Veiligheidsraad aanvaar resolusie teen ISIS-finansiering

Deel op

Ministers van finansies van die 15 lande op die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies, het in New York vergader om ’n resolusie te aanvaar om die finansiering te ontwrig wat die Islamitiese Staat (ISIS) ontvang.

ISIS verkry sy geld deur die verkoop van olie en oudhede asook die invordering van lospryse en ander ­kriminele aktiwiteite.

ISIS is reeds die onderwerp van VN-sanksies ingevolge resolusies wat op Al-Kaïda betrekking het. Die nuwe voorgestelde resolusie, wat deur Amerika en Rusland geborg word, verhef ISIS nou tot op dieselfde vlak as Al-Kaïda.

Terreur is ‘n groeiende bedreiging, ook vir sekere lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Die Amerikaanse minister van finansies, Jacob Lew, wat in die voorsitterstoel was, het vroeër vandeesmaand gesê die ontwrigting van die finansiering van ISIS en die afsny van hul internasionale finansieringstelsel is kritiek om die gewelddadige ­terroriste-groep te bekamp.

Amerika se ambassadeur na die VN, Samantha Power, het Woensdag aan verslaggewers gesê die vergadering is ’n ongeëwenaarde geleentheid om mense byeen te bring wat die tegniese vaardighede het om die geldbronne op te spoor en af te sny, ten einde die ISIS van hul hulpbronne af te sny.

ISIS, ook bekend as Daesh, beheer groot dele van Sirië en Irak, insluitende olie- en gasvelde.

Hulle is ‘n verleentheid vir die Amerikaans-geleide koalisie en magte op die grond Irak omdat hulle strategiese grondgebied beset sonder dat die VSA hulle uitbreiding kon keer.

Al is die resolusie daarop gemik om sommige van ISIS se finansiering van buite af te sny, het Amerikaanse diplomate daarop gewys dat die meerderheid van die ekstremistiese groep se geld van interne bronne af kom, wat moeilik is om te stop.

In die konsepresolusie is die 193 lidlande van die VN gevra om name vir insluiting op die sanksielys in te dien.

Kommer word ook uitgespreek oor die versuim van lande om vorige ­resolusies te implementeer.

Voorts moet ’n verslag binne 120 dae ingedien word waarin weergegee word wat elke individuele land doen om finansiering aan Al-Kaïda en ISIS te stop.

Rusland het tot dusver die enigste suksesvolle lugaanvalle teen ISIS uitgevoer. Die Amerikaanse ywer kom juis na Russiese suksesse teen ISIS.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.