelde van Geloftedag. Versoening is ‘n soort fatalisme, dat jy geweld, oorheersing en jou eie ondergang moet aanvaar. Dit is juis nié wat op 16 Desember 1938 en tydens die aflegging van die Gelofte gebeur het nie. Die Gelofte verteenwoordig ‘n wilsbesluit. Ons sluit ‘n verbond met God juis om ons teen ‘n vyand te verset, nie om fatalisties te aanvaar dat ons uitgemoor gaan word nie.

Vriend en vyand

Die woord “vyand” is nie meer so gewild in Afrikaans nie. Baie mense dink dat ‘n mens in vrede met almal kan saamleef. Dit is egter nie die geval nie. Soos die Duitse regsfilosoof Carl Schmitt gesê het, kies die vyand jóú. Hy verklaar jou tot vyand, sonder dat hy jou daarin ken. Carl Schmitt sê ook dat, indien ‘n volk nie langer tussen sy vriende en sy vyande wil onderskei nie, sal die resultaat nie ewigdurende vrede wees nie, maar anargie en onderworpenheid aan ‘n ander groep wat steeds bereid is om so ‘n onderskeid te handhaaf.

Uit die verhaal van Bloedrivier kan ons sien dat die Voortrekkers aanvanklik, soos Piet Retief dit in sy brief aan Dingane in Oktober 1937 gestel het, “angstig was om in vrede met die Zoeloe-volk saam te leef”. Retief wou nie die idee oorweeg dat Dingane en sy Zoeloes dalk nie die Voortrekkers goedgesind was nie. Selfs toe die seun William Wood waarsku dat hulle doodgemaak gaan word, steur Retief hom nie aan die waarskuwing nie.

Hierteenoor aanvaar Andries Pretorius dat Dingane sy vyandskap op ondubbelsinnige wyse geopenbaar het. Daarom sorg hy dat die Voortrekkers hulle militêr en geestelik op ‘n stryd teen Dingane voorberei. Hierin lê vir ons ‘n belangrike les opgesluit. As ons aan ons onlangse geskiedenis dink, moet ons ons afvra: het Afrikanerleiers soos Piet Retief, die man wat “angstig is om vrede te hê”, opgetree of soos Andries Pretorius? Kan ons sê dat ons nie meer vyande het nie?

Sekerlik nie. Daar gaan nie ‘n week verby dat een of ander joernalis, geestelike of politikus nie sy vyandigheid jeens die Afrikaanse taal, kultuur of Afrikaners self uitspreek nie. Ons land het in baie opsigte in chaos en anargie verval, nes Carl Schmitt voorspel betreffende mense wat nie meer tussen vriend en vyand kan onderskei nie. Dis nie te sê dat alle swartmense of selfs alle Zoeloes ons vyande is nie. Ons weet uit die Voortrekkergeskiedenis dat hulle ná die Slag van Bloedrivier met Mpande saamgewerk het om Dingane se mag te breek. Net so was hoofman Gatsja Buthelezi op ‘n stadium ‘n vriend van die Afrikaner, maar ons leiers het hul rûens op hom gedraai. Oor die afgelope paar weke het koning Goodwill Zwelithini die volgende oor sg. apartheid te sê gehad, soos deur die koerant The Star berig is:

“Die Nasionale Party het ‘n magtige regering met die sterkste ekonomie en weermag op die vasteland gebou, maar toe kom die sogenaamde demokrasie waarin swartmens die vordering van die verlede vernietig. Die geskiedenis gaan swartmense baie streng oordeel aangesien hulle daarin misluk het om op die suksesse van die Afrikanerbewind te bou.”

Die Zoeloekoning het voortgegaan deur te sê:

“Die Afrikaners het my met groot agting behandel. Ek weet nie hoe dit gebeur het dat die Afrikaners my met soveel agting behandel het nie. By die kwaKhethomthandayo-paleis is daar steeds medaljes wat die vorige regering aan my oorhandig het.”

Duidelik beskou die huidige Zoeloe-koning ons as sy vriende. Ná hierdie stellings is hy geweldig in die media aangeval. Geen Afrikanerleier het egter vir hom in die bres getree nie, want ons wil nie meer enige onderskeid tussen ons vriende en vyande tref nie. Julius Malema het al herhaaldelik verklaar dat hy die Afrikaners en veral die boere wie se grond hy wil konfiskeer as sy vyande beskou. Ook hierop reageer ons nie eintlik nie. Volgens Carl Schmitt is alle politiek gegrond op die onderskeid tussen vriend en vyand. Maar die moderne Afrikaner het hierdie onderskeid afgesweer; in Carl Schmitt se terme ontken ons daarmee die politiek. Miskien juis daarom ly ons onder die chaos, misdaad en geweld wat ons teister.

Het dit nie nodig geword dat ons, soos Andries Pretorius, Paul Kruger, JBM Hertzog, D.F. Malan, J.G. Strijdom, H.F. Verwoerd en soveel van ons ander leiers, ‘n onderskeid tussen vriend en vyand tref nie? Dat ons ons vriende in die wêreld met daardie agting en warmte waarvan die Zoeloekoning praat, sal omhels en ons vyande met dieselfde minagting en agterdog sal bejeën as wat hulle teenoor ons koester nie?

Noem dit dan my eerste gedagte om te oorweeg op hierdie 177ste Geloftedag sedert 1838, in die jaar 2015: die onderskeid tussen vriend en vyand. Maar ons moet ook onderskei tussen vriend en vyand in eie geledere. Nog nooit vantevore was die verdeeldheid tussen Afrikaners so groot soos nou nie. Daar is diegene wat die huidige bestel as die finale oplossing vir al Suid-Afrika se probleme beskou. Hulle duld geen kritiek daarop nie. Dan is daar diegene van ons wat heelwat kritiek te lewer het. Ons wys op die teenstrydigheid van ‘n demokrasie wat juis soveel van ons regte van ons wegneem en ons uiteindelik ontkieser. In en rondom Pretoria en Centurion woon daar ‘n halfmiljoen Afrikaners wat nie eens op die stadsraad van hul gebied verteenwoordig is nie, wat nog te sê in die provinsiale regering van Gauteng of die nasionale regering van Suid-Afrika. In geen ander demokrasie bestaan so iets nie, van ‘n hele stad, ‘n hele kultuurgroep, ‘n hele volk wat glad nie op enige besluitneming geregtig is nie! Hoe rym dit?

Maar pleks daarvan om met ons in debat te tree oor sulke kwessies, bestaan daar vandag ‘n sekere tipe Afrikaner wat ons liewer wil sensureer en tot stilswye wil dwing. Ons beskik oor eksterne vyande, maar ook interne vyande wat ten doel het om ons, ons kultuur en ons geskiedenis tot niet te maak.

Benewens hierdie onderskeid tussen vriend en vyand, wil ek ook praat oor wendings in die geskiedenis. In die aanloop tot Bloedrivier kan ons sien hoe die Voortrekkers binne enkele maande ‘n dramatiese afgang en opgang beleef. Aanvanklik is hulle houtgerus, hoopvol en gretig om ‘n nuwe, vrye lewe in Natal te begin. Dan, in Februarie 1838 word hulle baie swaar getref as ‘n reeks massamoorde op man, vrou en kind gepleeg word. Maande lank beleef hulle net een terugslag na die ander, wat die hele groep tot wanhoop moes gedryf het. Maar dan maak Andries Pretorius sy verskyning en verander die omstandighede met ‘n handomkeer. Daar kom ‘n wending, wat ‘n mens selfs ‘n omwenteling kan noem.

Dwarsdeur die geskiedenis kan ons sulke wendinge identifiseer. In die lewe van elke volk is daar swaar en moeilike tye, maar ook goeie tye. Dikwels kom die wending wanneer ‘n mens dit die minste verwag. Net voor dagbreek is dit die donkerste. Vandag beleef ons nogmaals ‘n baie donker tyd, omgewe van vele onsekerhede.

Implikasies van die wending in Europa en Amerika vir die Afrikaner

Ek verstout my egter om te sê dat ons reeds op die vooraand van ‘n wending en ‘n opwindende hergeboorte verkeer. As ons na die geskiedenis van die afgelope paar dekades kyk, kan ons sien dat die oorname van die ANC-SAKP in ons land saamgeval het met die opkoms van die swartmag in die Verenigde State van Amerika, tesame met politieke korrektheid en ‘n ekstreme liberalisme. In Europa weer het al ons stamlande soos Nederland, Frankryk en Duitsland linkse regerings gehad, wat ons, hul kinders en bloedverwante, tot vyand verklaar het. Soos die Nederlandse parlementslid, Martin Bosma in ‘n onlangse boek, Minderheid in eigen land, aangetoon het, het Nederland veral die ANC en SAKP se terreur in Suid-Afrika geldelik ondersteun. ‘n Nederlandse vrou, Heleen Passtoors, het die Kerkstraatbom oor ons landsgrense vervoer. Net so het die Skandinawiese lande soos Swede, Noorweë en Denemarke ons ingeslyks tot vyand verklaar en alles in hul vermoë gedoen om ons deur middel van terreur en propaganda te ondermyn en tot ‘n val te bring. In Frankryk was daar François Mitterand wat veertien jaar lank van 1981 tot 1995 geregeer het en insgelyks alles in sy vermoë gedoen het om die ANC-SAKP in Suid-Afrika aan bewind te bring.

Ek verstout my om te sê dat die NP-regerings ná dr. H.F. Verwoerd se sluipmoord in 1966 nie genoegsaam kennnis geneem het van die nuwe linkse neiging in die Westerse wêreld nie. Die Afrikaner is as vyand aangewys, maar ons het nie gereageer nie. Ons het ons vyande soos vriende behandel en ons vriende soos ons vyande. Daarom het ons in onmag, onsekerheid en wanhoop verval. Vandag hang baie Afrikaners steeds mev. Helen Zille, ‘n geswore vyand van die Afrikaner wat in die verlede terreur teen ons ondersteun het, aan. Ons dans rondom beelde van ons vyande soos die afvallige Israeliete van ouds rondom die beeld van Baäl.

Maar gelukkig staan ons vandag midde-in ‘n nuwe wending. Dwarsdeur dieselfde Westerse en selfs Oos-Europese wêreld wat ons eens so vyandiggesind was, is ‘n nuwe neiging aan die opkom. Sommige noem dit ‘n swaai na regs, of die opbloei van ‘n nuwe nasionalisme in die plek van sosialisme, politieke korrektheid en selfs nihilisme. Daar is ‘n goeie kans dat mnr. Donald Trump aanstaande jaar op 8 November die president van Amerika kan word. Indien dit gebeur, sou dit ‘n swaar slag vir die Amerikaanse liberalisme en die swartmagbeweging wees. In Europa self is regse en nasionalistiese partye sterk besig om opgang te maak: in sowel Nederland as Frankryk ondersteun ongeveer ‘n derde van alle kiesers partye wat deur die hoofstroommedia as regs en selfs verregs getipeer word: die Partij voor de Vrijheid van mnr. Geert Wilders en die Front National van mev. Marine Le Pen. Minder as ‘n week gelede het die Front National net-net daarin misluk om sekere streke in Frankryk met volstrekte meerderhede teen die sentrum-regse party, die Republikeine, in te palm. Een uit twee werkende Franse stem vir die party, asook die meeste jongmense. Mev. Marine Le Pen staan ‘n kans om in 2017 president van Frankryk te word, terwyl mnr. Geert Wilders volgens onlange meningsopnames in die volgende regering van Nederland sal dien en selfs eerste minister kan word omdat sy party tans die meeste steun van almal geniet.

In ‘n land soos Swede wat eens ‘n intense afkeer en haat jeens Suid-Afrika gekoester het, is die Sweedse Demokrate insgelyks besig om opgang te maak en geniet tans die steun van ongeveer dertig persent van alle kiesers. Sowel Pole as Hongarye beskik tans oor nasionalistiese regerings wat teen immigrasie van derdewêreldimmigrante gekant is. Skielik is daar vir Afrikaners weer die moontlikheid van vriende in sowel Amerika as Europa. Al wat nodig is, is dat ons die hand van vriendskap na vele van hierdie partye, groepe en volkere moet uitstrek. Oor die afgelope twee eeue is die Afrikanervolk voortdurend beskou as ‘n Westerse volk wat ‘n belangrike pilaar van die Europese beskawing in Afrika onderhou. Dit was bloot vir ‘n dekade of twee wat enkele lande ons tot vyand verklaar het. Ek verstout my om te sê dat ons binnekort weer in die geledere van die Europese volkere verwelkom gaan word. Die eerste tekens is reeds daar.

Wêreldwyd is daar ‘n pro-Europese beweging, wat Rusland insluit, besig om vorm aan te neem. Anders as in die twintigste eeu toe die Europese volkere mekaar die stryd aangesê en mekaar in twee wêreldoorloë uitgemoor het tydens wat vandag op ‘n blanke burgeroorlog lyk, broer teen broer, heers daar tans ‘n toenadering en waardering vir mekaar. Fransman, Nederlander, Duitser, Sweed, Italianer, Amerikaner, Pool, Rus, Tsjeg en Hongaar sien mekaar vir die eerste keer as vriende raak, al is daar nog linkse en liberale oorlugsugtiges wat ons teen mekaar wil aanhits en konflik wil aanblaas.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd kan die Afrikaner insgelyks vrylik en op gelyke voet deelneem aan dít wat beloof om ‘n tweede Europese hergeboorte of renaissance te word. Watter opwindende tyd beleef ons nie!

Na afloop van die onlangse Franse streeksverkiesing het die vurige en beeldskone jong dame wat op die ouderdom van 22 reeds as parlementslid verkies is, Marion Maréchal-Le Pen, nadat sy die verkiesing net-net verloor het, verklaar:

“Sukses is nie finaal nie; mislukking is nie fataal nie. Dis die moed om aan te hou wat tel.”

Is dit nie ook die verhaal van Bloedrivier en die Gelofte nie? Om in weerwil van aanvanklike terugslae steeds aan te hou.

Soos op 16 Desember 1838 toe die daeraad die onheilspellende mistigheid vedryf het, is die newels besig om te wyk en gaan ons ‘n stralende toekoms tegemoet.

In elkeen van ons leef die drif en die lig van ons manjifieke beskawing, die grootste wat die wêreld nog gesien het.

Soos een van ons groot digters, D.J. Opperman, geskryf het:

“Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om verder deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ‘n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens die ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte, deur die eeue heen,
besef jy is ‘n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.”

(uit: “Negester en stedelig” in Negester oor Ninevé, Nasionale Pers, 1947)

L.W. ‘n YouTube-video van die toespraak, asook die Geloftediens deur ds. Johan du Preez sal oor enkele dae hier beskikbaar wees. Omdat ons dit in hoëdefinisie opgeneem het, neem dit baie lank om op YouTube opgelaai te kry, vanweë Suid-Afrika se stadige internet.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.