SA se kernplanne glo reeds goedgekeur

Deel op

Die dagblad Business Day het Maandag berig dat die kabinet verlede Woensdag in die geheim die kernkragplanne goedgekeur het.

Suid-Afrika beplan om tussen 6 en 8 kernkragreaktors van 9 600 MW op te rig teen ‘n geraamde koste van tussen R500 miljard en R1 000 miljard wat sowat ‘n kwart van die land se krag teen 2030 sal voorsien.

Die DA het sy kommer uitgespreek dat die Parlement gesystap is in die besluit om voort te gaan met ‘n kernkragprogram.

Die minister van Finansies, Pravin Gordhan het Maandag egter by ‘n mediakonferensie belowe dat die regering met fiskale omsigtigheid te werk sal gaan in die tenderproses.

Hy het gesê dat daar ‘n formele verkrygingsproses sal wees.

Die DA-woordvoerder, Gordon Mackay sê die besluit is kommerwekkend in die lig van die ekonomiese nagevolge van die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van Finansies.

Mackay sê gegewe die omvang van die projek moes die kwessie in die Parlement bespreek word.

Gordhan wou nie nadere besonderhede oor die kerntender gee nie en dit wil voorkom asof besluite steeds in die geheim geneem sal word.

Daar is glo nog geen uitsluitsel oor die ligging van die sentrales nie.

Die DA vrees dat die Russiese Rosatom voorkeur kry sonder dat daar duidelike tenderspesifikasies bekend is.

In September 2014 het Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, ‘n ooreenkoms in Wene met Rosatom onderteken wat Rosatom toestemming gee om te tender.

Die regering het daarna aangekondig dat ‘n onderneming onderteken is om agt kernreaktors op te rig, maar weens kritiek teruggekrabbel en gesê daar sal ‘n tenderproses wees.

“Die tesourie het volgens ons inligting reeds ‘n koste-ontleding gedoen en bevind die program is onbekostigbaar, maar hulle is aangesê dié bevinding is polities onaanvaarbaar en dat hul model herontwerp moet word,” sê Mackay.

Die tesourie wou glo nie die kostebepaling amptelik bekendmaak nie om die kabinet te keer om met die tenderproses te begin.

Dit is klaarblyklik hoekom Nene afgedank is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.