Dit is Donderdag berig dat Barclays, die Britse bank, aktief op soek is na ‘n koper vir sy Suid-Afrikaanse eenheid Absa.
Die Financial Times van Londen het Woensdag ‘n artikel geplaas onder die opskrif, “Barclays wil terugskaal in Afrika”. Die bank is glo besig om sy “lang teenwoordigheid in Afrika te heroorweeg as deel van ‘n hersiening gelei deur Jes Staley, sy nuwe uitvoerende hoof”.
Die artikel beweer dat Staley, wat die leisels in Desember oorgeneem het, vrae het oor die strategiese toepaslikheid van die “groot Afrika-bedryf”, maar dat geen besluit nog geneem is nie.
Die koerant het bygevoeg dat die hersiening “kom nadat beleggersvertroue in Suid-Afrika geskud is deur ‘n besluit van President Jacob Zuma om sy minister van finansies twee keer in minder as ‘n week te verander terwyl die ekonomie onder geweldige druk verkeer”.
Die Rand het vanoggend bestendig op R15.01 teen die dollar verhandel ten spyte van die besluit van die Amerikaanse reserwebank om rentekoerse die eerste keer sedert 2006, met nul-komma-twee-vyf persent te verhoog.
Ekonome het verwag dat die verhoging die Rand verder teen die dollar sal laat daal. Dit volg kort nadat die Rand en Suid-Afrika se ekonomie geskud is deur president Zuma se skielike afdanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene.
Nene is deur David van Rooyen vervang, wat op sy beurt deur Pravin Gordhan vervang is – alles binne die bestek van ‘n paar dae.
Die Johannesburgse Effektebeurs was Woensdag weens die openbare vakansiedag gesluit, maar Amerikaanse en Europese markte het stewiger vertoon ná die rentekoersverhoging.