Etniese geweld woed in Burundi

Deel op

Byna 90 mense is Vrydag dood in geweldpleging in Burundi se hoofstad, in die hewigste gevegte sedert Mei wat op ’n mislukte staatsgreep gevolg het, het Reuters berig.

Ontploffings en geweervuur is Vrydag deurlopend in en om Bujumbura gehoor. Inwoners sê die polisie het die hele dag lyke van slagoffers van die geweldpleging verwyder. Kalmte is weer Saterdag in die hoofstad herstel.

’n Woordvoerder van die weermag, Gaspard Baratuza, het gesê ­gewapende mans het drie militêre basisse in Bujumbura aangeval wat die dag se geweldpleging begin het. Volgens hom is 79 aanvallers doodgeskiet en 45 ander is in hegtenis geneem.

Vier polisiebeamptes en vier soldate is ook in die gevegte dood. Beslag is op wapens en ammunisie gelê.

Die onluste in Burundi het in April begin toe pres. Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy hom vir ’n derde termyn as staatshoof verkiesbaar stel. Dit het skokgolwe deur ’n streek gestuur wat steeds onstabiel is, twee dekades ná die volksmoord in naburige Rwanda.

Vrydag se geweldpleging is deur Amerika en ander Westerse lande veroordeel wat vrees dat die sentraal-Afrikaland terug sou beweeg in etniese geweld.

Tot nou was die skeidslyne in die Burundi-krisis polities van aard. Westerse magte en buurlande vrees egter dat uitgerekte geweld ou etniese skeidslyne in die land met 10 miljoen mense kan trek.

In Burundi se 12-jaar lange burgeroorlog, wat in 2005 geëindig het, het rebellegroepe van die Hoetoe-meerderheid, insluitende ’n groep wat deur Nkurunziza gelei is, teen ’n weermag onder leiding van die Toetsi-minderheid geveg.

Dit is dieselfde etniese samestelling wat in Rwanda tot die volksmoord gelei het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.